Susters

Soos die sterre, dalk net nie so helder nie

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Ek is seker ek was die enigste manlike kyker in die fliekteater met die kyk van Susters. Die titel verwys duidelik ook na die eintlike teikengehoor.

Wanneer Martie Bekker (Annalise Weiland) die tydelike met die ewige verwissel, stuur sy haar laaste wens aan haar drie aangenome dogters om ’n “road trip” deur die Karoo te neem, en op ’n spesifieke tyd haar as by haar strandhuis in Cape Agulhas te gaan strooi.

Jo, Lexi en Cecile het hul maltrap-ma wat met die maan gepla was, jare laas gesien en mekaar selfs nog langer terug. Deesdae is Jo (Diaan Lawrenson) ’n baie suksesvolle mode-ontwerper in Londen, Lexi (Leah) ’n entomoloog wat onlangs ’n nuutondekte wurm in Mongolië bestudeer en Cecile (Quanita Adams) ’n besige ma van drie. Die hartseer tyding en hul ma se wens word aan hulle oorgedra deur Martie se jarelange verpliëer, Frans (Sean Marco Vorster). Frans word opdrag gegee om alle elektronika en kommunikasie by die drie af te vat en hulle “oppasser” te wees tydens die reis. Uiteindelik ontdek die drie uiteenlopende susters, wie se middelname van die gelyknamige sterre in Gordel van Orion kom, meer as net mekaar se sustersband.

Susters het my by tye verras en by tye verveel. Diaan Lawrenson se Jo-karakter was die meer interresante suster om dop te hou. As kyker besef ’n mens weereens hoe veelsydig die talentvolle Diaan is, veral ná haar rol in die onlangse treffer Raaiselkind. Leah, wat bekendheid verwerf het in die musiekbedryf, maak haar filmdebuut as Lexi, wat met sekere tonele gesukkel het om my te oortuig dat sy ’n entomoloog is. Die karakter Cecile is verfrissend. Ek moet bieg dat ek my voorberei het vir een van Quanita se eksentrieke, selfs luidrugtige, karakters wat sy gewoonlik met oorgawe speel, maar Cecile was hier die meer intense karakter van die drie, met sommige tonele wat die kyker ná die eindtitelrol sal bybly. Die nuweling Sean Marco Vorster as Martie se versorger Frans, en ook die enigste manlike karakter, werk goed op kamera, maar sommige van sy dialoog sit effens ongemaklik in sy mond, en ek het hardop gewonder in hoe groot ’n mate die skrywers hiervoor verantwoordelik was.

Tegnies voel ek dat Susters ’n goed gebalanseerde produksie is, met kamerawerk wat nie te veel (negatiewe) aandag trek nie, met die Karoo as agtergrond wat mens na langpad vakansies verlang. Ek voel wel dat die spesiale effekte onnodig was, en dat dit voor die hand liggend is dat die skote van die aarde en maan onrealisties en goedkoop lyk. Die idee om sanger Jo Black by die storielyn in te werk as ’n “side joke” was vir my vreemd en ek voel dat dit moontlik die enigste manier was hoe die filmmakers Jo kon vergoed omdat een van sy treffers indie film gebruik is.

Susters kan beskryf word as ’n Afrikaanse “road trip-chick flick” met snaakse, sowel as knop-in-die-keel oomblikke. Dis ’n fliek vir almal, maar veral vir ma’s en hulle dogters op ’n luilekker Saterdagaand. Dié lighartige komedie is een wat jou nie sommer lank sal bybly nie, maar wel dalk sal aanspoor om jou suster wat oorsee bly te Skype en lekker saam te lag (of te huil) oor iets uit die verlede.

Inligting

}

Speeltyd

95 min

i

Teks & Regie

Corine du Toit, Sandra Vaughn | Corné van Rooyen

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

 7–9PG D

Akteurs

Diaan Lawrenson, Leah, Quanita Adams, Sean Marco Vorster

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring