Vir Altyd

Prinsesse, Paartjies en Perfeksie

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Blou is die kleur van die lug en die see. Volgens Amerikaanse navorsing maak dié kleur mense rustig, want dit reflekteer vrede en stilte. Dit is ook die sentrale kleur op die pallet van die nuwe Ivan Botha en Donnalee Roberts fliek, Vir Altyd. Gedurende die kyk van die fliek was ek stomgeslaan oor hoe goed die kunsregisseur, klereontwerper en kinematograaf saamgewerk het om hierdie kleur perfek op die skerm te laat vertoon. En dis heel gepas, aangesien die meerderheid van die storie op die eiland van Mauritius afspeel, waar dié kleur tekenend van die landskap is.

Die twee hoofkarakters, Nina (vertolk deur Roberts) en Hugo (vertolk deur Botha) bevind hulself op hierdie eiland as deel van Nina se wittebrood nadat haar verloofde haar letterlik voor die kansel gelos het. Die storie wentel dan verder rondom dié twee se ontdekkingsreis dat ʼn huwelik nie oor die perfekte troudag behoort te gaan nie, maar eerder oor die saamwees en kameraadskap daarna, wat weereens perfek deur die toneelspel van een van die ander paartjies op die eiland, Betsie (Elize Cawood) en Paul (Wilson Dunster) uitgebeeld word. Gegewe dié tema, is dit nogal ironies dat die verhaal homself op Mauritius afspeel, die eiland wat eens op ‘n tyd deur Mark Twain beskryf is as “ʼn stukkie hemel” (in Twain se woorde: “heaven being copied after Mauritius”), want elke skoot, elke ligging (“location”) en elke toneel op hierdie eiland is perfek. Miskien net té perfek.

Alhoewel dit asemrowend mooi was om die natuurtonele vanuit lugskote te beskou, het ek soms gevoel of ek eerder besig was om ʼn bemarkingsprogram oor Mauritius op die Travel Channel te kyk. Die bemarkingsmateriaal wat op die televisieskerm van die hoofkarakters se hotelkamer vertoon is, het hierdie gedagte verder onderstreep. Dit gesê, weet die meeste van ons dat dit nie moontlik is om so ʼn duur fliek sonder borgskappe te maak nie en dat elkeen van die beleggers een of ander tyd sy pond vleis op die skerm gaan eis. Juis daarom die groot aantal produkplasings wat veral in die openingstoneel van die fliek verby die kamera flits. In dié opsig was die produkplasing van die hoofvervaardigers se vorige fliek, Pad Na Jou Hart, baie beter gekoördineer om as deel van die storie in te pas.

Ten spyte hiervan is dit ʼn heel aangename ervaring om na Vir Altyd te kyk. Die toneelspel van die ses hoofakteurs (Roberts, Botha, Cawood, Dunster, Ilse Roos en Dirk Stoltz) dra die fliek. Ek het lanklaas in ʼn Suid-Afrikaanse fliek sulke goeie spel van akteurs gesien. Die regisseur, Jaco Smit, verstaan beslis die genre en weet hoe om die beste uit sy akteurs te kry. Daarmee saam beklemtoon elke nabyskoot van die kinematograaf, Tom Marais, asook die gepasde agtergrondmusiek van die komponis, Benjamin Willem, die emosies van die karakters wat die gehoor meevoer met die storie.

Die derde en slotgedeelte van Vir Altyd is beslis vir my die beste deel van die fliek, waarin hierdie emosies uiteindelik uitkom en die gehoor werklik kan sien tot watter toneelspel Roberts en Botha in staat is. Die ervare hand van C.A. van Aswegen sorg met sy redigering en kleurgradering dat die hedendaagse tonele en terugflitse soomloos ineenvloei – en dat die agtergrondverhale van die karakters mettertyd op ʼn spannende manier onthul word, eerder as met “on the nose”-dialoog waarvoor die meeste Suid-Afrikaanse filmmakers so lief is.

Die tema van Vir Altyd word soms te oorweldigend oorgedra met behulp van tegnieke soos die kleintyd-tonele van Nina en Hugo waar hulle met hulle Barbie-poppe trou-trou speel (ironies genoeg dieselfde week waarin Mattel hulle nuwe Barbie-reeks uitbring om met “tall Barbie” en “curvy Barbie” die boodskap aan jong dogtertjies oor te dra dat ʼn mens nie altyd perfek kan wees nie). Nina se kindersprokie-tekeninge asook die blokraaisel wat die ander karakters invul om sleutelwoorde van die tema te onthul, is verdere tegnieke wat gebruik word. Ek is wel bereid om dit te vergewe en anderpad te kyk, omdat die regisseur dit op só ʼn visuele manier uitgebeeld het. Hy verstaan dat Vir Altyd ʼn fliek, en nie ‘n radiodrama is nie.

Die titel van die rolprent asook die loklyn, “in ʼn oomblik” herinner nogal aan die Mel Botes liedjie waarin hy sing “Dalk net ʼn oomblik, of vir altyd, Katryn…” en dis maar net een van die intertekstuele verwysings wat voorkom. Die tonele waarin die jonger Nina en Hugo uit haar pa-hulle se huis deur die venster glip, het my baie aan die soortgelyke tonele in Ballade vir ʼn Enkeling herinner (wat ook deur die produksiemaatskappy The Film Factory gemaak is), terwyl Roberts en die aktrise Laré Birk se dans by die trou-onthaal hulde gebring het aan Kate Hudson en Ginnifer Goodwin se danstoneel in die romantiese komedie, Something Borrowed. En vermy liefs die Hollywood rolprent Couple’s Retreat vir drie maande voor én na jy van plan is om  Vir Altyd te kyk.

Ek sal ’n kyker beslis aanraai om ’n fliekkaartjie vir Vir Altyd te koop, sodat Marais se kinematografie op die grootskerm aanskou kan word. Hy behoort ʼn SAFTA (Suid-Afrikaanse Film- en Televisietoekenning) hiervoor te wen. En indien dit wel gebeur, behoort hy die span agter die skerms te bedank dat hulle met hul fyn beplanning en koördinering dit moontlik gemaak het.

Inligting

}

Speeltyd

105 min

i

Teks & Regie

Ivan Botha, DonnaLee Roberts | Jaco Smit

Webtuiste

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

7–9PG

Akteurs

Ivan Botha, Donnalee Roberts, Elize Cawood, Wilson Dunster, Illise Roos, Dirk Stoltz

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring