–
MUFASA
Behoort weer ʼn rekordgetal Suid-Afrikaners na tradisionele rolprentteaters te lok
Nuus

Deur
Anna-Marie Jansen van Vuuren
As ek aan die animasie-rolprent The Lion King (1994) dink, dink ek amper eerste aan die Suid-Afrikaanse komponis, Lebo M, se stem. Dit is tog hy wat eerste sing in die openingsklanke van The Circle of Life, die liedjie wat Simba se bekendstelling aan die wêreld begelei. In hierdie ikoniese toneel hou die mandrill-aap, Rafiki, Simba omhoog sodat die ander diere kan sien hoe hy lyk. Aangesien Lebo M vir my so sinoniem is met die eerste rolprent, is dit heel gepas dat hy ook die eerste stem is wat ons hoor in die nuwe rolprent, Mufasa (2024). Mufasa is ʼn prequel, oftewel ʼn voorvolgrolprent, en vertel die storie van hoe Mufasa die eerste bosveldkoning van Melele, geword het.
Lebo M was egter nie die enigste Suid-Afrikaner wat by Mufasa betrokke was nie. Die akteur en komediant, Kagiso Lediga, vertolk die stemrol van die jong Mandrill-aap, Rafiki, terwyl John Kani sy stem aan die ouer weergawe van Rafiki gee. Al het Lediga ook self die regie van ʼn paar groot Suid-Afrikaanse produksies behartig, soos die Netflix-reeks Queen Sono (2020) en die rolprent Catching Feelings (2017), sê Lediga hy het geen problem daarmee gehad om agteroor te sit, en die regisseur, Barry Jenkins, die kreatiewe teuels te gee nie.
Jenkins het sy debuut met die vollengte rolprent Medicine for Melancholy (2008) gemaak, maar egter die wêreld laat regop sit met sy fliek Moonlight (2016), wat die Akademie Toekenning oftewel die Oscar as beste algehele rolprent verower het. Dit was nadat die aanbieders die prys eers verkeerdelik aan Damien Chazelle se La La Land (2016) oorhandig het.
Lediga sê die 1994 animasie-fliek was die eerste rolprent wat hy op die silwerdoek gaan kyk het en daarom het die humor in die destydse fliek, asook sy agtergrond as komediant sy aanslag in sy vertolking beïnvloed. “Ek het net gespeel – wat ʼn mens kan doen – aangesien dit net ʼn stemrol is, en ʼn mens baie met jou stem kan doen om die komedie van die karakter uit te bring. “Barry het my toegelaat om te improviseer en ek wou baie graag gehad het dat Rafiki wérklik moet voel, sodat die kykers hulself met hom kan vereenselwig. Ek bedoel, hierdie is ʼn mandrill-aap wat uit Afrika kom, en ek kan die karakter ook nie heeltemal skei van myself, wat uit Atteridgeville en Shoshanguwe, buite Pretoria afkom nie. Daar moet tot ʼn mate van myself ook in die karakter uitkom.”
Nou en dan gee Rafiki ook ʼn uitroep of ʼn kwinkslag in isiZulu of isiXhosa. Dit was volgens Lediga ‘n natuurlike manier om meer egtheid aan die karakter te gee – en Jenkins het ook daarvan gehou. “Soms het ek iets gesê wat eintlik nie vir kinders se ore bedoel is nie, maar gelukkig het Jenkins nie onderskrifte daarby gesit nie. Ek dink buitendien dit is beter sonder onderskrifte… die Suid-Afrikaanse kykers geniet dit meer, en die buitelandse kykers wat belangstel daarin, kan dan meer gaan oplees oor ons Suid-Afrikaanse tale en kulture.”

John Kani, wat sy stem aan die ouer Rafiki karakter gegee het, stem saam. Hy sê dat hy eintlik nooit ‘n draaiboek, selfs ʼn Hollywood een, werklik verstaan, voordat hy dit in sy moedertaal – isiXhosa – vertaal het nie. Kani het reeds vantevore met die Marvel-rolprente Black Panther (2022) en Captain America: Civil War hierdie aanslag gevolg, toe hy die rol van T’Chaka vertolk het. Volgens Kani gee die vertaling vir hom ʼn emosionele aanknopingspunt aan die storie. Wanneer hy dan saam met ʼn regisseur werk, kan hy hier en daar iets probeer. Maar hy waarsku jong akteurs om dit nie dadelik te probeer nie. “Dit kom met tyd en ervaring, en jy moet eers ʼn verhouding met ʼn regisseur opbou, voordat jy só kan begin eksperimenteer.”
Die ouer Rafiki gebruik ook woorde soos “Heibo” en “Ntombazane”, wat die karakter volgens Kani in die Afrika vasteland setel. “Waar woon hierdie leeus? Tog nie in Oklahoma in ʼn dieretuin nie. Hulle woon in Afrika. Wanneer ek met my kat praat, praat ek tog nie in frans nie. Ek praat isiXhosa. As ek met hom frans sou praat, sou hy net na my kyk en deur sy neus snork,” lag hy.
Die eerste Lion King-rolprent het gespog met ʼn klankbaan van Elton John en Tim Rice. Met die nuwe rolprent het Lin-Manuel Miranda, bekend vir die musiekblyspel Hamilton en klankbane van die flieks Moana (2016) en Encanto (2021), by die span aangesluit het. Lediga moes in die rol van Rafiki ook sy stem aan ʼn liedjie waag. Dit het baie angs by hom geskep, want hy het nie geglo hy kan sing nie. “Voorheen as ek op ʼn plek gesing het, het my vriende dadelik vir my gevra ek moet stop. So, wat moes ek nou doen? Ek het ʼn oudisie vir die fliek afgelê en ek het tog geweet dit is ʼn musiekblyspel. Ek kon nie weier nie om te sing nie. Maar baie van die stemkunstenaars in die fliek was régte sangers, soos Beyoncé Knowles.”
Hoe het Lediga hierdie uitdaging oorkom? Volgens hom het hy sy trots in sy sak gesteek en die bekende Suid-Afrikaanse musiekvervaardiger R.J. Benjamin gaan raadpleeg. “Hy het darem vasgestel dat ek nie toondoof is nie, en my ʼn paar lesse gegee. Toe het ons ʼn demo-liedjie opgeneem en aangestuur. Hulle het gelukkig baie daarvan gehou.” Met die voorbereiding van die liedjie, het ʼn kollega van Miranda, figuurlik Ledigo se hand vasgehou en hom gehelp om sy volle potensiaal te bereik. Hulle het uiteindelik die liedjie opgeneem in die Abbey Road-ateljees in Londen, waar onder meer die Beatles ook hulle musiek opgeneem het. Die resultaat klink so:
Disney versprei Mufasa: The Lion King in verskeie formate op die silwerdoek. Dit sluit in 3D, Imax, en 4D in, waar meer van jou sintuie ingespan word om die storie te geniet.