ʼn Rooi jas, ʼn rooi mus, en ʼn aalwyn | Bioskoop

Liewe Kersfeesvader

ʼn Rooi jas, ʼn rooi mus, en ʼn aalwyn
Film

Film

Info

Teks: Etienne Fourie

Regie: Etienne Fourie

Met: Mila Guy, Morné Visser, Milan Murray, Dean-John Smith, Terence Bridgett, June van Merch, Melt Sieberhagen en Eloff Snyman.

Speeltyd: 113 min

Ouderdomsbeperking: 10–12PG L

liewekersfeesvader.co.za

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Artikel Skrywer

Anna-Marie Jansen van Vuuren is ‘n dosent by die Departement van Joernalistiek, Film en Televisie by die Universiteit van Johannesburg. Sy is sedert Desember 2006 ‘n vryskut joernalis vir MonitorSpektrum en Naweek-Aktueel, die nuusaktualiteitsprogramme van RSG (SAUK Radio). Sy behaal in 2016 haar PhD-graad in Kreatiewe Skryfwerk – Draaiboekskryf, met spesialisering in geskiedkundige rolprente, by die Universiteit van Pretoria.

 Lees Meer

Ek het in my kinderjare vasgeglo in Kersfeesvader… in werklikheid ry hy mos met ʼn slee… In ʼn brief van later jare, skryf ek “Liewe Kersfeesvader, elke meisie het ‘n spesiale wens…

Wat is die hoofkarakter Nonnie se wens? Dít is die vraag waarmee die gehoor uit die staanspoor geprikkel word in die openingstoneel van Liewe Kersfeesvader. Dis iets wat Nonnie self ook moet uitpluis en dít neem haar op ʼn ontdekkingsreis waarin sy die lewenslesse (wat tiperend van ʼn familiefliek is) moet ontdek. Mila Guy, wat die prettige karakter Nonnie vertolk, hou die leisels van die slee stewig vas en lewer saam met Morné Visser, wat haar pa speel, oortuigende spel wat beslis empatie met die karakters kweek. Maar die ster wat aan die bo-punt van die kersboom hang, is beslis Eloff Snyman, wat uitblink in sy rol as Nonnie se kleinboet, Hugo.

Jonk van jare, oud van dae… moet Nonnie met die probleme van die lewe worstel: soos haar ma wat letterlik saam met die sirkus weggeloop het en haar pa wat “knak” en homself verbeel hy is Kersvader. Tussendeur moet sy haar boetie grootmaak en die pot aan die kook hou – alles teen die agtergrond van die Karoo dorp, Prince Albert.

Waar is ons drome van gisteraand? Die karakter van Marta, Nonnie se ma, loop van die huis af weg om haar drome na te volg, maar haar dade het my heeltyd laat kopkrap. Nes ek dink ek verstaan die motivering agter haar handelinge, dan draai sy dit weer heeltemal op sy kop. Dis gewoonlik ʼn goeie storie-tegniek, maar dit het my eintlik net meer deurmekaar gemaak oor haar motiewe. Ek kan glo dat daar sulke mense in die wêreld is; ek moet seker maar net eerlikwaar sê ek verstaan hulle nie.

Waar is jou rendier met silwerspore? Terug by ʼn rooi jas, rooi mus en ʼn kersboom – elke element op ʼn spesiale manier in ʼn tipiese Karoo styl verwerk. Die een persoon wat absoluut ʼn veer in die hoed, ʼn kerstakkie of dalk selfs ʼn tuindwerg verdien, is die produksie-ontwerper Chris Joubert en sy span – wat elke raampie met die kleur en geur van Kersfees gevul het. Ek kon letterlik die gemmer, kaneel, en vrugtekoek ruik terwyl ek na die fliek gekyk het. Die regisseur Etienne Fourie se hand is ook in die stelinkleding sigbaar. Soortgelyk aan Die Windpomp (2014) en Dis Koue Kos, Skat (2016) versteek hy klein verrassings wat jy net raaksien as jy dieper kyk (soos ʼn kind). Kindwees is ook een van die temas in die fliek.

Hierdie is ʼn goedvoel-fliek wat ʼn mens ook ʼn paar trane laat pik, wat kenmerkend is van vervaardiger Stefan Enslin se werk (Verskietende Ster, Nul Is Nie Niks Nie). Fourie, wat ook die draaiboek geskryf het, saai kwinkslae so skerp soos dennebolle dwarsdeur die storie en ʼn tuindwerg – of twee – of drie – wat dikwels uit plek uit is, sal ʼn mens beslis laat glimlag. (Fourie het lyk my ʼn bekoring met tuindwergies, wat ook in Die Windpomp te bespeur was).

Tog het dit op heelparty plekke trekkerig en prekerig geraak en aan die einde van Liewe Kersfeesvader was ek in twee geskeur of ek eintlik daarvan gehou het of nie. Daar was sekere dele wat my absoluut hoendervel gegee het en dan weer dele wat maar vir my net té soetsappig was.

Maar dan moet ek myself afvra – wat is die doelwit van ʼn Kersfeesfliek? Sou ek anders gevoel het as ek die fliek gedurende Desembermaand gekyk het, luilekker op ʼn rusbank, stroopsoet geëet aan koekstruif en Kerspoeding? ʼn Amerikaanse “blogger”, Aileen McDonough (2016), skryf dat Kersflieks sentimentele ontvlugting op steroïedes is – toegedraai in blink papier en gedoop in kruiewyn.

So pluk ʼn aalwyn, sit ʼn rooi hoed op, en hou die persoon wat langs jou sit se hand stywer vas.

Vlieg oor die bome met my drome, kyk hoe glinster die maan.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar