Sal die wond genees? | Bioskoop

Inexba

Sal die wond genees?
Film

Film

Info

Teks: Malusi Bengu, Thando Mgqolozana en John Trengove

Regie: John Trengove

Met: Nakhane Touré, Niza Jay Ncoyini, en Bongile Mantsai.

inxeba.com

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Artikel Skrywer

Anna-Marie Jansen van Vuuren is ‘n dosent by die Departement van Joernalistiek, Film en Televisie by die Universiteit van Johannesburg. Sy is sedert Desember 2006 ‘n vryskut joernalis vir MonitorSpektrum en Naweek-Aktueel, die nuusaktualiteitsprogramme van RSG (SAUK Radio). Sy behaal in 2016 haar PhD-graad in Kreatiewe Skryfwerk – Draaiboekskryf, met spesialisering in geskiedkundige rolprente, by die Universiteit van Pretoria.

 Lees Meer

Sal die wond kwaadaardig raak? Om ontsteking te vermy, moet jy mos ʼn wond skoonmaak. Maar dit kan dalk moeilik raak tussen die ruig bosse diep in die berge. Waar tradisie kan besmet of genesing bring – dit hang af van hoe dit aangewend word. Dít is van die kwessies wat regisseur John Trengrove onder die vergrootglas plaas in die bekroonde plaaslike fliek, The Wound.

Trengrove ondersoek die uitdagings van homoseksualiteit binne die konteks van ʼn tradisionele Xhosa inisiasiepraktyk. Trengrove het hierdie onderwerp reeds in sy bekroonde kortfliek van 2014, iBokwe, aangeraak, en brei dit nou in sy vollengte fliek uit.

Diegene van ons wat in dié bedryf werk, het dit al tot vervelens toe gehoor. Die media, insluitend rolprente, is veronderstel om ʼn weerkaatsing van die samelewing te bied. Om kritiese vrae te vra oor dít wat ʼn individu of groep as vanselfsprekend aanvaar. Dít is wat The Wound regkry, al is dit oor ʼn onderwerp wat nie in baie van ons se verwysingsraamwerk val nie.

“Do I smell like a bunch of goats?” eggo dit deur die veld, soos die versorger, sy groep kandidate (of inisiate) soos ʼn trop bokke aanjaag. Ons ontmoet Xolani (Nakhane Touré), wat met ʼn spesiale inisiaat, Kwanda (Niza Jay Ncoyini) toevertrou word, omdat Kwanda volgens sy pa “te sag” is. 

Dan volg ons die karakters deur die weke lange inisiasieproses. Dié proses waar die skape van die bokke geskei word, en net die wáre manne oorbly. Maar soos wat die inisiate een vir een die woorde “I’m a man!” uitskree, wonder ek wat beteken dit om ʼn ware man te wees? Dis nóg ʼn vraag wat die fliek vra. Is die regte man die sag en verfynde een (in die fliek se geval) wat opstaan vir geregtigheid, of die hardebaard wat gereeld die swakkeres afknou? Want eintlik handel die storie glad nie oor inisiasie nie – maar oor aanvaarding.

Die regisseur se aanslag is sensitief en diskreet, en die tonele is dikwels in die skemer of nagdonkerte gehul om van die elemente van die insisiasie-proses te respekteer. Ek het wel op sekere tye gedink die skote is dalk net té donker, want ek het gereeld soos ʼn nuuskierige agie gevoel wat probeer koekeloer wat aangaan.

Intussen wissel die kinematograaf Paul Ősgür gereeld sy wye skote met nabyskote af om op die karakters se gevoelens en reaksies te fokus. En daar is wel uiteenlopende reaksies en konflik onder die karakters. Die rebelse Kwanda (ʼn stedeling in murg en been) vervul die ware rol van ʼn sogenaamde “trickster”-argetipe – wat deurgaans Xolani se outoriteit uitdaag en hom ook uitlok om die onregverdigheid van sy verhouding met die getroude man,Vija, (Bongile Mantsai) raak te sien. Die regisseur, skrywers en akteur self (Touré) slaag daarin om Xolani se vrees vir verandering uit te beeld en hoe ʼn agtienjarige dit regkry om as ʼn sogenaamde agent van verandering op te tree. Of die verandering goed of sleg is, moet die kyker maar self besluit.

Gaan Xolani sy seksuele verhouding met Vija voortsit of gaan daar ʼn nuwe een tussen hom en Kwande ontstaan? Wag, laat ek nie die vel verkoop voor die bok geskiet is nie.

Touré en Ncoyini lewer uitstekende spel en die storie se spanningslyn hou die kyker enduit op jou tone. Daar is wel een of twee aspekte van die plot aan die einde van die fliek wat my laat kopkrap het.

Matthew James verdien ʼn pluimpie vir sy klankontwerp wat jou laat voel of jy ook dáár in die Oos-Kaapse berge saam met die karakters is – by die waterval of langs die kampvuur. Intussen skep João Orrechia se klankbaan net die regte balans vir die toon van die fliek. Dít terwyl die jolige samesang van die jong mans ook die positiewe sy van die inisiasiepraktyk wys en hoe dit regtig samehorigheid onder ʼn groep mense kan kweek.

Jy kan die pleister aftrek – maar gaan die wond regtig genees? Dít is die vraag wat die fliek subtiel aan die kykers vra. Die keiser is kaal. Almal is net te bang om iets te sê.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar