Vaselinetjie – Seepglad van boek na silwerdoek | Bioskoop

Vaselinetjie

Seepglad van boek na silwerdoek
Film

Film

Info

Met: Marguerite van Eeden, Nicole Bond, Arno Greeff, Elzet Nel, Elani Dekker, Marise Loots, Royston Stoffels, Shaleen Surtie-Richards, Anchen du Plessis en Daniah de Villiers

Teks : Corné van Rooyen en René van Rooyen

Regie: Corné van Rooyen

thefilmfactory.co.za

Dee Theart

Dee Theart

Artikel Skrywer

Dee Theart is ’n veelsydige vermaaklikheids- en mediaslaaf. Haar kwalifikasies sluit ’n BDram-graad en ’n nagraadse kwalifikasie in Vertaling en Redigering in. Sy is die gesig en stem by Silverstar Casino as MC. Verder is sy is ook passievol oor stemwerk en toneelspel en pak gereeld projekte in hierdie velde aan. 

Lees Meer

Ek onthou goed hoe ek as tiener in 2004 die verhaal van Helena “Vaselinetjie” Bosman verslind het. Anoeschka von Meck se jeugroman het harte aangegryp en literêre pryse verower en later as ’n teaterstuk verdere lewe gekry. Dit was dus net ’n kwessie van tyd voordat filmmakers die kans sou aangryp om Vaselinetjie in ’n rolprent te omskep. Die gedugte span Corné en René van Rooyen het dié storie se leisels stewig vasgegryp om ’n kykervaring te skep wat fliekgangers vir lank sal bybly.

Vaselinetjie vertel die post-1994 storie van ’n wit  meisie wat in ’n bruin gemeenskap in die Noord-Kaap grootgemaak is. “Wie is sy en hoe het sy daar beland?”, is die vraag wat deurentyd in die kyker en selfs ook in Vaselinetjie se kop maal. Nadat die kinders van die gemeenskap haar boelie omdat sy anders lyk, word sy as elfjarige weggestuur na ’n staatsweeshuis in Johannesburg. Sy moet hier ook veg om oorlewing in die wrede, harde omgewing waar die kinders van vroeg af rook, drink, en hulself tot geweld wend omdat dit die voorbeeld is wat by hulle ouerhuise vir hulle gestel is. Dit dwing Vaselinetjie op die harde manier om eie identiteit te ontdek en te besluit wat sy van haar lewe wil maak.

Met elke minuut wat op die grootskerm verby getik het, was ek meer en meer oortuig dat hierdie die gladste verwerking van boek na silwerdoek is, wat ek nog ooit (veral op die plaaslike front) gesien het. Nes ek destyds met die lees van die boek die storie voor my geestesoog sien afspeel het , so ook het dit op die grootskerm afgespeel: van die ligging, karakters, gebeure, tot selfs daai knop-in-die-keel-gevoel wat telke male na vore kom. Met Vaselinetjie se draaiboek het die Van Rooyens towerkuns uitgevoer en hulle verdien al die lof wat na hulle kant toe kom, ook wat die rolverdeling betref.

Die toneelspel van die jonger en ouer hoofspelers is uitmuntend. Weereens het die span hier iets besonders reggekry: om ’n natuurlikheid na vore te bring wat lanklaas op die grootskerm te bespeur was. Ek is seker die oudisieproses was lank en bemoeiend, maar eindelik is akteurs gevind wat die essensie van hulle spesifieke karakters vasvang. Dis moeilik om akteurs uit te sonder, maar die jonger en ouer Killer, vertolk deur Anchen du Plessis en Elzet Nel, verdien spesiale melding. Hulle vertolk die broosheid van ‘n meisie wat op-die-oog-af windgat en grootbek voorkom so goed, dat ’n mens Killser se  seer kan vóél. Arno Greeff (die ouer Texan) sal ook die kyker oorrompel met sy grootste filmvertolking  tot nog toe. Die manier waarop Arno, Texan se verdeelde identiteit uitbeeld, asook hoe die karakter die seer van sy lewe met agressie benader, is onverbeterd.

Maar die dame wat die fliek se kollig steel is beslis Vaselinetjie, vertolk deur Nicole Bond en Marguerite van Eeden. Veral Van Eeden maak duidelik haar merk in haar debuutrol en speel ’n onopgesmukte, identifiseerbare tiener, wat vele dimensies na die karakter van Vaselinetjie bring. Dis ook aangenaam om weer die legendariese Sharleen Surtie-Richards en Royston Stoffels op die grootskerm te sien, en soos verwag vorm hulle as Vaselinetjie se grootouers ’n sterk fondasie vir die film.

Die kinematografie (Adam Bentel), redigering (C.A. van Aswegen) en klankontwerp (Janno Müller) rond die alreeds pragtige storie mooi af met die spesiale aandag wat hulle aan die visuele uitleg, komposisie en luistergenot gegee het. Die kyker kan gerus wees dat hierdie aspekte werklik elke sintuig sal bevredig.

Vaselinetjie is allermins ’n fliek oor die wreedheid van weeshuislewe. Dit sal jou twee keer laat wonder oor die betekenis van identiteit en samehorigheid. Die rolprent verdoesel nes die boek, skerp sosiale kommentaar met poëtiese elemente en gebruik talle slim truuks om die kyker saam te sleur op hierdie jong meisie se avontuur.  So wie is Vaselinetjie en waar pas sy in ‘n post-demokratiese Suid-Afrika in? Vind gerus vir jouself uit en maak gereed vir ’n ontdekkingsreis, dalk ook na binne jouself.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar