Twee grade van moord

Twee Grade van… Ongemak

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Twee Grade van Moord. Ja, ek weet jy ril sommer al klaar as jy die anglisisme in die titel van die fliek sien, maar soms moet ’n mens nou maar verby sulke faktore kyk. Wanneer die spanningsvolle musiek van die rolprent eers begin, sal jy gou agterkom dat daar baie meer is wat jou gaan laat kriewel. Twee Grade van Moord het dit reggekry om my die ongemaklikste te maak as wat ek tot nóg toe tydens die kyk van ’n Suid-Afrikaanse rolprent was. En dít was die vervaardigers se intensie. Want genadedood is ’n ongemaklike onderwerp.

Sandra Prinsloo vertolk die rol van Aleksa, ’n gesiene sielkundige wat glo sy het die antwoord op ewigdurige liefde. Dit verander egter alles wanneer haar man Ben (Marius Weyers) ’n hartaanval kry en van die nek af ondertoe verlam word. Intussen gee Aleksa ook berading aan Tanya Basson (Hilda Cronjé), wie se kêrel haar emosioneel aftakel, en neem die karakter Frankie (Kim Cloete) baie van die gebeure met haar kamera op as deel van die maak van ’n dokumentêr oor Aleksa se lewe as publieke figuur.

Die regisseur skets die verhaal deur visuele metafore soos die kraaie wat gereeld as ’n voorbode op die toneel verskyn (selfs op die tatoeërmerke van Tanya se kêrel, Sean) en die duiwe wat weer as ’n simbool van bevryding en hoop dien, soos die duif wat vir Noag ’n groen takkie in die Bybel gebring het. In hierdie opsig het die produksiespan beslis ’n projek amper moeiliker as die Ark aangedurf, en met vleuende vaandels geslaag om dié tonele met die voëls uit te beeld.

Soms is die teks nie subtiel in die boodskap wat die fliek uitdra nie, en kom dit te direk in die dialoog uit, soos wanneer Aleksa hardop in die hof vra, “wat sou die liefde nou doen?” (Dit is ook die bemarkingslyn op die plakkaat). Dan is daar ander kere dialoog wat my opreg hoendervel gegee het, byvoorbeeld as Aleksa sê “Ons vrese volg ons net so getrou, soos ons eie skaduwee… en vir elke vrees wat ons het, bou ons nog ’n skans, nog ’n muur…” Soos dit hier duidelik blyk, is die verhoudings tussen die karakters een van die belangrikste dele van die fliek. Daarom is dit jammer dat die toneelspel van sekere akteurs, byvoorbeeld dié van Aleksa se seun Christiaan (Roelof Storm), skerp afskeep teen swaargewigte soos Marius Weyers en Sandra Prinsloo.

Die storie skaaf jou rou, juis omdat dit so ná aan die werklikheid is. En te alle tye is die kamera die lens wat jou lei na waar jy moet kyk, selfs na die verborge oomblikke tussen die karakters wanneer hulle naak en gestroop voor mekaar staan. Dit is veral die naakskote van die manskarakters wat my opgeval het (en wat ook vir die fliek se hoë ouderdomsbeperking gesorg het). Dit dui vir my op ’n weerloosheid wat die mansfigure aangedui het, en vir ’n verandering was dit die vroue in hierdie fliek wat die mag gehad het om keuses oor hulle mans uit te oefen. Dis hierdie uiteindelike keuses van die vroue wat sorg vir konflik in die fliek wat die spanning enduit voer. My enigste kritiek hierop is dat ek soms verdrink het hierin, en anders as Christiaan in die swembadtoneel, kon ek nie maklik opkom vir asem nie. Waar ander rolprente ligter oomblikke het, is Twee Grade van Moord ’n senutergende rit van begin tot einde.

Die vraag is dus nou: Is jy dapper genoeg om hierdie rit aan te durf?

Inligting

}

Speeltyd

100 min

i

Teks & Regie

Anita le Roux | Gerrit Schoonhoven

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 L V

Akteurs

Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Shaleen Surtie-Richards, Roelof Storm, Hilda Cronje, Kim Cloete, Keenan Arrison, Laudo Liebenberg

Sterre

3/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring