Sink

Subtiel Intelligent N Krities

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

“Dit was ’n ongeluk.” “Dit was ’n ongeluk. “Dit was ’n ongeluk.” Dit is die enigste keer wat herhaling in die fliek voorkom. Want die regisseur van Sink, Brett Michael Innes, verstaan meer as baie ander wat die visuele taal van ’n rolprent behels. In stede van deur dialoog, kommunikeer Innes deur die oë van sy karakters – en die twee hoofaktrises, Shoki Mokgapa en Anel Alexander, kwyt hulself uitstekend van hulle taak om hierdie subteks en ongemaklikheid tussen dié twee hoofkarakters uit te wys.

Dit is juis hierdie voorafgenoemde ongeluk wat die stremming tussen die huiswerker, Rachel (Mokgapa) en haar werkgewer, Michelle (Alexander) veroorsaak. En die rolprent ondersoek met ’n diep sensitiwiteit hoe die twee hoofkarakers die situasie hanteer en hoe hulle besluite die karakters rondom hulle, veral Michelle se man, Chris Jordaan (uitmuntend vertolk deur Jacques Bessenger), beïnvloed. Met dié dat Sink se vertelling soveel geskoei is op die spanning wat deur die storielyn (oftewel “plot points”) geskep word, is die resensent huiwerig om meer hiervan weg te gee. Maar haar advies aan die kyker is: Trek maar jou swemvlerkies aan, want as die stroom jou eers voortsleep, sal jy vasgenael op die punt van jou stoel sit om te sien hoe die storie homself gaan uitspeel en of daar wel versoening tussen die karakters gaan kom.

Dit is eintlik heel gepas dat die onderskeie karakters se oë só ’n groot rol speel om ons te vertel wat in hulle siele aangaan, want Innes het juis die kunstenaar Johannes Vermeer as ’n verwysing gebruik. Vermeer was ’n Hollandse skilder uit die sewentiende eeu wat veral op sy onderwerpe se oë gefokus het (lesers sou dalk al van sy kunswerk Girl with a Pearl Earring gehoor het). Verder het Vermeer ook op sy onderwerpe se middelklas bestaan gefokus en hulle veral in ’n beknopde vertrek uitgebeeld. Innes gebruik hierdie styl op ’n gepaste manier om te wys hoe die Jordaans se weelderige huis en meubelstukke ’n verdere benoudheid vir hulle reeds getraumatiseerde huiswerker skep.

Vir die Afrikaanse teikenmark, waar ’n groot deel van die gehoor hulself kan vereenselwig met ’n huiswerker wat net nog altyd daar was en soms onsigbaar raak tussen die geharwar van ons daaglikse bestaan, vra Innes aktuele vrae oor ons hedendaagse samelewing en die verhouding wat ons met ander handhaaf. Met xenofobie wat gereeld in die nuus is, is dit ook heel gepas dat Rachel (Mokgapa) van Mosambiek afkomstig is (alhoewel die resensent eers vir ’n lang ruk in die fliek gedink het sy het eintlik ’n Franse aksent). Haar herkoms uit ’n arm vloedgeteisterde gebied pas ook heel goed by die “leitmotiv” van die swembad waarmee die kyker gereeld gekonfronteer word.

Laasgenoemde swembadtonele is wel seker die enigste groot kritiek wat die resensent op Sink het. Die swembad en “creepy-crawly” is ’n gepaste metafoor vir die monster wat in die gesin se tuin sluimer, maar ek voel dit sou sy doel gedien het om dit een of twee keer in die rolprent te wys en die kyker nie gedurig daarmee te konfronteer nie. Alhoewel ek die tegniek daar agter verstaan, raak dit soms ’n bietjie afgesaag.

Om af te sluit: Sink is nie verniet deur Leon van Nierop aangewys as een van die top tien rolprente wat nog ooit in Afrikaans gemaak is nie. Dit vra ongemaklike vrae oor ons samelewing en ons gemeenskap se denkwyses, soortgelyk aan Jans Rautenbach se Die Kandidaat en Katrina – op ’n subtiele, visuele manier. Maar nou is die vraag – is ons Afrikaanse gehore bereid om só ’n fliek by die loket te gaan ondersteun? Is jý?

Inligting

}

Speeltyd

110 min

i

Teks & Regie

Brett Michael Innes

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

13

Akteurs

Shoki Mokgapa, Anel Alexander, Jacques Bessenger

Sterre

5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring