Vir Die Voëls “Trou is nét vir hulle…” | Bioskoop

Vir Die Voëls

"Trou is nét vir hulle..."
Film

Film

Info

Regie: Quentin Krog

Teks: Tina Kruger, Sean Robert Daniels en Quentin Krog

Met: Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Lara Kinnear, Bennie Fourie, Nicola Hanekom, Neels van Jaarsveld en Elize Cawood

thefilmfactory.co.za

Gerhard Ehlers

Gerhard Ehlers

Artikel Skrywer

Gerhard Ehlers is ‘n passievolle filmmaker, en het al sedert sy skoolgaan jare die draaiboeke en regie van drie onafhanklike kortfilms behartig. Hy het sy B-Tech graad in Film en Televisie Produksie aan die Tswhane Universiteit van Tegnologie behaal waarna hy op ‘n verskeidenheid televisie en filmproduksies gewerk het as teksskrywer, assisitent regisseur en redigeerder.

Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

Ter viering van Huisgenoot se 100ste bestaansjaar vanjaar, het die tydskryf ’n kortverhaalkompetisie geloods. Sampie en Irma de Klerk se verhaal is gekies om in ’n vollengte rolprent vervaardig te word. En so is Vir Die Voëls gebore.

Dis die jare sewentig en Irma Humpel staan saam met Sampie voor die kansel.

Dan kom die dominee se vraag: “…en beloof jy Irma Humpel dat jy Sampie nooit sal verlaat nie, dat jy hom in liefde sal eerbiedig en help en aan hom onderdanig sal wees, soos ’n Godvresende vrou aan haar man verskuldig is?” Irma lyk in ’n dwaal en trek haar gesig skielik op ’n plooi en uiter: “Ekskuus Dominee, wat is die vraag?”

Van al die verskillende genres wat in Afrikaans vervaardig word, is dit al amper tweede natuur dat die romatiese komedie een van die versekerde genres is wat die meerderheid kykers fliekteaters toe lok. Onlangse mislukkings soos Trouvoete, Somer Son en Sonskyn Beperk het bewys dat hierdie meestal lojale teikenmark deesdae twee keer sal dink voordat hulle hul hard verdiende geld sal uithaal vir wat sommiges bestempel as ’n plaat wat begin vashaak het. Met draaiboeke wat gepeper is met clichés, dieselfde ou mooi gesiggies en onafgeronde karakters, om nie eens te praat van ’n oormaat produkplasing wat die fokus heeltemal verskuif en sommige rolprente na ’n negentig minute advertensie laat lyk nie.

Vir Die Voëls is ’n lekker verrassing wat onverpoos daarin slaag om hierdie ou deuntjie so ’n bietjie op te jazz en weg te breek van die tipiese storielyn. Irma Humpel is amper so uniek soos haar van. Kykers sal haar kan beskryf as eiewys,’n hardekop wat teen die stroom baklei – ’n Margaret Thatcher in wording. In die sewentigerjare lê die meerderheid Afrikaners se waardes diep gewortel in hul volk en vaderland. Vroue maak kinders groot en is doenig in die kombuis, terwyl die mans hulle op die grens bevind. Irma word in ’n gebroke huis groot. Pa, Ivan (Neels van Jaarsveld) is ’n verbitterde alkoholis en verskree en mishandel haar ma, Alta (Nicola Hanekom). Irma ontwikkel van vroegs af ’n renons in mans en staan geensins terug wanneer sy deur die bure se seun, Sampie, geboelie word nie. Net om jare later deur dieselfde Sampie gevra te word om te dans by sy suster, Marieda, se troue.

Irma word gemaklik deur Simoné Nortmann van KykNET se “Hotel”-faam gespeel. Die draaiboekskrywers se besluit om die vierde muur te verwyder, deur Irma direk in die kamera vir die gehoor te laat kyk en haar storie te vertel, terwyl als om haar afspeel, is goed gepas en voel asof die storie nie anders moes of kon vertel word nie. Francois Jacobs, laat kykers ’n sagte plekkie vir Sampie ontwikkel, terwyl hy oor al wat ’n struikelblok sukkel om Irma in te katrol.

Die pasgetroude Marieda en Karel gespeel deur Lara Kinnear en Bennie Fourie, bly ’n mens by lank nadat die kredietrol verby die skerm beweeg. Daar is verseker ook ’n natuurlike “on-screen chemistry” tussen die twee. In sommige sleuteltonele steel hulle selfs die kollig by die twee hoofkarakters, met hulle raakvat humorsin en onblusbare liefde vir mekaar. Die stoute subteks en sekspraatjies is kraakvars en goed gebalanseerd wat dit verhinder om kommin te raak.

Die ondersteunende rolverdeling is uitstekend gekies, en dit is veral die nuwelinge Leandry Smith en Candice Kruger as die jong Irma en Marieda wat ’n bogemiddelde impak in hulle klein verskynings maak. Elize Cawood as ouma Martie wat Irma se rigtingaanwyser en mentor word, kom maklik en gepas in haar rol voor. Die kunsregie voel meestal ongeforseerd en kom natuurlik voor, en laat die kyker werklik voel asof jy terug in tyd gaan na ’n wêreld van oranje, kewers en wyepypbroeke. Die kinematografie trek nie te veel aandag nie en is organies geïntegreer met ander tegniese aspekte soos die beligting en redigering. Krog se regie is gemaklik en ’n mens kry die gevoel dat hy intuïtief eerder as meganies met sy spelers werk. Alhoewel die musiek help om die era te beklemtoon, is daar steeds die oorgebruik van musiek veral om emosie te onderstreep, wat soms pla en die kyker onderskat.

Nietemin is Vir die Voëls ’n romantiese komedie wat bewys dat “not all birds of a feather, flock together”… dié een is eiewys, in eiereg.

Click to accept cookies and enable this content

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami