My Father’s War

ʼn Spirituele en geslaagde reis na die Suid-Afrikaanse Grensoorlog

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Die eerste note van die komponis Ben Willem se klankbaan doof in. Egte militêre musiek vermeng met sepia beelde uit die Grensoorlog wat op die skerm verskyn. En dáár volg die mees treffende openingsekwens wat ek tot nóg toe in ʼn Suid-Afrikaanse rolprent gesien het. My Father’s War is miskien regisseur Craig Gardner se eerste waagstuk vir die grootskerm, maar hy is beslis nie ʼn beginner in die bedryf nie – en daarvan getuig die fliek se spesiale effekte, fotografie en redigering wat tot in die fynste besonderhede beplan is.

Die storie handel oor die 19-jarige Dap (Edwin van der Walt) wat homself net nie kan versoen met sy pa wat weer tuis is ná ʼn tydperk in die oorlogsgeteisterde Irak nie. Dawid Smit (Stian Bam) was ʼn afwesige pa wat nooit eintlik daar was vir Dap nie. Verder, vir Dap wat ʼn multikulturele vriendekring het en in die nuwe Suid-Afrika grootgeword het, is dit ondenkbaar dat sy pa aan ʼn oorlog kon deelneem wat volgens hom Apartheid bevorder het. Sy ma (uitmuntend vertolk deur Erica Wessels) is vasgevang in die stryd tussen haar seun en haar man en kort voor lank is dit duidelik dat die oorlog nie op die slagveld agtergebly het nie.

Die tonele wat tydens die Grensoorlog afspeel is so realisties as moontlik herskep – en kinematograaf Tom Marais se kamerawerk en Chantel Carter se kunsregie staan nie terug vir oorlogflieks soos Saving Private Ryan en Pearl Harbour nie. Die kinkel in die kabel van die storielyn (wat ek liefs nie hier wil weggee nie) herinner wel soms opreg aan ’n Hollywood rolprent. Maar soos vantevore genoem is die spesiale effekte beslis op internasionale standaard en het ek myself selfs op ’n tyd verbeel ek is onderwater met ’n krokodil kort op my hakke.

My grootste kritiek teen My Father’s War is dat die fliek op tye trekkerig en langdradig geraak het. As kyker het dit vir my gevoel of die karakters alles wat in die aksiebelaaide Grensoorlogtonele gebeur het, weer in die hedendaagse teenwoordige tyd-tonele se dialoog herhaal het. Dus, alles wat ek nou net voor my oë gesien het, word nou wéér oorvertel. Al weet ons die karakters moet hieroor praat – hoef ons dit tog nie woord vir woord sepiestyl te sien nie – die gehoor kan tog hulle eie afleidings maak? Maar dan kan ons ook die argument voer dat die gehoor, waarvan baie self die Grensoorlog en sy gevolge beleef het, daardie “uitpraat” tonele tussen die onderskeie karakters, onder meer die sielkunde student, nodig het om self genesing te kry van dít wat hulle self ervaar het.

Dap se drome – ’n hiperrealiteit, tesame met die groen en rooi lig wat op hom val terwyl hy in die bed lê en ’n besluit moet neem, het my herinner aan die karakter Neo in The Matrix wat ook ’n keuse moes maak tussen die groen of rooi pil: Gaan hy die waarheid (verlede?) in die oë kyk, of voortgaan met sy lewe soos wat hy dit nog altyd geken het? En dís ook die vraag wat die regisseur aan sy gehoor vra.

Inligting

}

Speeltyd

107 min

i

Teks & Regie

Craig Gardner

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

 10–12PG

Akteurs

Edwin van der Walt, Stian Bam, Erica Wessels en Fumani Shilubama

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring