Nommer 37: Spanning tot op ’n mespunt gedryf | Bioskoop

Nommer 37

Spanning tot op ’n mespunt gedryf
Film

Film

Info

Teks: Nosipho Dumisa, Daryne Joshua en Travis Taute

Regie: Nosipho Dumisa

Met: Irshaad Ally, Monique Rockman, Danny Ross, David Manuel, Ephraim Gordon en Sandi Schultz

gambitfma.co.za

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Artikel Skrywer

Anna-Marie Jansen van Vuuren is ‘n dosent by die Departement van Joernalistiek, Film en Televisie by die Universiteit van Johannesburg. Sy is sedert Desember 2006 ‘n vryskut joernalis vir MonitorSpektrum en Naweek-Aktueel, die nuusaktualiteitsprogramme van RSG (SAUK Radio). Sy behaal in 2016 haar PhD-graad in Kreatiewe Skryfwerk – Draaiboekskryf, met spesialisering in geskiedkundige rolprente, by die Universiteit van Pretoria.

 Lees Meer

“Vertrou my net,” fluister Randall aan sy meisie Pam, toe die woonsteldeur met die nommer 37 daaraan vasgespyker, stadig toegly. Dis dieselfde onheilspellende rilling wat ek gevoel het met die kyk van Psycho toe Norman Bates ’n sekere hotelsleutel aan sy volgende slagoffer oorhandig het. Dis eintlik heel gepas, want met Nommer 37 bring die span van Gambit films hulde aan Hitchcock se 1954 rolprent Rearview Window, wat nes Dail M for Murder (1954) slegs in een lokaliteit verfilm is.

Die verhaal wentel om die paartjie Randal (Irshaad Ally) en Pam (Monique Rockman), wat probeer om die stukke van hul lewe op te tel nadat ’n tragiese gebeurtenis van hom ’n parapleeg gemaak het. Randal wat voorheen sy brood en botter verdien het deur onwettig slotte oop te steek, moet nou daardie deel van sy lewe toesluit, al skuld hy steeds ’n gevaarlike man ’n groot som geld. Daagliks wanneer Pam werk toe gaan, moet hy in die woonstel agterbly, met net ’n verkyker as geselskap. Hy probeer dus die verveling wegdryf deur sy bure deur die venster dop te hou. Maar hou die verkyker die sleutel na ’n geheime skatkis of dalk eerder na Bloubaard se kelder?

Ons het reeds in Four Corners ’n voorsmakie gekry van Irshaad Ally se spel. Maar dit kom eers tot volle reg in Nommer 37, onder regisseur Nosipho Dumisa se bekwame leiding. En kán Ally toneelspeel! Met sy oë, sy gesig en selfs sy tande. Hy kén die sleutel, soos oorlé Jans Rautenbach sou gesê het. Met een traan wek Randal (Ally) ’n magdom emosies by die gehoor, die einste gehoor wat hy nie wou toelaat om hom te bejammer weens sy gestremdheid nie.

Deurentyd is ons bewus van die sinergie wat tussen Randal en Pam afspeel: Sy’s sy bene, en gewapen met sy verkyker, is hy haar oë. Pam is ook nie ’n dame wat jy nie sonder handskoene moet aanpak nie. Ná hierdie fliek beskou ek haar as ons plaaslike Angelina Jolie, á la Lara Croft. Tog bring sy steeds ’n weerloosheid na die rol. Hitchcock sou trots gewees het oor hoe die akteurs hierdie balans handhaaf, want in sy flieks was balans dikwels die sleutel.

Dan praat ek nie eers van die byspelers nie, veral die twee skobbejakke, Emmie (Danny Ross) en Lawyer (David Manuel). My bloed het kompleet gestol toe die een skobbejak “waar’s my kroon?” hoor mompel. Nei man, dié Afrikaapse taalgebruik val gemaklik op die tong en dra by tot die geloofwaardigheid van die rolprent wat teen die agtergrond van die Kaapse Vlakte afspeel.

In Hitchcock se rolprente dra ruimte (of die gebrek daaraan) dikwels by tot die storie. In Nommer 37 wys die ruimte tussen die twee woonstelblokke op die gevaar wat tussen hulle en die verbode geldnote skuil. Nes Hitchock in Psycho, gebruik Dumisa en kinomatograaf Zenn van Zyl meestal nabyskote om die storie te vertel. Dit wérk, aangesien Randal, meestal in ’n rolstoel, self beperkde sig het van alles wat rondom hom aangaan. Dié beknopde gevoel skep ook ’n mate van engtevrees by die kyker.

Dié engtevrees word aangehelp deur die kontrasterende gebruik van groen en rooi in die fliek se beligting, kunsontwerp en kleurgradering. Met dié kenmerkende kleure uit die fliek Vertigo (1958), bring Dumisa en haar span selfs in die stelinkleding hulde aan die meester van die riller.

En is Nommer 37 vir jou ’n riller! Die storie is vol kinkels en draaie en nes jy dink jy het sake uitgepluis, val daar nog ’n vlieg in die salf. Dit is nie ’n rolprent van cliché’s nie (die enigste een is dalk Deon Lotz in sy gebruiklike rol as polisieman). James Matthes se klankbaan steun deurentyd die spanningslyn en hou kykers op ’n mespunt. Maar van messe gepraat, soms is die geweld en oormaat bloed net te oordadig en grens dit aan die grotesque. Los maar eerder die kinders by die huis as jy na hierdie een gaan kyk. Maar kyk, moet jy kyk.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar

Bitnami