The Fix

Hierdie fliek is dalk net die “fix” wat jy nodig het

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

In ‘n distopiese samelewing is die lug toksies en neem die model Ella (Grace van Dien) ‘n verbode (ontwerper-) dwelm by ‘n partytjie, wat tot ‘n skokkende fisiese verandering lei. Terwyl sy deur ‘n gevaarlike bende en die owerhede gejaag word, ontdek sy dat haar mutasies dalk die sleutel tot die oorlewing van die mensdom kan wees. Maar terwyl sy ook sukkel om haar identiteit buite haar voorkoms en haar ma se nalatenskap te vind, besef sy dat die dwelm wat sy ingeneem het haar in iets kan omskep wat óf die wêreld kan red óf dit kan vernietig.

Grace van Dien is niemand anders nie as die bekende Casper van Dien se dogter, en sy speel haar rol baie oortuigend. Wanneer ‘n mens hierdie wetenskapfiksie (“sci-fi”) vir die eerste keer kyk sal jy nie kwalik geneem word om te dink dit lewer onder meer sosiale kommentaar op die Covid-pandemie nie. Tog het die Amerikaanse skrywer en regisseur Kelsey Egan (wat sedert 2007 in Suid-Afrika woon), die eerste konsep vir die film al in 2013 geskryf, en die plan was om dit tussen 2015 en 2019 te vervaardig, dus is enige ooreenkomste bloot toevallig.

Egan vertel verder van haar idee: “Ek was nuuskierig oor hoeveel ons persepsie van die wêreld beïnvloed word deur hoe ons behandel word, en hoeveel dit ingelig word deur ons voorkoms. Ek wou hierdie idees ondersoek deur die transformasie van ‘n meisie wat voel dat haar voorkoms die enigste ding is waarvoor sy ooit aanvaar is en voor erkenning kry, maar wanneer sy hierdie traumatiese fisiese transformasie (mutasie) ervaar, moet sy uitvind wie sy buite al hierdie dinge is… en leer wat vir haar belangriker is as hoe sy deur die wêreld beskou word.”

Omdat Egan self al as “stunt”-vrou in die industrie gewerk het (onder meer op films soos Mad Max: Fury Road), het sy self, saam met Matthew Van Leeve en Russ McCarroll die gevegstonele gekoreografeer.

As kyker (en resensent) sal ek erken dat ek die fliek twee keer moes kyk voordat ek gevoel het dat ek ‘n greep daarop het. Eers het ek gevoel dat die eerste halfuur langdradig was en dat die aksie eintlik eers daarna begin het (en dan beweeg dit teen ‘n helse spoed). Tweedens het die musiek in die klub-tonele my bietjie afgesit. Dit was amper te oordonderend, maar dalk is ek net nie meer gewoond aan wat deesdae in klubs gespeel word nie. Maar teen die tweede kyk het ek anders gevoel en die hele produksie meer waardeer. Mens kon tog maklik voel dat daar te veel spelers en te min tyd vir karakterontwikkeling is, en dit was soms moeilik om te onthou wie wie is, maar die hoofkarakters was tog van die begin af duidelik.

Akteurs het hulle rolle geloofwaardig vertolk. Ek was veral beïndruk met die Suid-Afrikaanse akteurs. En ek was ook aangenaam verras met die fantastiese grimerings- en mutasie-effekte, asook die ander spesiale effekte.

Vir Egan is die dieper boodskap van die film die volgende: “Ons weet dat ons die aarde benadeel. Ons weet ons doen skade. Ons weet die keuses wat ons maak, gaan ‘n langtermyn impak hê op toekomstige geslagte. En tog is ons as ‘n spesie konsekwent weerstandig teen verandering. Dit is amper soos ons achilleshiel. Dit is een van die temas wat ek wou ondersoek met hierdie film en Ella se transformasie. Soos Spider sê in die lokprent: “Óf ons verander, óf ons sterf.”

As jy die Kaap in ‘n heel ander lig wil beskou, en herinner wil word dat ons nie op die  internasionale verhoog van filmproduksies terug hoef te staan nie, kyk gerus The Fix.

Inligting

}

Speeltyd

90 min

i

Teks & Regie

Kelsey Egan

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

PG 13

Akteurs

Grace van Dien, Daniel Sharman, Keenan Arrison, Clancy Brown, Nicole Fortuin en Robyn Rossouw

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie