’n Ode aan Johannesburg en ’n ou staatmaker Cressida | Bioskoop

’n Ode aan Johannesburg en ’n ou staatmaker Cressida

Film

Film

Info

Regie: Adze Ugah

Met: Dineo Moeketsi, Lehasa Moloi, Thapelo Mokoena, Thando Thabethe en Tau Maserumule

www.mrsrightguy.co.za

 

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Artikel Skrywer

Anna-Marie Jansen van Vuuren is sedert Desember 2006 ‘n vryskut joernalis vir Monitor, Spektrum en Naweek-Aktueel, die nuusaktualiteitsprogramme van RSG (SAUK Radio). Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

Kom ons klim in ’n ou geel Cressida en reis deur Johannesburg, vanaf Aucklandpark deur Braamfontein, die middestad tot by Soweto. Kom ons leer ken Gugu Hlatswayo (Dineo Moeketsi) wat op die tweede dag van haar wittebrood verlaat word en dan moet sy nog skottelgoed was om die rekening te betaal. Gevolg deur Joe (Lehasa Moloi), ’n aantreklike wewenaar wat ’n hoenderbesigheid bedryf, en laastens, Dumile (Thapelo Mokoena), ’n arrogante tog sjarmante advertensie-guru. En ditto – ons het al die bestanddele vir ’n liefdesdriehoek en ’n goeie, tradisionele romantiese komedie.

Mrs Right Guy handel oor Gugu, wat ná haar liefdesteleurstelling in ’n verbitterde, beroepsgeoriënteerde vrou verander het. Sy en haar twee werksvriende en kollegas wat vir ’n advertensie-agentskap werk, kry die uitdaging om ’n entrepreneur te kry wie se jong besigheid hulle as deel van ’n kompetisie kan bemark. En watter beter kandidaat kan daar wees as Joe, ’n jong entrepreneur, wat deur sy hoenderbesigheid ook die plaaslike gemeenskap ophef? Sedert Gugu hom toevallig ontmoet het toe sy in sy trok vasgery het, het hy nie geskroom om haar te help waar hy kan nie, ondermeer om haar ou familie-erfstuk, ’n geel Cressida, reg te maak.

Tog, waar die lang reisskote in die Cressida, skote oor Durban en Johannesburg, en die ritmiese klankbaan van die fliek my voorberei het op ’n opwindende rit, het die storie my teleurgestel. Dit was net so voorspelbaar soos die algemene Hollywood romantiese komedie. Ek moet wel bysê, die tegniese standaard was van die hoogste gehalte en het net weereens bewys ons hoef nie terug te staan vir oorsese komedies nie – veral die kostuums en kleredrag sou die dames in Sex in the City jaloers gemaak het. Ek het veral Moeketsi en Moloi se toneelspel geniet. Dit was Moeketsi, wat bekendheid verwerf het in die plaaslike rolprent Scandal, se eerste silwerdoekrol en Moloi se spel het ook ’n natuurlike aanslag gehad. Helaas, ek het Mokoena se toneelspel meer eg gevind toe hy teenoor Marius Weyers in Nothing For Mahala sy silwerdoek-debuut gemaak het. Hy het miskien die karrikatuur van die skobbejak in die liefdesdriehoek vervolmaak, maar dit is waar dit gebly het, ’n oppervlakkige rol wat slegs ’n funksie in die storie vervul – nie net om te wys hoekom Joe die beter keuse vir Gugu sou wees nie, maar ook om die woorde van die tema: “People come into your life for a reason, season or a lifetime. You’ll just have to figure out which one it is,” nie net een keer nie, maar twéé keer aan die hoofkarakter oor te dra.

En dit bring my na my grootste probleem met die draaiboek – die dialoog. Alhoewel dit meestal baie skerp was en my gereeld laat skater het, het dit net te veel keer sekere lewenslesse aan my oorgedra. Dit het later gevoel of ek in ’n Anne Geddes-boodskapboekie of ’n fortuinkoekie vasgehaak het. Maar, weereens moet ek bysê dit is nie uniek aan Mrs Right Guy nie. Dit gebeur gereeld in veral Suid-Afrikaanse flieks, maar ook in Amerikaanse flieks. Asseblief rolprentmakers, moenie julle gehoor onderskat nie. Ons kan die tema van die fliek in die subteks van die storie lees, julle hoef dit nie telkemale te herhaal nie. En miskien begin die Hollywood formule wat deur baie as ’n suksesresep beskou word, nou regtig net te familiêr raak.

Ten spyte van al hierdie kritiek, het ek eintlik die fliek geniet. Die fotografie, musiek en toneelspel is uit die boonste rakke en vir ’n eerste groot skermpoging het die regisseur, Adze Ugah, hom goed van sy taak gekwyt. Intussen was die produkplasing subtiel en onopmerklik. As ek ’n uur en ’n half kon spandeer om na ’n voorspelbare Hollywood fliek met groot name te kon kyk, sou ek eerder gekies het om ’n kaartjie vir Mrs Right Guy te koop. Buiten daarvoor om die plaaslike fliekbedryf te ondersteun, het dit ook vir my ’n ander sy van die Suid-Afrikaanse samelewing gewys – nie die politiek, misdaad of bendegeweld waarvan plaaslike flieks gewoonlik oorloop nie. ’n Stroperige romantiese komedie, ja, maar tog een wat haar vrou kan staan.

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami