Tess – ʼn Kolskoot | Bioskoop

Tess

ʼn Kolskoot
Film

Film

Info

Teks: Gegrond op die roman Whiplash, deur Tracey Farren
Regie: Meg Rickards
Met: Christia Visser, Brendon Daniels, Lee-Ann van Rooi, Nse-Ikpe-Etim en Dann-Jacques Mouton

boondogle.co.za

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Artikel Skrywer

Anna-Marie Jansen van Vuuren is ‘n dosent by die Departement van Joernalistiek, Film en Televisie by die Universiteit van Johannesburg. Sy is sedert Desember 2006 ‘n vryskut joernalis vir Monitor, Spektrum en Naweek-Aktueel, die nuusaktualiteitsprogramme van RSG (SAUK Radio).

Lees Meer

Die eerste skoot in die fliek Tess is van die see. Dan trek die kamera terug en wys vir ons die kus van Muizenberg, terwyl ons hoor hoe die karakter Tess vir haar ma ’n storie vertel. ’n Seemeeu vlieg oor die skerm, terwyl ons ’n voorsmaak van Tess se se droë humorsin kry. Sy belowe dat sy na haar ma toe sal vlieg en die waarheid sal saambring. Die see is rustig, Tess is rustig en die kyker is rustig. Die kyker word in die seemeeu se skoene geplaas, terwyl dit al hoe nader aan Tess se woonstel vlieg – en meteens ruk ’n harde geluid en ’n skokkende visuele kameraskoot die kyker uit sy mymering – reg in die aksie in. Heel gepas vir die fliek wat uit die roman Whiplash aangepas is. Ook heel gepas om die voël te beskryf wat in Tess se vensterruit vasgevlieg het.

Die twintigjare Tess gaan stel ondersoek in, maar waag dit nie om té na aan die seemeeu te kom nie. Later ontdek ons sy is bang vir voëls, want haar ma het haar van kleins af gewaarsku dat sy haar “koekie moet toeknyp, anders gaan die voëls invlieg”. Dit is ’n metafoor wat om oënskynlike redes eintlik beter in die fliek se Afrikaans as in die oorspronklike Engels van die roman werk. Des te beter die visuele skote van die voëls wat gereeld as ’n “leitmotif” ’n verskyning in die fliek maak.

Tess is onder meer die handewerk van Meg Rickards, bekroonde mede-regisseur van die internasionele dokumentêr, 1994: The Bloody Miracle, se eerste vollengte rolprent. Rickards het baie kreatiewe aanpassings vanaf die roman na die silwerdoek gemaak. Waar Tess in die roman byvoorbeeld haar kouse stryk, stryk sy in die fliek haar deurtrekkertjie, want anders voel sy vuil. Dit is dié tipe aandag aan klein dingetjies, wat Tess so ’n treffende kykervaring maak.

Buiten vir die seemeeue wys Rickards en kinematograaf, Bert Haitsma, ook gereeld vir ons die see. Ons sien die see as dit rustig is én as dit ontstuimig is – en hierdie beelde gee vir ons ’n indikasie van wat in Tess se gemoed aangaan. En Tess – ’n sekswerker – gaan gereeld deur ontstuimige tye.

Tess word vertolk deur Christia Visser, wat reeds naam gemaak/presteer/haar onderskei het in flieks soos Ballade vir ’n Enkeling en Hollywood in my Huis. Maar buiten vir Alison, is hierdie haar uitdagendste rol tot nog toe. Visser is deel van die rede hoekom ek nooit van die skerm kon wegkyk nie. Haar oë en haar houding maak dialoog skaars nodig. En dít is tog wat ’n rolprent moet wees –’n storie wat visueel met handeling (aksie) en klank vertel word – en nie deur dialoog gedra word nie. ’n Kyker kan sien hoekom die fliek vir al hierdie aspekte (kinematografie, redigering en toneelspel) by rolprentfeeste vereer is. Ek sou nog ’n prys vir klankontwerp wou byvoeg as ek kon. Dit is subtiel, maar dra by tot die ryke ervaring van die storie.

Intussen hoef Visser se mede-akteurs nie ’n tree terug te staan nie. Die fliek wys net weereens dat Brendon Daniels (iNumber Number, Four Corners), wat al veel lof ingepalm het vir sy Suid-Afrikaanse rolprente, asook Dann-Jacques Mouton (Abraham, Noem my Skollie) nogal onderskat word in die Afrikaanse mark. En Lee-Ann van Rooi, wat gereeld Fiësta en ander teatertoekennings losslaan, kan ook gerus meer ’n draai op ons skerms maak. Tess se buurvrou, wat soos ’n regte moederhen om haar kloek (Nollywood-aktrise, Nse Ikpe-Etim) het my ook opnuut weer geloof in my medemens gegee.

Daar is wel ’n paar skuiwergate in die storielyn of plot, veral aan die einde van die fliek waar dit effens uitgerek en langdradig begin voel. Van die kritiek wat ook al vantevore teen die fliek gerig is, is dat dit nie altyd vir die gehoor al die aspekte van die storie wys en verduidelik nie, veral in ’n paar sleuteltonele van die rolprent, waar ’n mens wonder wat dan nou eintlik van die karakters geword het. Maar nou ja, as Batman in The Dark Night dit kon regkry om in een toneel uit ’n gat te klim en sonder geld, makkers of “gadgets” tydens die volgende toneel by Gotham in te stap, kan ons Suid-Afrikaanse heldin seker met haar lewe voortgaan sonder om te veel tyd aan die polisie te spandeer…

Die storie volg vir Tess (Visser) wat in amper elke toneel van die fliek verskyn, op haar reis van genesing en oorwinning. Die waarheid word stelselmatig aan jou ontbloot en dan tref dit jou soos ’n kolskoot reg tussen die oë – die einste oë wat ook maar net nie van die skerm kan wegkyk nie.

Toekenings

*Durban Internasionale Rolprentfees: Beste Suid-Afrikaanse vollengte rolprent, beste redigering, beste aktrise (Christia Visser).
*Silwerskermfees: beste kinematografie, beste redigering, beste aktrise (Christia Visser) in die kategorie vir vollengte rolprente.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar