Raaiselkind – ʼn persoonlike resensie | Bioskoop

Raaiselkind

ʼn persoonlike resensie
Film

Film

Info

Teks: Pieter Esterhuizen met Annelie Botes.

Regie: André Velts

Met: Diaan Lawrenson, June van Merch, Deon Lotz, Anrich Herbst en Neels Clasen.

Speeltyd: 93 min

Ouderdomsbeperking: 13 V

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Artikel Skrywer

Anna-Marie Jansen van Vuuren is ‘n dosent by die Departement van Joernalistiek, Film en Televisie by die Universiteit van Johannesburg. Sy is sedert Desember 2006 ‘n vryskut joernalis vir MonitorSpektrum en Naweek-Aktueel, die nuusaktualiteitsprogramme van RSG (SAUK Radio). Sy behaal in 2016 haar PhD-graad in Kreatiewe Skryfwerk – Draaiboekskryf, met spesialisering in geskiedkundige rolprente, by die Universiteit van Pretoria.

 Lees Meer

ʼn Leë swaai. ʼn Leë kamer. ʼn Leë moederhart. Dís hoe ons Ingrid Dorfling (uitmuntend vertolk deur Diaan Lawrenson) leer ken. Kaalvoet en gestroop. Gebroke nes die borde en pierings op die vloer. Want Ingrid se outistiese seun, Alexander, het in die bad verdrink. En sý is die hoofverdagte in dié saak. Soos wat die speurder Ingrid boei en dwing om in die polisievoertuig te klim, só boei die regisseur André Velts jou en dwing jou as kyker om saam op dié reis te gaan.

Raaiselkind is ʼn ontstellende drama, maar een wat die moeite werd is om te kyk. In teenstelling met die Hollywood-stories van begaafde “savant” outiste in Rain Man (1988), Mercury rising (1998) en The Accountant (2016), wys hierdie fliek ʼn ander sy van outisme (oftewel Outisme Spektrum Versteuring). Een wat so akkuraat is, dat ek myself telkemale afgevra het: Hoe hét hulle dit reggekry om my ma-hulle se storie so goed te vertel? Want sien, ek het ook grootgeword met ʼn outistiese broer. Al was ek op daardie stadium klein en net deels bewus van die drama wat om my afgespeel het, het my ouers ook van hulle plattelandse dorp af na die groot stad gery: van pediater na pediater. Nes die geval van Ingrid en haar man Dawid (Neels Clasen), moes hulle luister hoe spesialiste met die een na die ander storie kom, en die kind dan weer vir toetse en nogmaals toetse verwys word. Ook die toets met die lang naald, wat eintlik nie veel antwoorde bring nie, net trane – vir die kind, sowel as die ouer wat moet toekyk hoe haar seun ly. Intussen wil die kerk bid vir genesing, nadat hulle eers die ouers geroskam het oor die “sondes van die vaders” wat hulle besoek. Dawid neem verband tot verband op hulle huis uit, en dus is die fliek se kunsontwerp karig en eenvoudig, soos die karakters se lewens. Afgerem, soos Ingrid.

Vir Ingrid is daar ʼn ligpunt in Miriam (June van Merch), die gelowige huishulp wat haar onderskraag – en een van die min mense wat tot Alexander kan deurdring. Want soos Ingrid in haar eie woorde dit eggo, “Bitterbessie dagbreek, bitterbessie son, ʼn spieël het gebreek tussen my en hom…” Van Merch tot Lawrenson, elke akteur lewer spel van die hoogste gehalte. Selfs, en veral, die nege-jarige Ian Roelofs, wat die rol van Alexander vertolk. Die manier waarop hy sy vingers teen mekaar vryf en met sy hande vlappend langs sy kop speel, is beelde wat ek al by baie sulke kinders gesien het. Daarom wil ek ʼn pluimpie vir die regisseur gee dat hy sulke spel van só ʼn jong akteur kon uitlok. Velts het wel reeds met Die Pro gewys dat hy in jonger karakters se psiges kan inklim. Maar die Bioskoop “Oscar” gaan aan Lawrenson, want die manier waarop sy empatie vir haar karakter gekweek het, kon die fliek máák of breek. Onderliggend hieraan is Quinn Lubbe se klankbaan wat die karakters se emosies soos garing deur die storie ryg, terwyl ʼn mens salig onbewus is van vervaardiger Sally Campher se hand wat alles bymekaar bring.

Raaiselkind gebruik ʼn variasie van wye en nabyskote: Wye skote terwyl ons as regte “voyeurs” of toeskouers van buite op die karakters se lewens inkyk; en dan weer nabyskote wanneer ons hulle diepste emosies op hulle gesigte moet lees. Maar die beste oomblikke is dié waar die kamera deur die trappe loer. Met dié skote wys Velts en kinematograaf Amelia Henning vir ons hoe Alexander na die wêreld rondom hom kyk – en beleef ons deur sy oë sý werklikheid – en tog – verstaan ons steeds nie. Ons verstaan steeds nie wat in sy kop aangaan nie. Dit bly ʼn raaisel.

Toe ons klein was het lopende water ʼn bekoring vir my broer (Pieter) ingehou. Hy het dikwels die wasbak verstop en dan die krane van die wasbak oopgedraai – sodat hy na vallende water kon kýk en kýk en kýk. Ek kon nooit besluit of dit die klank of beeld daarvan, of ʼn kombinasie van altwee was nie.

Op dieselfde manier sien ons in Raaiselkind Alexander se liefde vir die see: Is dit die klank van die branders wat ʼn kalmerende uitwerking op hom het? Of die beeld van die rustige watermassa wat nimmereindigend voor hom uitstrek? Al hierdie vrae en nog meer laat die speurder (Deon Lotz) kopkrap. Wat het wérklik daai dag gebeur?

Gaan kyk die fliek, anders sal dit altyd ʼn raaisel bly.

Skrywersnota

My broer, Pieter, is vandag 30 jaar oud en my beste vriend. Hy praat vlot Afrikaans en Engels. Buiten strokiesprente lees, is fliek en koffiemaak sy gunsteling tydsverdrywe. My broer is nie “savant” of “asperger” nie, en in sy hart is hy steeds ʼn kind. Daar is wel moeilike dae, maar die ander dae maak dubbel en dwars op daarvoor. Die geheim is liefde, aandag en stimulasie. Maar bowenal aanvaarding.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar