Verskietende Ster – Musiek is die hoofakteur | Bioskoop

Verskietende Ster

Musiek is die hoofakteur
Film

Film

Info

Regie: Darrell James Roodt

Met: Deànré Reiners, Hykie Berg, Jana Strydom, Ilse Oppelt, Johan Scholtz, Corine du Toit, Hanlie Rolfes, Hannes van Wyk en Jadene Jacobs

www.faithinmotion.co.za

Dee Theart

Dee Theart

Artikel Skrywer

Dee Theart is ’n veelsydige vermaaklikheids- en mediaslaaf. Haar kwalifikasies sluit ’n BDram-graad en ’n nagraadse kwalifikasie in Vertaling en Redigering in. Sy is die gesig en stem by Silverstar Casino as MC.Verder is sy is ook passievol oor stemwerk en toneelspel. Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

Rolprente wat handel oor musikale genies is nie ’n nuwe verskynsel nie. Dink maar terug aan Shine, Amadeus en August Rush. Verskietende Ster is eers twee jaar na sy verfilming vrygestel en dalk is die tyd inderdaad ryp om ’n rolprent in Afrikaans uit te bring waar musiek die grootste en belangrikste rolspeler is.

Verskietende Ster vertel die storie van die vyftienjarige musikale wonderkind, Phillip Schuman (vertolk deur Deànré Reiners). Alles is egter nie maanskyn en rose in Phillip se lewe nie, omdat sy pa, Tomas (vertolk deur Hykie Berg) sy sukses en vooruitgang as pianis belemmer met sy rigiede vaderlike sienswyses. Philip se ma, Maria (vertolk deur Jana Strydom), is verder ook besig om haar stryd teen kanker te verloor en kan dus nie Phillip aanhou “red” teen sy wrede, obsessiewe pa nie.

Die storie neem ’n wending wanneer Phillip se vakadviseur, Max du Toit (gespeel deur Hannes van Wyk), die eerste keer hom sy eie komposisies hoor speel. Dis daar en dan dat Max besef dat hierdie jong seun oor ’n ongelooflike talent beskik. Max neem Phillip onder sy vlerk, maar Tomas verbied Phillip om ooit weer aan ’n klavier te raak. Die spanning vermeerder tot op so ’n punt dat ’n maatskaplike werker, Dorothy (merkwaardig vertolk deur Ilse Oppelt) se dienste ingeroep word. Die mooiste meisie in die skool (vertolk deur Jadene Jacobs) kom krap Phillip se kop verder deurmekaar en die skoolboelies wil hom nie in vrede laat nie. Tussendeur probeer hy sy passie vir klavierspeel aanvuur, maar sy omstandighede maak dit moeilik tot basies onmoontlik.

Verskietende Ster stel ondersoek in op vele temas en bied verskeie morele lesse – sommiges word egter meer geslaagd as ander opgedis. Die tema van vergifnis is volgens die rolprent se bemarking hulle hoof dryfveer; tog kan die kyker ongelukkig nie hierdie reis saam met die karakters deurvoer nie en is daar te veel vrae en te min antwoorde. Die algemene mens se reis van vergifnis handel mos oor ’n spektrum van emosies: teleurstelling, woede, depressie, aanvaarding en dan eers vergifnis. Ongelukkig spring die rolprent die kyker voor en beweeg te vining na die punt van vergifnis. Die emosionele reis word dus nie geslaagd deurtrek nie en is dus heeltemal onidentifiseerbaar. Van die ander temas word egter beter uitgelig: veral die tema van deursettingsvermoë ten spyte van moeilike omstandighede en die morele les om jou talente uit te leef ten spyte van alles wat jou terughou.

Die jong akteur Deànré Reiners verstom weer met sy natuurlike aanslag in hierdie rolprent. Hy vertolk die rol van ’n jonger karakter met groot gemak en oortuig die kyker selfs dat dit hý is wat so mooi klavier speel. Sy hele houding straal van musikaliteit. Die ouerpaar, Hykie Berg en Jana Strydom is ook meestal geslaagd in hulle rolle. ’n Tikkie egtheid skort wel in Hykie se emosionele oomblikke in die rolprent. Jana se poging om ’n kankerlyer te vertolk is goed, maar die rolprent het ongelukkig nie tot in die diepste van diep rouheid van die siekte gedelf nie.

Die kyker moet dikwels noodgedwonge op die oppervlak van die rolprent se temas dobber. Dis amper asof die rolprentmakers die gehoor wil beskerm van die gru werklikhede wat voorkom in hierdie storie. Wanneer Tomas vir Phillip met ’n krieketkolf bykom, word hierdie geweldadige toneel nie gewys nie – die kyker sien die kolf wat lig en dan eers weer Phillip se blou oog. Wanneer Maria haar stryd teen kanker verloor, sien ons net die sag heengaan, nie die brutale werklikheid van haar siekte en hoe dit haar takel nie. Wanneer die skoolboelies die lewe vir Philip moeilik maak, sien ons nie die realistiese fisiesie vuisslaan van hoërskoolseuns nie, maar ligte stampies en stootjies en hoogdrawende spottery. Faith in Motion Productions het ’n naam vir hulself gemaak as familievriendelike rolprentmakers wat fokus op rolprente met inspirerende boodskappe. Ek dink tog ’n mens kan nie skerm van die werklikheid as jy vir mense lewenslesse wil leer nie.

Die hoofrolspeler en die grootste ster van die rolprent is sonder twyfel die musiek. Vir die heel eerste keer in Afrikaans, is ’n georkestreerde klankbaan gebruik. Die man agter al die oorspronklike komposisies sowel as die klankbaan, is die ervare en talentvolle Geo Höhn. Die kleurryke musiek neem die kyker op ’n reis en maak op vir waar die teks ’n gebrek aan substansie het. Geo onderstreep die emosionele diepte van die verhaal in sy klankbaan en bied ’n ervaring van lewendige musiek tydens sy komposisies wat deur die karakter Phillip uitgevoer word in die rolprent. Die musiek is nie oorbodig tegnies van aard nie, omdat dit moet voorkom asof ’n vyftienjarige die stukke komponeer en speel. Hierdie aspek is ongelooflik geslaagd – sagte, strelende klanke wat die gehoor aanhou pols.

Stefan Enslin verdien ’n groot applous. Die rolprent wat eers nie aftrek gekry het nie, het hom aanhou dryf om ’n boek te skryf, wat toe eindelik ’n topverkoper geword het. Die rolprent is dus gegrond op hierdie gelyknamige boek. Dit blyk asof Stefan en die karakter Phillip heelwat ooreenkomste deel rakende die strewe na sukses en die uitleef van talente. Stefan en sy span kry dit reg om belangrike geloofsvrae te vra wat inspirasie bied aan ieder en elk. Die rolprent huiwer op die randjie om die geloofsaspek te veel en te direk aan te spreek, maar ek glo die storie sal mense kan aanraak, afgesien van hulle geloofsoortuiging.

Darrell James Roodt is met mening terug as regisseur. Na ’n paar onlangse plaaslike flaters, glo ek sy naam is in ere herstel met Verskietende Ster. Soos genoem is daar leemtes in die teks, maar afgesien daarvan is die karakters se afronding en die vloei van die storie goed deur Roodt behartig. William Collinson skitter as kinematograaf – prentjiemooi beelde wat nog helderder skyn as gevolg van Höhn se musiek.

As jy smag na ’n mooi storie – op tye té mooi – dan is Verskietende Ster vir jou. Verseker die kyk werd.

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami