This is not a Burial, It’s a Resurrection

Klank, komposisie en kuns kraai koning

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

This is not a Burial, It’s a Resurrection was Lesotho se heel eerste Golden Globes én Oscar inskrywings, nadat dit reeds ‘n hele string ander internasionale toekennings ontvang het. Dis ook die film wat regisseur-skrywer-redigeerder Lemohang Jeremiah Mosese waarskynlik op die rolprent-wêreldkaart sal plaas.

Die storie begin diep in die berge van Lesotho. As gevolg van die land se hoë ligging, word kiloliters water jaarliks na Suid-Afrika gepomp. Nou word nóg ‘n opgaardam beplan. Maar hiervoor moet ‘n hele nedersetting verplaas word.

Mantoa (briljant vertolk deur die ontslape Mary Twala Mhlongo) is ‘n 80-jarige weduwee wat opgewonde na die terugkeer van haar enigste lewende familielid uitsien – haar seun wat ‘n mynwerker in Suid-Afrika is. Die nuus kom egter gou dat haar seun ook onlangs oorlede is. Mantoa het nou niks meer om voor te lewe nie, en sy begin om haar eie dood te beplan. En dan hoor sy wat die regering se planne met haar geboorteplek is. Dít gee haar ‘n nuwe rede om op te staan, letterlik en figuurlik. Sy word ʼn kampvegter en durf rolspelers binne die regering en die kerk aan, totdat baie van haar mede-inwoners haar punt begin insien.

Mantoa se moed van oortuiging is so sterk, dat selfs die plaaslike priester later begin twyfel in wat reg en verkeerd is. Ons sien dit nie in wat hy sê en doen nie, maar eerder in die simboliek daarvan toe hy letterlik bloed op sy hande kry na ‘n skaapskeerkompetisie. En dis wat hierdie rolprent so spesiaal maak. Die storie (en dus die draaiboek) is poëties, en word ook so vertel. Op ‘n kol sê die priester vir sy gehoor: “Writing is like a song or dance. Is that not so?” En dis presies hoe mens voel oor die film se dialoog. Idiomatiese taal en simboliek is aan die orde van die dag, en die verteller (Jerry Mofokeng wa Makhetha) se stem betrek die gehoor op ʼn amper hipnotiese manier.

Pierre De Villiers se kunssinige kamerawerk en komposisie dra by tot die algehele andersheid van hierdie fliek. Met ‘n onverwagse 4:3 skermverhouding word die kyker gedwing om aandag te gee, en dit versterk ook die pragtige landskap én fokuspunt in elke toneel. De Villiers toor met donker en lig en die versadigde, diep kleure in elke skoot is veral opvallend. Goudgeel word in al die skote met die verteller gebruik, wat waarskynlik die stad en geld verteenwoordig, teenoor blou skynsels in die tonele met Mantoa, wat die aarde en die natuur vergestalt. Die sogenaamde ‘boks’ skerm manier waarop die rolprent verfilm is (eerder as die 16:9 wye skerm verhouding waaraan ons vandag gewoond is) lê dalk klem op ‘n wêreld, wat nes die “boks TV” êrens in die verlede agtergebly het. Dis immers een van die vele temas wat die fliek probeer aanspreek: vooruitgang en tegnologie teenoor  wat in ruil daarvoor opgeoffer word.

Wat die musiek betref is die “lesiba”, Lesotho se amptelike snaarblaasinstrument gespeel deur Jerry Mofokeng wa Makhetha, verantwoordelik vir die meeste van die klankbaan. Dit is nogals ‘n unieke klank om aan gewoond te raak. Soms ruk dit die kyker, maar terselfdertyd is dit eg, en gepas, in terme van die kultuur.

Baie aspekte van die film herinner sterk aan die Senegalese film Hyenas, deur Djibril Diop Mambéty, waarin ‘n ouer vrou ook die middelpunt van die storie is, met soortgelyke temas.

Volgens die inwoners van Mantoa se dorp, Nazareth (of soos hulle dit noem die “Plains of Weeping”), word nie net die dooies daar begrawe nie, maar selfs ook die naelstring en plasenta van die pasgeborenes. Dis dus uiters gepas dat die berg wat ons in heelwat van die natuurskote sien, volgens ‘n vinnige Google-soektog bekend is as die “Two Tits Mountain” of “Nipple Mountain” (Thaba Li Mele) en letterlik so lyk. Dit is net nóg ‘n voorbeeld van hoe elke aspek van die film simbolies saamgevoeg word om die storie met veelvuldige lae te vertel. Dié plek (wat binnekort die bodem van nog ‘n dam sal wees) is veel meer as net ‘n tuiste: dis ‘n hele lewensiklus. Dis beide die plek waar hulle gebore word, waar hulle aan die lewe gehou word deur dit wat die aarde en die diere hulle bied, en ook waar hulle weer tot ruste kom.

Hoewel Mantoa aan die einde nie die sogenaamde vooruitgang kan keer nie, wys sy haar mense asook die kyker in This is not a Burial, It’s a Resurrection dat jy soms moet veg vir dit waarin jy glo, en dat jy nie altyd nodig het om te fokus op die sogenaamde einde nie, maar eerder op ‘n onvermydelike nuwe begin.

Inligting

}

Speeltyd

120 min

i

Teks & Regie

Lemohang Jeremiah Mosese

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

13

Akteurs

Mary Twala Mhlongo, Jerry Mofokeng Wa Maketha

Sterre

4.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring