Modder en Bloed

‘n Hart-storie gedurende ’’n genadelose en donker tyd

Resensie

Deur

Gerhard Ehlers

Die Anglo-Boereoorlog is een van daardie geskiedkundige gebeure wat diep en pynlik in elke Afrikaner se hart gekerf is. Dit is ook dan geen verrassing dat die gebeure vanaf 1899 tot 1902 al in ’n verskeidenheid film- en televisieproduksies oorvertel en vir vele generasies agtergelaat is nie.

In Sean Else se jongste film, Modder En Bloed, is dit juis die Anglo-Boereoorlog wat as agtergrond dien vir ’n boeiende en merkwaardige storie oor verlies, lyding en uiteindelik oorwinning.

Stian Bam speel Willem Morkel, ’n boer wie se lewe onherroeplik verander wanneer sy vrou en sy seun deur Britse soldate vermoor word en hy sy plaas tydens die genadelose “verskroeide aarde”-beleid verloor. Willem word deur die Khakis in hegtenis geneem en word stelselmatig ’n man wie se siel saam met die van sy gesin sterf. Dis egter wanneer hy na een van die konsentrasiekampe, spesiaal opgerig vir verraaiers en spioene saam met ’n groep ander gevangenes om oorlewing veg, dat sy reis na innerlike genesing en hoop begin.

Dit bring my by die tweede geskiedkundige aspek waarop Modder en Bloed fokus: rugby. Dié sportsoort is sekerlik een van die mees definiërende aspekte van die Afrikaner-volk. Die film kyk na die begindae van Springbokrugby wat gedurende die Anglo-Boereoorlog gespeel is. Een van die jonger gevangenes se poging om ontsnapping uit die konsentrasiekamp loop lelik skeef en hy word betrap. Die wrede en genadelose Colonel Swanell, meesterlik deur Grant Swanby vertolk, dreig om die jong man summier tereg te stel, terwyl die res van die gevangenes toekyk. Dis dan wanneer Willem Morkel ’n weddenskap met Swanell aangaan. Hy daag die Britse rugbyspan uit om teen hulle (die Boere in aanhouding) ’n wedstryd te speel. As die Britte wen, mag Swanell Morkel sowel as dié van die jong gevangene se lewens neem; en as die Boere see, moet die penkop se lewe gespaar word. So begin ’n fisieke, asook ’n innerlike stryd, wat aanvanklik onhaalbaar vir die Boerespan lyk, wat hulself binne enkele weke moet voorberei vir ’n kragmeting waar lewe en dood letterlik op die spel is.

Gedurende die manne se swoeg en sweet om hul voor te berei op wat vir hulle wag, lê Katherine Sterndale (vertolk deur die Britse Charlotte Salt) gereeld besoek af by die kamp. Sy is die vrou van ’n gesneuwelde Britse soldaat. Sy bid vir die verlossing van die swaar tye gedurende die oorlog en doen voorlesings uit die Bybel. Daar is ’n aantrekkingskrag tussen Katherine en Willem – nie noodwendig romanties van aard nie, maar eerder van uiteenlopende mense van twee wêrelde wat mekaar probeer begryp. . Katherine en Willem weet albeiwat die verlies van ’n geliefde beteken. SPOILER

Modder en Bloed is meer as net nog ’n rugby- of oorlogfliek – dit is ’n menslike verhaal wat wys tot waartoe die siel in staat is wanneer die laaste hoop vervaag en vrees ons gevange hou. Met uitstekende akteurs soos Bam, Swanby, Lotz en Maritz, om enkeles uit te sonder, is die film ’n kragtoer wat die gehoor hopelik nog lank sal bybly. Die produksieontwerp, kamerawerk en redigering staan veral uit en al word die musiek soms effens oordoen (veral in die eerste bedryf), is dit steeds ’n puik produksie waarop Sean Else en sy span werklik trots kan wees.

Else het al ’n ver pad as regisseur gestap sedert 2010 se Platteland, en met Modder en Bloed bewys hy dat hy die insig en nodige ervaring het om moeilike vrae oor volk en vaderland te stel. Gevolglik vertel hy met groot sukses’n hartstorie gedurende ’n genadelose, donker tyd in die Afrikanergeskiedenis.

Inligting

}

Speeltyd

132 min

i

Teks & Regie

Sean Else

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

13 L P V

Akteurs

Stian Bam, Charlotte Salt, Grant Swanby, Patrick Connolly, Albert Maritz, Michael Richard, Bok Van Blerk, Altus Theart, Jacques Bessenger, Edwin Van Der Walt, Gustav Gerdener, Rudy Halgryn, Albert Pretorius, Jaco Muller, David Louw, Nick Cornwall, Marno Van Der Merwe, Josh Myers, Deon Lotz

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring