Siembamba – ’n Lig in die donker vir die gruwelfilm | Bioskoop

Siembamba

’n Lig in die donker vir die gruwelfilm
Film

Film

Info

Met: Reine Swart, Deànré Reiners, Brandon Auret en Thandi Puren

Regie: Darrell Roodt

Teks: Tarryn-Tanille Prinsloo

Speeltyd: 96 min

Ouderdomsbeperking: PG

phoenixfilms.co.za

Roelof Bezuidenhout

Roelof Bezuidenhout

Artikel Skrywer

Roelof Bezuidenhout is ‘n voormalige Kwêla redigeerder en regisseur wat tans die Akademiese Bestuurder vir Televisie, Radio en Klank by die Boston Media House-groep is. Hy het sy Honneursgraad in Bedryfskommunikasiekunde aan die Noordwes-Univeristeit behaal, waarna hy as kameraman-regisseur op programme soos AgriTV, TourismBIZ, en Ulimo (SABC 2 en 3) gewerk het.

 Lees Meer

Siembamba is ’n bekende Afrikaanse wiegeliedjie wat gebruik word om baba’s rustig te maak, maar daar is eintlik ’n baie donkerder betekenis. Die herkoms van hierdie woord is onseker en daar is verskeie weergawes wat wissel van die woord se Portugese en Maleise wortels, regdeur tot die verduideliking dat ’n Xhosa-vrou die liedjie aan Boere-kinders tydens die Anglo-Boereoorlog gesing het. Pa-en-seun-filmspan, André en Samuel Frauenstein, se gruwelfliek, Siembamba, fokus op nóg ‘n ander moontlike betekenis: die mite dat vrouens wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die konsentrasiekampe verkrag is, nie die kinders wou hê nie, as gevolg van die besmette bloed wat dan deur hul are sou vloei. Vroedvrouens het ongehude moeders gehelp om van die baba’s ontslae te raak en dis op hierdie idee (as ’n metafoor vir postnatale depressie) waarop die fliek geskoei is.

Die film vertel die storie van 19-jarige Chloe van Heerden (Reine Swart) wat na haar tuisdorp terugkeer nadat sy weggeloop en swanger geraak het. Selfs met die hulp en ondersteuning van haar ma, Ruby (Thandi Puren), sukkel sy om in hierdie onverwagse en onbeplande rol as ouer in te pas. Sy verval in ’n diepe depressie en sien gevaar in elke situasie waar haar seun ter sprake is. Chloe besoek haar familiesielkundige, Dr. Timothy Reed (Brandon Auret), wat aanvanklik haar angstigheid en vrese afmaak as normaal vir ’n nuwe ma. Ongelukkig vererger haar visioene van ’n vreemde figuur, terwyl sy haar verder verbeel dat sy die geneurie van ’n wiegeliedjie hoor. Dis net sy teen die wêreld en Chloe vind uiteindelik ’n mate van troos in Adam (Deànré Reiners), ’n vriend uit haar kinderjare. Haar pasgeborene is egter steeds in gevaar, of is hy?

Op die plaaslike front is daar al redelik met die riller-genre geëksperimenteer, maar die gruwelfliek is nog in sy doeke. Gelukkig was die vervaardigers geseën met ’n gesoute span, beide voor én agter die kameras. Nie net kon hulle spog met ’n Oscar-benoemde regisseur, Darrell Roodt, op die stel nie, maar ook met ander spanlede wat toekennings ontvang het – onder meer die “Grand Champion Performer of the World”-toekenning wat Deànré Reiners ontvang het, asook Cannes Lions en Grand Prix-trofees vir die film se klankontwerper, Alun Richards.

Uit al die filmgenres is die gruwelfilm die een waarvan ek die minste hou. Om die waarheid te sê kan ek slegs twee onthou wat ek enigsins gesien het: een van die Saw films, en een van die The Ring films. Ek vermy dit gewoonlik soos die N1 in spitsverkeer, en almal wat my ken weet om my nie te nooi indien ’n gruwel deel is van die fliekbeplanning nie. So hoekom het ek dan Siembamba gaan kyk? Ek glo daarin om een keer ’n jaar iets nuuts te doen, en/of ’n vrees te oorkom. So was valskermspring en kerrie al op die lys, en hierdie jaar was dit ’n gruwelfliek…

Ek was oor die algemeen beïndruk met die toneelspel. Met só ’n sterk span kon dit nie anders nie. Reine Swart in die hoofrol was gemaklik en oortuigend en Thandi Puren het uitgehaal en gewys. Dit was ook duidelik dat die verhouding tussen die ma en dogter karakters stram was. Brandon Auret in sy rol as die familiesielkundige, Dr. Timothy Reed met sy skoenlapperversameling, het ’n amper onheilspellende gevoel gegee aan elkeen van sy tonele, en met sy unieke gesigsuitdrukkings laat hy jou heeltyd wonder aan wie se kant hy eintlik is. Deànré Reiners as Adam Hess het nie soveel speeltyd as die res nie, maar het dit steeds reggekry om homself goed van sy taak te kwyt as die “seun langsaan”. Sy karakter het oor die verloop van die film verander van heeltemal onskuldig tot ’n wete by die kyker dat daar iets aan die broei is. Die gesegde dat ’n ketting net so sterk soos sy swakste skakel is, is veral van toepassing op films wanneer dit by die ondersteunende rolle en byspelers kom, en ek is net dankbaar dat hierdie rolle óók van ‘n baie hoë gehalte was.

In terme van die omgewing, was Kaapschehoop in Mpumalanga die regte keuse. Dié mistige, misterieuse dorpie (wat Eden Rock in die fliek genoem word) het beslis gehelp om die gevoel van onheil in die kyker aan te wakker. Verder was die kamerawerk van Justus de Jager, die grimering deur Mary-Sue Morris, asook die kunsdepartement onder leiding van Luarnae Roos, eersteklas. Ek moet egter die klank uitsonder, aangesien dit veral in die gruwelgenre ’n karakter op sy eie word. Alun Richards, met sy vele toekennings, tesame met die redigeerder, Leon Gerber, se knap werk, het dit reggekry om die kyker op ’n spanningsvolle grureis te neem wat in sommige tonele jou tone sal laat krul.

Dit is vir my positief as vervaardigers hulself uit hul gemaksones haal en iets nuuts probeer. Dis immers hoe ’n mens – en die rolprentbedryf – groei. Hopelik is hierdie net die begin van méér plaaslike gruwels. Ek sal self eers nog ’n gruwel onder oë moet kry voor ek kan sê of ek, net soos met die valskermspring, nóg ’n vrees oorkom het of nie. Maar minstens was dit ’n goeie begin.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar