The Tokoloshe

Hierdie monster wag nie net onder jou bed nie – hy val soms saam met ander skedels uit jou kas

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

Dis nogals ironies hoe ek in die resensie van my vorige gruwelfilm genoem het dat ek hoop dis net die begin van nog vele meer sulke plaaslike flieks, en skaars ’n jaar later resenseer ek die volgende een. As ek maar net als wat ek begeer het sou kon kry, of hoe?

’n Tokkelos of tokkelossie is ’n eg-Suid-Afrikaanse woord wat “spook” of “bose gees” beteken, en alle kinders (maak nie saak van watter rassegroep nie) het minstens met die idee, of een of ander vorm van hierdie skepsel, grootgeword. Die mees algemene beskrywing is dat dit ’n harige, kwaadwillige, kabouteragtige wese is (omtrent heup-hoogte), wie se kloue jy slegs kan vryspring deur jou bed se pote op bakstene te plaas, wat dan maak dat hy nie by jou kan uitkom nie. In sommige kulture het die tokkelos ’n sterk seksuele ondertoon, waar hulle glo dat die kreatuur vrouens verkrag – daar is dan ook beskrywings van hoe dié mannetjie só goed bedeeld is, dat hy sy geslagsdeel oor sy skouer moet gooi!

In The Tokoloshe, regisseur Jerome Pikwane se dubuutfilm, verruil Busi (fantasties vertolk deur Petronella Tshuma) die platteland vir die blink liggies van Johannesburg, in ’n poging om van haar verlede te ontsnap en haar toekoms vir die beter te verander. Sy kry werk by ’n vervalle hospitaal in die hartjie van die stad, waar niks uitdraai om te wees hoe dit op eerste oogopslag voorkom nie. Busi kom teen ’n korrupte, seksueel-gedrewe hospitaalbestuurder te staan, vertolk deur Dawid Minnaar, en bevriend dan een van die jong pasiënte, Grace (geloofwaardig vertolk deur Kwande Nkosi), wat met haar eie innerlike demone worstel. Of is daai stemmetjie in die kop eintlik iets anders? Saam vorm hulle ’n span wat baie moet deurmaak om uiteindelik as oorwinnaars uit die stryd te tree.

Pikwane se idee om die Tokkelos as ’n metafoor vir verkragtings en ander seksuele misdrywe in ons land te gebruik, is uitstekend, want dit forseer die kyker om die situasie onderbewustelik op ’n ander manier te benader. Hierdie is dan ’n monster, ’n bonatuurlike mag – hoe kan ’n mens nou opstaan teen so iets? Wel, die uiteinde is dat enige monster ook ’n swakheid of twee het, en dat jy met genoegsame kennis en hulp wel jóú monsters kan uitoorlê. Dis dalk ’n baie simplistiese/idealistiese benadering, en seersekerlik makliker gesê as gedaan, maar dis die algehele boodskap waarmee ek uit die fliek gestap het, en tog ook ’n sterk én belangrike boodskap vir die tyd waarin ons leef.

Die algehele produksiewaarde was hoog. Die kinematografie was puik, die beligting is perfek aangewend en die klankbaan was oorspronklik, met gepaste byklanke wat jou natuurlik op die regte plekke die ritteltits gee. Daar was eintlik net een toneel waar die musiek en byklanke ’n bietjie té tipies van ’n gruwelfilm was, en dit my bietjie teleurgestel het.

Die rolverdeling was knap, met Petronella Tshuma en Kwande Nkosi wat beide prysenswaardige vertonings lewer. Selfs sonder die idee dat ’n Tokkelossie nooit te ver in die donker gange hurk nie, het Tshuma dit reggekry om met haar gesigsuitdrukkings en eerlike spel die kyker in haar skoene te plaas. Jy kon behoorlik haar marteling, angs en verlies vóél, van begin tot einde. En die jonge Nkosi moes soms die Tokkelossie word, met haar eie gepaste gesigsuitdrukkings en stuiptrekke wat sy eersteklas vertolk het.

Wye lugskote van die Johannesburgse middestad het bygedra tot die donker, koue en onheilspellende gevoel van beide die fisiese omgewing, asook die emosionele toestand van die hoofkarakters, en die spesiale effekte was ook baie realisties gedoen. Ek wonder tog hoekom die vervaardigers besluit het op ’n weergawe van die Tokkelos wat as redelik uniek beskou kan word (hoewel dit aan ander gevestigde filmmonsters herinner het), eerder as om by die meer algemene beskrywing daarvan te gebly het? Dit het my onkant gevang omdat ek die meer tradisionele ‘harige, kabouter’ verwag het, en ek dink die meeste ander kykers sal ook. Maar dalk probeer hulle sê dat almal se ‘monsters’ nie altyd dieselfde lyk nie… Verder was daar net een toneel waarin ’n spesiale effek gepla het: teen die einde van die fliek met die suster se begrafnis was daar twee tonele met indrukwekkende sonskynskote, maar mens kon gou sien dat hierdie nie werklike skote was nie, en dit het uiteindelik afbreek gedoen. So ook die feit dat daar spel- en/of tikfoute in beide die onderskrifte én die eindkrediete was!

In die algemeen was ek beïndruk met Pikwane se visie en aanslag. ’n Gruwelfilm wat ook as ’n sielkundige riller dien, en my minstens drie keer lekker laat skrik het. Die algemene kyker mag dalk wonder hoekom daar nie meer op die Tokkelossie gefokus is nie, terwyl die kunssiniges onder ons die veelvuldige fasette van die film sal waardeer.

Nou wonder ek net of dit wéér sal werk indien ek ’n versoek aan die heelal sou rig, of het die tokkelossie met sy toorkrag nou al myne kom vernietig? ’n Mens kan seker net probeer en hoop vir die beste, want ek kan nie wag om te sien wat Pikwane volgende vermag nie.

Inligting

}

Speeltyd

92 min

i

Teks & Regie

Richard Kunzmann, Jerome Pikwane | Jerome Pikwane

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 H SV V

Akteurs

Petronella Tshuma, Kwanda Nkosi, Dawid Minnaar, Harriet Manamela, Mandla Shongwe, Yule Masiteng

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring