Kaalgat Karel

Schalk Bezuidenhout en Tracey-Lee Oliver wys méér in Kaalgat Karel

Resensie

Deur

Gerhard Ehlers

“Jy laat mense lag Karel,jy laat mense goed voel”

In die laaste toneel openbaar Rita haar ewige liefde aan Karel, die hoofkarakter en kaalnaeler of “streaker” in die nuwe Afrikaanse komedie Kaalgat Karel.

Ek wens dat ek die gelyknamige Afrikaanse komedie ook met hierdie presiese woorde kon beskryf, maar ongelukkig is dit nie heeltemal die geval nie.

Karel Venter (gespeel deur Francois Jacobs) is die 30-jarige klasnar wat kaalbas moeilikheid maak en sy ‘followers’ vermaak op sy aanlyn video-kanaal. Wanneer hy gedurende een van sy maltrap-sessies ‘n golf toernooi omvergooi en dan van die sekuriteit vlug, beland hy letterlik ‘op die paal’ wanneer hy oor ‘n heining probeer spring.

Dan ontmoet hy die paramedikus Rita Swart (gespeel deur Christia Visser) en verloor sy hart op die donkerkop. Rita voel egter nie dadelik dieselfde oor Karel nie.

Rita is ‘n sukkelende enkelma van ‘n dogtertjie Bella, wat aan ‘n seldsame oogsiekte lei en moontlik kan blind raak. Sy soek ‘n man wat standvastig is,en vir haar en Bella kan sorg. Karel se grootste uitdaging kom in die vorm van die narsistiese spierpaleis, Dr JP (Eden Classens) -‘n plastiese chirurg wat sy oog op Rita en ook ander dele van haar lyf het.

 En so begin die sports om Rita se hart te wen.

Kaalgat Karel is met tye pret maar bou ongelukkig nie genoeg stoom op nie en daarom voel die film se klimaks miskien ook nie gróót genoeg nie. Die karakters is effens oppervlakkig, die grappies soms geforseerd en slaag nie altyd nie omdat die dialoog wat ongemaklik in van die spelers se monde sit.

Die film se grootste tekortkoming is die teks. Dit volg ‘n formule wat al te veel in Afrikaanse rolprente gesien is. Daar is geen onverwagse kinkels of karakters met bietjie “vleis” aan nie. Eden Classens se gespierde lyf, of Francois Jacobs se agterstewe tel beslis nie as daai “vleis” in dié geval nie. Die kamera huiwer ook soveel keer op die mans in hulle “speedos” dat dit ‘n mens aan falliese simbole laat dink.

Die enigste twee spelers wat die twee hoofrolle ore aansit, en soos ‘n vars bries deur ‘n louwarm film waai, is Schalk Bezuidenhout as Karel se bestuurder en beste pel Flip, en Rita se mede-paramedikus en beste vriendin Maria, gespeel deur Tracey-Lee Oliver. Dié twee se energie komplimenteer mekaar en ook die tonele waarin hulle speel. En hulle ís snaaks.

As jy van al jou probleme en die voortslepende pandemie wil vergeet, mag Kaalgat Karel dalk vir ‘n kort rukkie ontvlugting bied, al is die enigste rede Schalk Bezuidenhout en Tracey-Lee Olivier wat hulle goed van hulle taak kwyt.

Inligting

}

Speeltyd

81 min

i

Teks & Regie

Meg Rickards, Paul Egan | Meg Rickards

Skerms

35

s

Ouderdomsbeperking

13 L N S

Akteurs

Francois Jacobs, Christia Visser, Schalk Bezuidenhout, Siv Ngesi, Tracey-Lee Oliver, Eden Classens, Rosbelle Clasen

Sterre

2.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring