Van der Merwe – Dié grapkoning word vergestalt op die grootskerm | Bioskoop

Van der Merwe

Dié grapkoning word vergestalt op die grootskerm
Film

Film

Info

Teks en Regie: Bruce Lawley

Met:  Rob van Vuuren, Chanelle de Jager, Adrienne Pearce,  André Jacobs, Reine Swart, Ian Roberts, Rika Sennett, Erica Wessels, Louw Venter, Matthew Baldwin en Barry Hilton

vandermerwemovie.com

Dee Theart

Dee Theart

Artikel Skrywer

Dee Theart is ’n veelsydige vermaaklikheids- en mediaslaaf. Haar kwalifikasies sluit ’n BDram-graad en ’n nagraadse kwalifikasie in Vertaling en Redigering in. Sy is die gesig en stem by Silverstar Casino as MC. Verder is sy is ook passievol oor stemwerk en toneelspel en pak gereeld projekte in hierdie velde aan. Lees Meer

Ek, soos baie ander, het grootgeword met Van der Merwe-grappies. Koos van der Merwe, die nie-so-slim boer wat homself altyd in een of ander histeriese situasie bevind, sorg al vir etlike dekades lank vir staaltjies om die braaivleisvuur. Dis ook nie die tipe grappies waarvoor ’n mens noodwendig ooit gehuil het van die lag nie – meer die half grinnik, skalkse glimlag tipe. Hierdie fiktiewe karakter kry vir die eerste keer lewe as volwaardige mens in Bruce Lawley se (oorheersende Engelse) rolprent, Van Der Merwe.

Van der Merwe (vertolk deur Rob van Vuuren) en sy vrou Suzette (Chanelle de Jager) lewe ’n eenvoudige, rustige lewe op ’n plaas in Suid-Afrika. Die res van die Van der Merwe-familie kyk neer op arme swartskaap “Van”, omdat hy, om die minste te sê, ánders is. Die werklike sports begin wanneer “Van” se dogter, Marike (Reine Swart), vanaf Engeland terugkeer na die plaas om haar verloofde, George (Matthew Baldwin), ’n Britse mediese student, aan die familie voor te stel. Sal “Van” vrede daarmee maak dat sy enigste dogter met ’n Engelsman wil trou, en wat van sy moeilike, tradisionele pa, Oupa “Van” (Ian Roberts)? “Van” se stresvlakke skiet die hoogtes in en tientalle komiese situasies en wendings speel dan op die grootskerm af. Dis veral wanneer die aanstaande Britse skoonfamilie hul verskyning maak, dat die paw-paw behoorlik die fan slaan.

Alhoewel heelwat kleurvolle karakters hulle ding doen, is dit Rob van Vuuren wat totaal en al die kalklig steel. Sy uitbeelding van Van der Merwe, kompleet met ’n bierboep en snorretjie, sal jou laat skater. Tot ’n groot mate red hy ook die rolprent, wat as gevolg van teksflaters en ’n halflou storielyn, plek-plek op die randjie van die afgrond hang. Dis nie maklik om ’n ikoniese figuur lewe te gee nie. Dit gesê, het niemand al vir Van der Merwe gesien nie, so Rob kon geheel en al sy eie uitbeelding gee. Nes Jim Carrey in Ace Ventura, Ben Stiller in Zoolander of Rowan Atkinson in Mr Bean, het Van Vuuren ’n oortuigende karakter geskep, wat werklik die legende van die grappies perfek vasvang. Na jy Van Vuuren se uitbeelding gesien het, is dit moeilik om enige iemand anders in die rol in te dink. Die gehoor mag dalk verdeeld wees oor of “Van” se grappies werklik snaaks is, maar daar is nietemin goue oomblikke wat elke Suid-Afrikaner sal kan waardeer. Ian Roberts en Chanelle de Jager bring ook op hulle beurt interessante karakters na vore, wat die gehoor se aandag sal aangryp.

Die rolprent laat egter nie ’n blywende indruk nie. Net so vinnig soos ’n Van der Merwe grappie duur, so vinnig raak die rolprent eentonig en verbeeldingloos. Die teks het groot inhoudsgate en die produksiewaarde is nie orals konsekwent nie. Dan kan ’n mens ook net vir so lank hanteer dat die Van der Merwe-familie anti-Engelse is, maar tog Engels praat met ’n onderliggende Afrikaanse aksent. Dalk wou Lawley dieselfde regkry wat Herman Charles Bosman destyds gedoen het: die teenstydighede van die Afrikaanssprekende na vore bring, juis in Engels. Ek voel die fliek sou dalk meer geslaagd in Afrikaans gewees het, juis omdat die meeste mense die Afrikaanse weergawe van die ikoniese grappies ken. Dit bly wel ’n interessante keuse en tyd sal leer of dit in hulle voordeel sal tel of nie.

Van der Merwe is ’n goedvoel-fliek in die ware sin van die woord. Die legende van Van der Merwe het uiteindelik ’n gesig en ’n stem. As ander lawwe, groter-as-die-lewe komedies kaartjieverkope kan laat kreun, kan ek myself net indink hoe goed hierdie rolprent ontvang mag word. Suid-Afrikaners hou nou maar eens van lag en Van der Merwe is dalk net die komediedosis wat die dokter voorgeskryf het.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar