Wonderlus

Grensverskuiwend in sy eenvoud

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

As ’n rolprent ’n mens was en dié mens (rolprent) se naam was “Wonderlus”, sou ek dié mens (fliek) só beskryf: Gemaklik in sy/haar vel. Onpretensieus. ’n Bietjie waaghalsig, maar nie op ’n roekelose manier nie. Aweregs en o, só beeldskoon. Hoekom sou ek as resensent menslike eienskappe aan ’n fliek toedig? Miskien omdat dit presies is wat skrywer, regisseur en redigeerder, Johan Cronjé met sy karakters maak. Onder sy pen, vanaf die regisseurstoel en vanuit die redigeerkamer; het hy die karakters gevorm en geslyp om méér te wees as net argetipes. In elkeen van hulle is daar iets wat jy sal herken; en selfs moontlik mee sal vereenselwig.

Ons begin by ’n doodgewone trou-storie. Gaste wat verdwaal op pad na ’n verafgeleë troulokaal (venue), tong-in-die-kies verwysings na die paartjie wat oor die tou trap, en daardie (soms) ongemaklike gesprekke tussen gaste en kennisse terwyl die troufoto’s geneem word. Dit is ’n algemene scenario waarmee die meeste wit Afrikaanses uit die middelklas mee kan identifiseer. Soos een van die karakters tereg opmerk, dit is wat jou te wagte is as jy met ’n Pretoria-Oos girl trou. Maar dan gryp die brúid die mikrofoon. Sy wil wegbreek van die geykte tradisie dat net die bruidegom (en sy seremoniemeester of strooijonker) ’n toespraak kan lewer. Dit draai die hele storie op sy kop. Van daar loop alles skeef (of dalk reg?)

Wonderlus gaan oor verhoudings. Dís die subteks wat Cronjé tussen sonneblomme, en op die grondpaaie van Heidelberg versteek. Want elke karakter het ’n storie om te vertel – of iets uit die verlede om mekaar mee te konfronteer. Maar as jy soos ’n wafferse voyeur (oftewel kyker) gaan afloer op hoe dié verhoudings tussen individue afspeel, moenie verwag dat hulle gaan stop om jou met vervelige eksposisie te voer nie. Hulle ken mekaar mos al jare lank. Dit is jou keuse om by hulle wêreld in te loer. En nes jy by ’n troue jou eie afleidings maak oor wie aan watter tafels sit, watter strooimeisie die mees gewaagde rok dra en of die toekomstige skoonfamilie met mekaar oor die weg gaan kom – moet jy ook hier fyn waarneem om elke karakter se motivering uit te pluis. Maar moenie bekommerd wees nie – met ’n sopie whiskey, skoot tequila of glasie wyn in die hand, is daar oorgenoeg tyd om dié gevolgtrekkings te maak. Selfs miskien genoeg tyd om ’n draai op die dansvloer te gooi.

Met behulp van die skerp, gepasde en gevatte dialoog kom jy mettertyd agter hoe alles inmekaar steek en leer jy elke karakter op sy eie manier ken. Van die twee strooijonkers, Gerrie (die verantwoordelike een) tot Lukas (die avontuurlustige een), wat die gelukkige bruidegom bystaan, tot die bruid en haar gevolg – selfs die vriendin wat as strooimeisie afgedank is en uiteindelik tot haar redding kom. Elkeen van hierdie groep ensemble akteurs: Adam Heyns, Beer Adriaanse, Edwin van der Walt, Mila Guy, Lea Vivier, Simoné Nortmann, Stiaan Smith, Lynelle Kenned, Ansu Visser, Francois Jacobs en Marvin-Lee Beukes, verdien lof vir hoe gemaklik hulle die rolle laat lyk. Ek sou myself absoluut kon verbeel dat hierdie die werklikheid is wat met ’n steelkamera verfilm is.

Dié sogenaamde “steelkamera” behoort aan die kinematograaf, Devin Toselli, wat meer as een pluimpie verdien vir die manier waarop hy die beligting by die atmosfeer laat pas; en veral met die kamera se fokus vir ons wys hoé dronk (of nugter) die karakters werklik is. Deurentyd hou Cronjé se redigering ook die pas egalig, maar effektief aan die gang. Hy mag dalk ʼn bewonderaar van Richard Linklater (van die Before Sunrise-faam) wees, maar ek glo Linklater kan ook ’n blaadjie uit Cronjé se boek neem, soos wat ware kunstenaars van mekaar kan leer. ’n Toneel wat my veral bybly, is een waar die bruidegom (Pieter) in die veld sit, met sy twee vriende, Gerrie en Lukas, wat soos ’n wafferse Engeltjie en Duiweltjie bokant sy skouers uittroon. Dié simmetrie is ’n kunswerk op sy eie.

As al hierdie filosofiese gedagtes of diep mymeringe van my kant af jou dalk laat dink hierdie is ’n kunsfliek, never fear. Want Wonderlus is juis grensverskuiwend weens sy eenvoud. Cronjé wys vir ons met sy woorde, sy regie en sy akteurs se uitmuntende spel, hoe ʼn eenvoudige en selfs onskuldige storie jou kan laat dink – terwyl jy deurentyd giggel en selfs later diep uit jou maag uit lag. Want wie kan nou nie lag as ʼn kelnerin sommer al vier bottels harde drank in een ponsbak gooi nie?
Hierdie is ’n rolprent wat jou óf diep gaan laat dink, óf diep gaan laat wonder waaroor al die bohaai gaan. Maar dit maak nie saak nie. Ek belowe jou jy sal nie onaangeraak uit die teater uitstap nie. En dis waaraar wáre storievertel gaan… Dit laat jou wonder. Oor die lewe, oor die ander mense en bowenal – oor jouself.

Inligting

}

Speeltyd

110 min

i

Teks & Regie

Johan Cronje

Webtuiste

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 D L S

Akteurs

Adam Heyns, Beer Adriaanse, Edwin van der Walt, Mila Guy, Lea Vivier, Simoné Nortmann, Stiaan Smith, Lynelle Kenned, Ansu Visser en Francois Jacobs

Sterre

5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring