–
Skemerson
Elke wolkie het ‘n silwer randjie
Resensie
Deur
Roelof Bezuidenhout
Met wat seker een van die mees treffende openingskote is wat ek in ‘n lang tyd gesien het, maak Skemerson jou met die intrapslag nuuskierig om meer te weet. Wie is die man wat so alleen op die water dryf, en wat gaan volgende gebeur?
Geestesversteurings is nie kinderspeletjies nie. Spesifiek depressie is seker een van die bekendstes (waaroor daar al films gemaak is), maar Skemerson fokus egter op ‘n minder bekende groepering van angstoestande, naamlik Obsessief-kompulsiewe Steurnis, oftewel OKS, waarvan ‘n patalogiese twyfelversteuring ‘n algemene kenmerk is. Wat so verfrissend is van hierdie verhaal, is dat dit deur Pietie Beyers geskryf is, wat sélf ondervinding met hierdie toestand het. Dis dus losweg geïnspireer deur sy eie lewenservaring, hoewel dit nie volgens hom ‘n outobiografie is nie.
Sella (gespeel deur Pietie Beyers), is ‘n dokter wat aan OKS lei. Sy ma is onder sy eie toesig oorlede en hy kan nie ophou om homself daarvoor te blameer nie. Die toestand gaan dus onder meer gepaard met ‘n aanhoudende skuldgevoel vir dinge waarvoor jy nie (noodwendig) verantwoordelik was nie, wat weer lei tot ‘n gevoel van hulpeloosheid en hopeloosheid. Ek hou van die idee dat hy juis ‘n dokter in die fliek is, want dit versterk die feit dat jy nie kies watter siekte of toestand jou kant toe kom nie, en dat dit nie saak maak wie of wat jy is nie. Jy het net so min beheer daaroor as die volgende persoon. As ‘n dokter, weet hy tog als van OKS af, maar dit stel hom geensins vry van die steurnis se greep nie.
Hy is na sy familie se vakansiehuis in die Oos-Kaap op pad, waar dit lyk of hy vir oulaas daarvan (asook van die lewe) wil afskeid neem. Maar dan kom Lidi (gespeel deur Elize Cawood) en haar dogter Emma (Anneke Weideman) uit die bloute op sy pad, en vir die res van die speeltyd sien ons hoe Sella (die naam beteken “plek van vrede” in Hebreeus) aan hulle oopmaak, en uiteindelik nuwe hoop kry.
Lidi, wat kanker het, speel die wyse ou uil met al haar lewenslesse en kwinkslae, onder meer “Álmal is vol pyne en foute” en “Wanneer mense fisies siek is, praat hulle maklik daaroor, maar wanneer dit by die gees kom dan raak mense huiwerig”. Cawood se vertolking van Lidi is natuurlik in die kol, en sy bring ‘n sjarme aan die karakter soos net sy kan.
Nabyskote regdeur die film betrek die kyker by elke emosie, sodat jy saam met die karakters lag én huil. Daar word ook soms in die klankbaan gefokus op asemhaling, wat goed werk om die kyker se aandag daarop te vestig. Nog ‘n toneel waar ek my eie asem opgehou het is toe Sella van die Bloukransbrug wou spring. Ek kon regtig sy angs vóél. Lang skote, aan die ander kant, word effektief gebruik om die karakter se isolasie en innerlike alleenheid vas te vang. Oorspronklike musiek deur Riku Lätti was baie gepas, en het onderskeidelik die onheilspellende en opgewekte oomblikke aangekondig en versterk.
Ek het veral van die beligting regdeur die film gehou. Dit was regtig uitsonderlik mooi. Die gebruik van lig en donker is ook knap aangewend: ‘n voorbeeld is waar Emma in die warm lig van haar huis staan, en dan uitstap na Sella wat buite in die donker op die trap sit. Tonele soos hierdie vang die gemoedstoestande van die karakters in daai oomblik vas. Nog ‘n tegniek, en ek is nie seker of dit noodwendig (oral) met opset gedoen is nie, was die gebruik van kleur. Blou verwys in die algemeen na die see en die lug, en dit het ‘n kalmerende uitwerking op die siel. Maar dit het ook ‘n negatiewe konnotasie, naamlik die van koue, hartseer en depressie. Sella word regdeur die film gesien in dieselfde blou hemp, waar hy aan die begin van die film in blou water dryf, dan van sy blouerige, donker huis na sy vakansiehuis gaan, wat soos baie vakansieplekke óók van binne blou geverf is, of net lyk. Hierna is daar baie skote van hom by die blou see met die blou lug. Hierdie is als in skerp teenstelling met die warm, geel, hout afwerking van Lidi en Emma se huis. Dis waar Sella opeindig om weer geluk te vind… Emma se kleurskema is amper gryserig, wat ‘n neutraliteit voorstel, terwyl Lidi weer baie helder, opgewekte kleure dra soos rooi (liefde, warmte, passie) en geel (vreugde, positiwiteit en geluk).
Laastens het ek gehou van die dialoog. Niks het geforseerd gevoel nie en ek was bly om te hoor dat die karakters gepraat het soos ek verwag het, met Engelse woorde tussendeur en al – alles op die regte plek.
Die enigste tonele wat gepla het, was heel aan die begin. Ons sien nooit regtig waarvandaan hy reis nie (nie dat dit saak maak nie), maar mens wil darem ‘n idee hê dat hy vir ‘n uur of twee, of ‘n hele dag moes reis om by sy bestemming te kom. Ons hoor wel hoe hy Zulu praat met ‘n petroljoggie, en aangesien daar Xhosa gepraat word in die Oos-Kaap kan ons aanneem hy kom van ‘n ander provinsie af. Gauteng? KZN? En ek wonder ook hoeveel mense weet waar hy dan opeindig? Nie almal weet dat dit juis die Bloukransbrug is, en dat dit in die Oos-Kaap is nie. ‘n Naambord of twee, en/of ‘n nommerplaat (wat mens kan uitmaak), sou dalk kon help…
Skemerson is meerendeels baie neerslagtig en uitermatig stadig, en met goeie rede, want dit handel oor ‘n baie ernstige saak. ‘n Mens moet in die regte stemming daarvoor wees. Moet dus nie met enige vooropgestelde verwagtinge met die springmielies voor die skerm neerplons gereed vir ligte vermaak nie. Dit het wel komiese oomblikke, waarvoor jy heerlik sal giggel, maar mens loop tog ook met ‘n positiewe boodskap of drie weg. Een van my gunstelinge is (in die woorde van Lidi): “In hierdie lewe moet jy nie oppas nie – jy moet aanpas”, en dan natuurlik wat sekerlik as die film se oorhoofste boodskap beskou kan word: “Daar’s altyd hoop, en daar’s altyd hulp”.
Inligting
Speeltyd
87 min
Teks & Regie
Pietie Beyers | Phillip Rademeyer
Webtuiste
Skerms
25
Ouderdomsbeperking
10–12PG
Akteurs
Pietie Beyers, Elize Cawood, Anneke Weidemann
Sterre
4/5
Bruto Inkomste
0