–
This Is Not a Burial, It’s a Resurrection
Lesotho se eerste Oscar-rolprent ondersoek hoe Suid-Afrika dié buurland se water uitbuit
Nuus
Deur
Anna-Marie Jansen van Vuuren
Die rolprent, This is not a Burial, it’s a resurrection, het al 25 toekennings by internasionale filmfeeste verower, onder meer vir Beste Regie, Beste Kinematografie en Beste Algehele Rolprent by ‘n spesifieke rolprentfees.
Met behulp van die ywer van die rolprent se vervaardiger, Cait Pansegrouw, het dié fliek ook nou Lesotho se eerste inskrywing in die Beste Buitelandse-kategorie van die Oscars geword.
Die storie handel oor ‘n 80-jarige vrou, Mantoa, wat besef dat sy besig is om te sterf, en derhalwe begin om haar begrafnis te reël en die aarde se stof van haar voete af te skud. Maar dan hoor sy dat haar dorp tot niet gemaak gaan word om plek te maak vir ‘n nuwe wateropgaarprojek, om water aan Suid-Afrika te voorsien. Dít is ʼn diep persoonlike verhaal vir die regisseur en draaiboekskrywer, Lemohang Jeremiah Mosese – wat as kind self uit die platteland na ‘n stedelike gebied moes trek, weens ‘n waterinfrastruktuurprojek.
Mosese se pad het met dié van Pansegrouw s’n gekruis tydens die Realness Screenwriters Residency, wat haar maatskappy, Urucu media, bedryf. Die onderliggende tema van Suid-Afrika se waterbronne uitbuit, het haar dadelik as ʼn Suid-Afrikaanse rolprentvervaardiger aangegryp. Sy sê voordat sy Mosese se draaiboek gelees het, was sy salig onbewus daarvan dat ons land sowat 780 miljoen kubieke water vanuit Lesotho invoer.
Beide Mosese en Pansegrouw was vasbeslote om die fliek in Lesotho self te verfilm, al het hulle geweet dit sou verskeie logistieke uitdagings meebring. Pansegrouw was dit eens dat die produksie haar behoorlik grys hare besorg het. In haar woorde: “My span het seker gedink ek is van lotjie getik, en dat hul self so bietjie mal was om in te stem daartoe”.
Tydens die verfilmingsproses was hulle sowat drie ure buite die hoofstad Maseru geleë – in ʼn omgewing sonder enige toegang tot elektrisiteit. Daarom het Pansgegrouw gesorg vir kragopwekkers by die akkommodasie waar hulle gebly het – ja, sodat die span soms ‘n warm stort kon hê – maar meestal om hul toerusting te herlaai. Dié kragopwekkers kon hul net van twee uur se krag soggens en weer saans verskaf. Van toilette wat kan spoel was daar ook geen sprake nie. Vir die vyf weke wat hulle daar was, in die hartjie van die ysige winter, moes hulle put-toilette gebruik.
Al was dit winter, was die weer ook hoogs onvoorspelbaar. Pansegrouw onthou ʼn spesifieke oggend wat hulle naby ʼn rivier verfilm het. Die oggend toe hulle die eerste skote opgestel het, was dit minus vier grade Celsius, maar soos wat die dag verloop het, het dit al hoe warmer geword – en uiteindelik ʼn piek van 30 grade bereik. Volgens haar het hulle ʼn paar keer verfilm waartydens daar ‘n sogenaamde “elektriese storm” uitgebreek het. “Dit was seker eintlik baie gevaarlik, maar ons het wel baie mooi beeldmateriaal gekry”.
Daar was geen paaie waar hulle verfilm het nie, en dikwels moes die span van 15 lede bergklim tot by die plek (“location”) waar hulle die dag sou verfilm. Die toerusting is dan met donkies vervoer. Die hoofaktrise, Mary Twala, self amper 80 jaar oud, het meestal te perd gereis. Tog was daar situasies, soos wanneer hulle ʼn rivier moes oorsteek, waar Pansegrouw bang was die perd kon gly, of dalk skrik. Dan het van die sterk spanlede Twala oor die rivier ge-abba.
Dit was die einste Mary Twala se laaste rol voordat sy in Julie 2020 oorlede is. Twala het in die vroeë negentigerjare die wêreld se verbeelding aangegryp met haar rol in Sarafina. Afrikaanse kykers sal haar dalk onthou vir haar rol as die huishulp in Leading Lady, terwyl sy ook ʼn prominente rol in Leon Schuster se onlangse rolprent Frank & Fearless (2018) gehad het. In 2019 het President Cyril Ramaphosa die Nasionale Orde van Ikhamanga aan haar oorhandig – vir haar lewenslange bydrae tot die kunste. Pansegrouw sê Twala het op stel geskitter en dié fliek as ‘n hoogtepunt in haar loopbaan beskou.