Nul is Nie Niks Nie

’n Roerende blik op die betekenis van die lewe

Resensie

Deur

Dee Theart

As ’n mens die woord “nul” in die H.A.T. opsoek, vind ’n mens terme soos “niks” en “sonder enige waarde” onder die definisiebeskrywing. Die rolprent Nul is Nie Niks Nie se titel lok dus alreeds vanaf die staanspoor debat uit met hulle eiesoortige siening en nooi die kyker om te ontdek hoekom nul dan wel blykbaar iets is.

Die ervare kinderboekskrywer Jaco Jacobs (hy het al meer as 100 jeugboeke die lig laat sien) se boek, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, dien as basis vir hierdie rolprent. Draaiboekskrywer, Lizé Vosloo, tesame met haar mede-vervaardiger, Stefan Enslin, het ’n reeds pragtige storie in ’n emosionele en visuele tappeserie omskep. Drie maats, Martin, oftewel Hoender soos hy van jongs af deur sy pa “gedoop” is (Jaden van der Merwe), Drikus (Pieter Louw), en Chris (Daniah de Villiers) bewys wat dit is om voluit te lewe, ten spyte daarvan dat hulle op ’n dooierige dorpie woon en dat die dood werklik stil-stil kom aanklop in hulle lewens.

Die jong Drikus ly aan Hodgkin se siekte, maar ten spyte van sy doemende vooruitsigte bly hy lewenslustig en het hy net een laaste wens: om ’n zombie-fliek te skep. Martin (Hoender) en Drikus se paadjies kruis toe Drikus per ongeluk vir die dood van Martin se geliefde troeteldier hoendertjie verantwoordelik is. Wat begin met ’n vuisgeveg, ontaard mettertyd in ’n vriende-tot-die-dood-vriendskap. Die rabbedoe en Hoender se liefdesbelangstelling, Chris, verskyn ook op die toneel en saam leer hierdie drie vriende waardevolle lesse en hê vet pret met die maak van hulle eie fliek.

’n Mens kan nie help om te dink dat dit ’n waagstuk is om drie kinderakteurs in die drie hoofrolle te plaas in ’n rolprent nie. Op internasionale front was Keisha Castle-Hughes maar 11-jaar oud in Whale Ride (2003). Ander voorbeelde van kinders wat al die silwerdoek oorheers het, sluit in Stand by Me (1986), Lord of the Flies (1990) en Oliver Twist (2005). Plaaslik dink ’n mens aan 1976 se ikoniese e’Lollipop, wat die vriendskap tussen twee seuns so goed uitgebeeld het. Meer onlangs het Agent 2000 (2014) ook kinders in die hoofrolle geplaas. In prente soos Hollywood in my Huis (2014) en Jou Romeo (2016) het die vervaardigers weer die veiliger roete gekies en ouer akteurs in die rolle van skoolkinders geplaas. Die produksiespan van Nul is Nie Niks Nie moes seker rondom strawwe skoolskedules werk, maar die eindresultaat is werklik besonders. Hulle het drie energieke spelers uit meer as 400 oudisies gekies, wat met ’n volwasse begrip van die sombere dinge wat hulle karakters moet mee maak, spog.

Regisseur Morné du Toit het ook die moeilike taak gehad om met hierdie onervare drie akteurs te werk, maar dalk is die gebrek aan blootstelling aan toneel juis wat die x-faktor na vore gebring het in hierdie kinderakteurs se spel. Dis ook wel duidelik dat Du Toit ’n natuurlike aanvoeling het om die beste uit elke jong speler te kry en hulle werklik op hulle gemak te sit. Wat ’n mens raaksien op skerm is drie uiteenlopende kinders wat werklik net kind is; speels, ongekunsteld en naïef. Dis trouens ook nie die eerste keer dat Du Toit sy staal as regisseur van jong spelers wys nie. Hy was ook verantwoordelik vir die regie van Hoofmeisie (2011) en dis duidelik dat hy sederdien ook as regisseur gegroei het en werklik sy unieke stempel kon afdruk.

Benewens die uitmuntende natuurlike spel van die drie kindersterre, skitter die res van die rolverdeling ook. Marisa Drummond en Morné Visser speel die karakter Drikus se ouers. Drummond se emosionele tonele is met deernis aangepak en gaan jou verseker na die snesies laat gryp, en Visser wys ’n sagte, teer kant van sy spel as die pa wat sy seun se laaste tyd op aarde prettig wil hou. Antoinette Louw as Hoender se ma, lewer ook spel wat ’n mens bybly. Louw (bekend vir rolle in onder andere Die Laaste Tango en ’n Man Soos My Pa) kry dit reg om ’n volronde karakter na vore te bring waarmee die gehoor werklik kan identifiseer. Sy vertolk die rol van ’n eks-aktrise en nou kluisenaarvrou wat steeds rou na haar man se dood van twee jaar tevore. Daar is wel leemtes in die teks wat hierdie karakter se agtergrondstorie betref en ’n mens sou meer van haar verlede en wending wou sien. Verder maak Luan Jacobs as die sluwe Bruce ’n mens vir die eerste keer bang op die grootskerm. Ons is gewoond om Jacobs in sagter, meer kwesbare rolle te sien en hier speel hy ’n oortuigend skurk. June van Merch is nou maar eenmaal ’n toneelmeester en haar karakter speel ’n integrale rol om die donker temas met ’n tikkie humor te verlig.

Die rolprent kan dalk as ’n tienertragedie beskryf word, maar daar is soveel onderliggende positiewe bookskappe wat jonk en oud sal aanraak. Nul is Nie Niks Nie beklemtoon dat die lewe ’n oogwink is, maar dat dit ’n keuse bly wat jy met jou beskikbare tyd doen. Dit vertoon dat die lewe klappe uitdeel, maar dat jou reaksie jou eie besluit is om te neem. Waar Enslin se vorige rolprent Verskietende Ster dalk te prekerig voorgekom het, slaag dié rolprent daarin om lewenslesse eerder as geestelike lesse vir die kyker te bied, wat sekerlik beter ontvang sal word deur ’n breër gehoor. Ek vermoed verder dat hierdie rolprent ook die perfekte aansporing sal wees vir ouers en hulle kinders om belangrikke gesprekke oor die lewe en die dood te hê.

Nul is toe wel nie niks nie – dit lê reg in die middel van positiewe en negatiewe syfers en dui op die groot potensiaal wat in die hede vasgevang is. Laat ’n drietal kinders jou
leer oor die betekenis van die lewe en jou dalk tot nuwe insigte bring oor hoe jy jou eie tyd op aarde deurbring.

Inligting

}

Speeltyd

101 min

i

Teks & Regie

Lizé Vosloo | Morné du Toit

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

7–9PG

Akteurs

Jaden van der Merwe, Pieter Louw, Daniah de Villiers, Morné Visser, Marisa Drummond, Antoinette Louw, Luan Jacobs, Reine Swart en June van Merch

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring