Sonskyn Beperk | Bioskoop

Sonskyn Beperk

Biermaak is 'n Hartsaak

deur gasresensent vir Bioskoop, Roelof Bezuidenhout

Film

Info

Regie: Maynard Kraak

Met: Neels van Jaarsveld, Anelle Bester, Vere Tindale, André Roothman, André Samuals en Shamilla Miller

www.westfivefilms.com

Roelof Bezuidenhout

Roelof Bezuidenhout

Artikel Skrywer

“Roelof Bezuidenhout is ‘n voormalige Kwêla redigeerder en regisseur wat tans lektor en Hoof van die Televisie Departement by die Boston Media House-groep is. Foto: Nightowl Media Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

Afrikaanse films het eers redelik onlangs begin wegbreek van die genre waarvoor dit al só bekend geword het, naamlik drama. Deesdae word daar met ander onderwerpe ook geëksperimenteer. Sonskyn Beperk is ’n goeie voorbeeld van ’n nuwe film wat daarin slaag om drama, komedie en romanse te vermeng.

Die film is ook ’n bewys daarvan dat daar wel nog nuwe stories is om te vertel – al word ou konsepte gekombineer om ’n nuwe storie te skep. Een verhaal wat ons wel nog nie gesien het nie, is hoe Suid-Afrika se nuutste craze, naamlik craft-bier, as sentrale lyn deur die storie verweef word. So min soos wat ek van enige bier hou (ek’s ’n Pinotage man!), so baie was ek beïndruk met hoe oorspronklik én gepas hierdie konsep in Sonskyn Beperk gebruik is.

In Sonskyn Beperk los Anya (gespeel deur Anelle Bester) haar hoogs suksesolle beroep en kêrel, Jacob (Vere Tindale), in New York agter om terug te keer huistoe waar haar pa, Marius (André Roothman), op die nippertjie is om die familieplaas te verloor.

Terwyl hulle spook om hul gebroke verhouding te probeer red, besluit Marius om sy hart oop te maak teenoor sy dogter, en stel hy haar bekend aan sy nuutse tydverdryf: die maak van craft-bier.

Maar Anya het ’n kop vir syfers en is glad nie gelukkig met hierdie onthulling nie – hul staan op die rand van bankrotskap en ’n nuwe stokperdjie is nie nou regtig die antwoord nie!

Terselfdertyd ry die selfvoldane Ruan (Neels van Jaarsveld) die land plat op soek na die resep vir ’n nuwe, plaaslike craft-bier wat ’n “storie vertel” en indien hy Marius se bier kies, dit hul familiebesigheid van krag tot krag sal laat gaan, asook Ruan se toekoms en aandeel daarin sal verseker.

Natuurlik doen hy aan in ’n pragtige plattelandse dorpie waar hy en Anya se aanvanklike ontmoeting by die plaaslike watergat “elektries” is – maar nie op ’n goeie manier nie (meer soos die skok as jy jou vinger in ’n kragprop sou druk).

Ruan hoor van Marius se potensiële wenresep en besluit om ’n draai op die plaas te maak. Die gevolg hiervan is dat Anya en hy geforseer word om tyd saam te spandeer, waarna die liefdeswolkie se silwer randjie al breër raak. Maar ’n nuwe donderstorm dreig wanneer iemand uit die verlede besluit om ook sý opwagting te maak…

Wanneer Anya gedwing word om ’n besluit te neem, is ook hier die punt in die storie waar ek vir die eerste keer gevoel het André Roothman se ware talent as akteur na vore kom. Dit het ’n rukkie geneem, en veral iets omtrent die tonele waarin pa en dogter mekaar weer probeer vind het, het net nie natuurlik gevoel nie. Dis asof Roothman nog opgewarm het vir die rol.

Maar wanneer Marius vir Anja begin raad gee oor sake van die hart, het ek gevoel Roothman is terug. Dis hier waar hy waarlik Marius geword het. Wat die res van die spelers betref… wel, ek het ’n ding vir ’n regte Amerikaanse aksent, en Tindale het daai ietsie ekstra na die partytjie gebring.

So bekend en gerespekteerd soos Neels van Jaarsveld teen dié tyd is, het dit my ’n rukkie geneem om hom regtig te waardeer in sy rol as Ruan. Die oomblik as die sogenaamde driegeveg eers begin momentum kry, haal hy ook uit en wys as akteur.

Dan is daar die twee relatiewe nuwelinge, Rusty die plaaslike kroegvlieg (André Samuals) en Nicola, Anya se jarelange vriendin (Shamilla Miller), wat hulself fantasties van hul taak gekwyt het. Ek het só gehoop om meer van hulle te sien.

Dit was wel vir my ’n uitstekende voorbeeld van hoe belangrik dit is om die regte akteurs in die regte rolle te plaas, maak nie saak oënskynlik hoe klein so ’n rol mag wees nie. Dit is ’n jammerte dat sommige van die karakters in Ruan se pa se kantoor glad nie beïndruk nie. Hulle spel was veronderstel om meer komiese verligting te bied, maar het inteendeel baie onnatuurlik, geforseerd en onprofessioneel gevoel.

Die werklike show stopper was Anya. Anelle Bester is self relatief onbekend en dié was haar eerste hoofrol in ’n film. Sy was ongelooflik! Sy het dit foutloos reggekry om elke woord haar eie te maak. Sy herinner my aan ’n jong Anna-Mart van der Merwe: ’n diepe onskuld wat gepaardgaan met ’n tikkie onverklaarbare donkerheid. Ek dink die enigste probleem hiermee is dat sy dalk eintlik net haarself gespeel het, en net tyd sal leer of sy ook net so goed in ander rolle sal wees. Maar hoe dit ookal sy, Bester is beslis ’n talentvolle nuwe fonds en ’n groot aanwins vir die Suid-Afrikaanse filmbedryf.

Wat die tegniese sy betref, was ek oor die algemeen tevrede. Die Kaapse natuurtonele het soos in soveel ander Afrikaanse produksies ’n karakter op sy eie geword. Lang, wye skote het die atmosfeer en landskap mooi vasgevang en beklemtoon. Ek sou egter meer van hierdie eg Suid-Afrikaanse natuurtonele gebruik het, en dit ook langer op die skerm gehou het. Dit het soms net te lukraak en uit plek uit gevoel.

Daar was ook minstens drie tonele waar gesprekke rondom ’n tafel plaasgevind het en die konstante gebruik van bewegende kameras het in hierdie gevalle hopeloos te veel geraak. Die kamera het aanhoudend in en uit beweeg op elke karakter se gesig en ek het gewag dat daar darem net ’n bietjie wegbeweeg sou word van hierdie tegniek, wat tradisioneel gebruik moet word om die kyker meer of minder betrokke te kry by dit wat die karakter sê, ook na aanleiding van die intensiteit van die dialoog.

Die musiekkeuse was interessant en het my nogals laat wonder: behalwe vir net twee Afrikaanse nommers (deur die jong, nuwe musieksensasie Brendan Peyper, asook deur Martin Bester), was die hele klankbaan Engels. Alhoewel die verskillende snitte perfek gekies was (en dis seker al wat belangrik is), het ek tog gewonder of dit regtig geskik is vir so ’n eg Afrikaanse film, behalwe as dit gedoen is met ’n uiteindelike internasionale kyker in gedagte?

En om ’n heel aangename ervaring af te rond, eindig hierdie rolprent op ’n baie hoë noot en het hierdie fliek wel ’n heerlike smaak in my mond – en hart – gelaat.

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami