Mignon Mossie van Wyk – ‘n Fyn Karakterstudie van ons jeug | Bioskoop

Mignon Mossie van Wyk

‘n Fyn Karakterstudie van ons jeug
Film

Film

Info

Regie: Darrell Roodt

Met: Tanika Fourie, Deànré Reiners, Paul du Toit, Kiara Fourie, Elzette Maarschalk, Johan Scholtz, Erica Wessels, Izel Bezuidenhout, Devon Hofmeyr, Marlee van der Merwe

www.mossiemovie.co.za

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Artikel Skrywer

Anna-Marie Jansen van Vuuren is ‘n dosent by die Departement van Joernalistiek, Film en Televisie by die Universiteit van Johannesburg. Sy is sedert Desember 2006 ‘n vryskut joernalis vir MonitorSpektrum en Naweek-Aktueel, die nuusaktualiteitsprogramme van RSG (SAUK Radio).

Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

Mignon Mossie van Wyk is nie ’n tienerfliek nie. Om dit te sê doen afbreek daaraan. Dit is ’n jeugdrama. En skrywers soos Derick van der Walt met Hoopvol en Pieter Verwey met sy nuwe “steampunk” roman het bewys dat ’n ouer gehoor ook hulself met stories oor (en vir) jong volwassenes kan vereenselwig. En ek het.

Het jy dalk ’n beste vriend of vriendin gehad, maar die potensiaal van romanse laat verbygaan omdat jy eerder jou kans wou waag met die “jock” of die modelmooi meisie? Dit is een van die rolprent se verskeie temas. Dit gaan oor die jong meisie, Mignon, oftewel Mossie, van Wyk (vertolk deur Tanika Fourie) en haar hegte vriendskap met Adriaan (Deànré Reiners). Dié vriendskap word bedreig wanneer ’n jong sportiewe student, Leon (Devon Hofmeyr) vir haar begin flikkers gooi. Maar die storie gaan ook oor Mossie se pa, Johan (Paul du Toit) wat sy dogters alleen moet grootmaak en oor Adriaan wat wedywer om ’n atletiekrekord te breek, sodat die keurders hom kan raaksien.

Ek was effens huiwerig aan die gedagte van nog ‘n Darrell Roodt fliek. Roodt as regisseur het my al ontsaglik baie beïndruk én teleurgestel. Maar tydens een van die eerste tonele met die kinderakteurs, het ek hoendervleis gekry. Met Little One (2013) het dit my al getref hoe hy die eienskap besit om jong kinders met geen toneelervaring te kry om hulle regtig in te leef in ‘n rol. En toe klein Mignon (Anani Nel) en Adriaan (Juan-Adrian de Beer), ‘n dooie voëltjie begrawe, en Adriaan Mignon dan heel gepas “Mossie” doop, het ek besef: Hier is dit weer – daardie “magic” wat Roodt al vantevore na die skerm gebring het.

Met Mignon Mossie van Wyk volg Roodt ’n styl genaamd “transcendental cinema”. Dit kom van die Engelse begrip “to transcend” en verwys daarna dat daar eintlik baie gebeur, al lyk dit op die oog af of daar niks gebeur nie. ’n Ander regisseur wat bekend is vir hierdie styl is Terrence Malick, wat onder meer The Tree of Life (2011) gemaak het. Tog waar laasgenoemde fliek meer van ’n visuele meesterstuk as ’n storiegedrewe rolprent was, het Tarryn-Tanille Prinsloo se draaiboek dit reggekry om my op die randjie van my stoel te laat sit. Prinsloo verstaan van “set up” en “pay of” – om klein dingetjies met die karakters te laat gebeur wat later ’n groot impak op hulle sal hê. En elke tree van die pad is Fourie en Reiners daar om jou hand te vat en jou saam te neem op hulle ontdekkingsreis.

Uiteindelik is daar een toneel in die fliek wat dit vir my regtig vasvat wat dit is om ’n middelklas jongmens in ’n Suid-Afrikaanse hoërskool te wees. Wanneer Adriaan en Mossie vir mekaar vertel wat hulle grootste uitdagings van hul matriekjaar was, en sy sê: “Hoërskool is ’n alternatiewe universe. Waar ons almal inpas, deur alles behalwe onsself te wees…” en hy dan antwoord: “… en waar jy besluite moet neem wat jou hele lewe kan verander.”

Soos in die meeste van die rolprente wat deur hierdie spesifieke vervaardigers gemaak word, is daar te veel ooglopende produkplasing in die fliek. Klem op óóglopend. Daar is baie plaaslike rolprente wat dit regkry om produkplasing op ’n meer subtiele manier te doen. Maar as ’n mens reeds die AVBOB naambordjie gesien het, voel dit regtig oorbodig om te hoor hoe een karakter vir ’n ander karakter vertel dat AVBOB baie moeite gedoen het met die begrafnisreëlings. In daardie oomblik het ek net ’n gedruis in my ore gehoor hoe vele van die kykers rondom my hoorbaar sug. Gelukkig het die meesleurende klankbaan weer daarna begin swel en kon ek wegvlieg van die kommersiële werklikhede af.

“Geen pretensie, geen beheer.” Hierdie woorde van die Karen Zoid en Francois van Coke-liedjie, wat ook die temalied van Mignon Mossie van Wyk is, vang vir my die fliek baie goed vas. Roodt het nie met die fliek die karakters laat voorgee om dinge te wees wat hulle nie is nie. Hulle hoef nie te probeer nie. Hulle ís net.

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami