Tussen kwytskelding en vergifnis: The Forgiven wys die grys areas tussenin | Bioskoop

The Forgiven

Tussen kwytskelding en vergifnis: The Forgiven wys die grys areas tussenin
Film

Film

Info

Regie: Roland Joffé
Teks: Roland Joffé en Michael Ashton
Met: Forrest Whitaker, Eric Bana, Morné Visser, Thandi Makhubele

Ouderdomsbeperking: 18 LVP

Tyd: 115 min

lightanddarkfilms.com

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Artikel Skrywer

Anna-Marie Jansen van Vuuren is ‘n dosent by die Departement van Joernalistiek, Film en Televisie by die Universiteit van Johannesburg. Sy is sedert Desember 2006 ‘n vryskut joernalis vir MonitorSpektrum en Naweek-Aktueel, die nuusaktualiteitsprogramme van RSG (SAUK Radio). Sy behaal in 2016 haar PhD-graad in Kreatiewe Skryfwerk – Draaiboekskryf, met spesialisering in geskiedkundige rolprente, by die Universiteit van Pretoria.

 Lees Meer

“Hoekom beteken dit niks om te sê jy’s jammer nie?” Dié woorde van die karakter in The Forgiven eggo deur my, dieselfde woorde wat menigte wit Afrikaanssprekendes hulself seker daagliks in Suid-Afrika afvra. Die idee van ʼn reënboognasie is lank reeds begrawe en “versoening” sal beslis nie as die “2018 woord van die jaar” aangewys word nie. Miskien is dit juis waarom die fliek The Forgiven so aktueel is vir die tydperk waarin dit by die loket uitgereik word.

The Forgiven is nie ʼn biografie oor Aartsbiskop Desmond Tutu se lewe nie, maar wys eerder net ʼn greep van sy lewe – ʼn baie relevante greep. Dié deel van sy lewe tussen 1996 en 1997 toe hy die Waarheids- en- Versoeningskommissie gelei het. Sy paaie kruis met dié van Piet Blomfeld, ʼn AWB-lid wat reeds in die tronk is weens die gruweldade wat hy in die naam van Apartheid gepleeg het. Deur hulle interaksie poog die Aartsbiskop om die waarheid rondom één van die misdade te ontbloot, en sodoende gemoedsrus aan ʼn 17-jarige oorledende se familie te gee.

Met die eerste verskyning van die Noord-Amerikaanse akteur Forrest Whitaker as Desmond Tutu het dieselfde geykte vraag weer by my opgekom: Hoekom word internasionale akteurs altyd gekies om die hoofrolle in Suid-Afrikaanse stories te vertolk? Whitaker se aksent het my reeds in die 2014 rolprent City of Violence (internasionaal bekend as Zulu) effens gepla, sowel as in die onlangse Black Panther, en dit het my weereens opgeval toe hy met The Forgiven die eerste keer op die skerm verskyn. Waar Whitaker se vertolking met die eerste paar tonele my nie regtig aan die “Arch” herinner het nie, het dit tog op my gegroei, veral sy een-tot-een tonele teenoor die antagonis, Piet Blomfeld (Eric Bana).

Bana se Blomfeld-aksent (as hy Engels praat) het met die eerste oogopslag vir my meer Skots voorgekom as wat mens van ʼn Afrikaanssprekende sou verwag, maar hy het dubbel en dwars daarvoor opgemaak met die kragtoer-vertolking wat hy gelewer het. Bana het beslis aan my gewys hoekom hy as deel van die room van Hollywood se akteurskorps tel.

Die Oscar-benoemde regisseur Roland Joffé (The Mission, The Killing Fields) slaag daarin om saam met Bana ʼn driedimensionele antagonis in Piet Blomfeld te skep – wat wys dat ʼn mens nie sommer net as ʼn skurk gebore word nie, maar deur ʼn reeks faktore so gevorm word. Juis in vandag se deurmekaar tye is dit belangrik om te wys dat alles nie altyd net swart en wit is nie, maar dat daar wel soms grys nuanses tussenin is. Volgens die vervaardigers is Blomfeld nie op ʼn ware mens gegrond nie, maar eerder op ʼn verskeidenheid persone waaroor die skrywers navorsing gedoen het.

Terwyl die internasionale akteurs goeie spel gelewer het, voel ek steeds die plaaslike akteurs het hulle onder die tafel in gespeel, veral Thandi Makhubele wat ʼn menslike gesig aan ʼn slagoffer se ma gee.

Megan Gill se redigering laat die storie ook op ʼn vinnige pas verloop.

My grootste kritiek is op die lang, praterige tonele tussen Tutu en sy vrou. Al gee dit ons ʼn blik op Tutu se innerlike konflik (hy is tog mens, al word hy dikwels as ʼn heilige uitgebeeld) is dit langdradig en doen dit afbreuk aan ʼn rolprent wat veronderstel is om ʼn riller te wees. Tog bring die fliek diepte en insig op ʼn komplekse tydperk van ons geskiedenis, sonder om prekerig te raak. Dit is beslis die kyk werd.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar

Bitnami