–
Thando
Thando – ʼn storie van selfliefde en hoop
Resensie
Deur
Roelof Bezuidenhout
Thando (Zikhona Bali) is ‘n verontrusde tiener wat met selfmoordneigings, die verlies van haar ma, kleurisme (velkleur kwessies), afknouery en geslagsgebaseerde geweld worstel. Sy is ook die verteller en ons ervaar die storie vanuit haar oogpunt.
Groepsdruk en sosio-ekonomiese uitdagings is aan die orde van die dag soos Thando sukkel om haar plek in die gemeenskap te vind en die struikelblokke te verwerk en te bestuur. Sy word geboelie by die skool as gevolg van haar donkerder vel. Haar verhouding met ʼn veel ouer man (`n sogenaamde “blesser”) stort in duie toe sy swanger raak, en ʼn video opname waarin sy verneder word, en wat soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei, is uiteindelik die laaste strooi op die spreekwoordelike kameel se rug.
Volgens Kagiso Modupe, die regisseur, was die inspirasie vir die film gebore uit die behoefte om ʼn produk te lewer wat beide opvoedkundig van aard sou wees asook hoop kon gee vir jongmense wat ʼn uiteenlopende reeks kwessies in die gesig staar, en wat dikwels selfdood as hulle enigste uitweg beskou (met afknouery grotendeels as die katalisator).
Modupe se aanslag was ook om die belangrikheid van familie waardes te beklemtoon. Verdere temas sluit in om jouself te ken en te weet waarvandaan jy kom.
Thando is gemaak vir jong mense deur jong mense. Puik kamerawerk met skote wat grotendeels fokus op die voorgrond (gewoonlik die akteurs se gesigte) met ʼn uitgewaste en vae agtergrond gee dit `n hiper-realistiese gevoel. Dit maak ook dat die klem op Thando se vel(kleur) versterk word.
Die jong akteurs beïndruk met goeie, geloofwaardige spel – veral van Zikhona Bali, wat dalk beter bekend is vir haar rol in Isi’thunzi, `n dramareeks op Mzansi Magic. Meer bekende akteurs soos Thembi Nyandeni in die rol van Gogo, Thando se ouma, en Siyabonga Shibe as Bra Tom, die ouer man met wie Thando `n verhouding begin, bring ook diepte aan die storie, en sorg vir beide ligter én dieper oomblikke.
Hoewel die musiek volgens die eindkrediete oorspronklik Suid-Afrikaans is, het dit tog `n bietjie generies en universeel gevoel, dalk opsetlik sodat dit ʼn groter internasionale gehoor kan dien. Ek het tog gevoel dat ʼn meer tradisionele klankbaan die storie beter sou ondersteun.
Wat my veral opgeval het, was ʼn baie spesifieke oranje-teelgroen (blouerige) kleurskakering regdeur die fliek wat gewoonlik veral in aksie-flieks en blockbusters gebruik word. Die kombinasie sorg vir balans op die skerm en skep ook `n gevoel van spanning, deurgaans ʼn sub-tema van die storie. Oranje in filmtaal kan warmte, vriendelikheid, geluk en jeug verteenwoordig. Geel verteenwoordig siekte, naïwiteit, waansin en onsekerheid. Blou daarteenoor kan ‘n koudheid en isolasie verteenwoordig, maar ook kalmte en introspeksie. Hierdie komplimentêre kleure word doelbewus teenoor mekaar gebruik om die kontras in tonele uit te lug en die interne en/of eksterne konflik te versterk. Dis baie interessant hoe kleur effektief as `n karakter in die film aangewend word. Wit is byvoorbeeld `n kleur wat onskuld, geloof en reinheid simboliseer, en Thando word gesien in hierdie kleur wanneer sy met haar geloof worstel en hard met God in gesprek is. Dis ook die kleur van haar ouer kêrel se motor aan die begin van die verhouding wanneer alles nog net maanskyn en rose is, terwyl die man `n swart motor ry aan die einde van die film wanneer ons sy donker kant sien en die twee se paaie skei.
Ek glo Thando het wel `n gehoor, hoewel dit nie ek, of iemand van my demografie is nie. Dit kan help om ʼn nodige boodskap van hoop aan ʼn groot groep minder-bevoorregte (veral) meisies te bring, asook `n waarskuwing aan seuns (en mans). Dit is ʼn sterk herinnering dat elkeen van ons uniek geskape is, dat ons elkeen ons eie talente en gawes ontvang het, en dat ons respek en liefde verdien. Ek kan net hoop dat die film die regte gehoor bereik.
Inligting
Ouderdomsbeperking
13 L
Akteurs
Zikhona Bali, Themba Nyandeni en Siyabonga Shibe
Sterre
3/5
Bruto Inkomste
0