Meisies Wat Fluit

Moenie hierdie fliek by die agterdeur uitsmyt

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

Ek was lanklaas só opgewonde om ‘n resensie te skryf. Meisies Wat Fluit is anders. Eerlik, rou en draai nie doekies om nie. Dis die eerste plaaslike “romkom” (hoewel die skrywer en regisseur, Johan Cronje, dit eerder as ‘n drama met romantiese en komediese elemente definieër) wat ek teëkom waarin omtrent al die karakters vloek – maar, dis deel van die taal. Dis ‘n generasie ding. En as dit vir jou ongewoon of onrealisties is, is jy of oud, of jy het in ‘n grot of onder ‘n klip grootgeword. Om die waarheid te sê, het dit my diep laat dink, en toe het ek begin navorsing doen…

Maar eers: waaroor gaan die fliek? Henk (Stiaan Smith) en Sofia (Leandie du Randt) was eers getroud, maar dit het nie gehou nie. Nou, sowat ‘n jaar later, beland hulle weer saam in die bed – meer as een keer. Is dit reg of verkeerd, maar meer belangrik, is dit dalk die antwoord? Was hulle altyd veronderstel om net vriende, met byvoordele, te wees? En wat is ware liefde nou eintlik? Meisies Wat Fluit ondersoek hierdie tema – van oop verhoudings tot tradisionele verhoudings, tot verhoudings wat net verbrokkel het, waarin die liefde eenvoudig opgedroog het, en alles tussenin – welkom in vandag se wêreld.

Hierdie verfrissende fliek begin goed, en raak net beter. Maar dit was glad nie wat ek verwag het nie. Dis geen (onrealistiese) sprokiesverhaal nie. En in elke verhouding kon ek iemand sien wat ek herken. Ek is doodseker dit was die plan – om die kyker te laat voel dat hy/sy minstens met een van die paartjies kan indentifiseer. Aan die einde van die dag is daar ‘n baie belangrike boodskap: leef en laat leef. Twee van my gunsteling aanhalings uit die fliek was: “Wat is dit – ware liefde?” en “Jy behoort aan niemand nie en niemand behoort aan jou nie”.

Die rolverdeling is puik. Die karakters is opreg, en almal (insluitend Amalia Uys, Geon Nel, Anré Bouguenon, Pietie Beyers, Hanli Rolfes, Bennie Fourie en Gerald Steyn) vertolk hul rolle knap. Die draaiboek deur skrywer-regisseur Johan Cronje (Wonderlus) was vir my ongelooflik oorspronklik én het ‘n hele paar skerp sêgoed gehad, wat ek selfs met ‘n tweede kykie steeds snaaks gevind het.

Tegnies, van kamera tot beligting, regdeur tot by die redigering, is Meisies Wat Fluit foutloos. Dit is werklik besonders mooi geskiet en aanmekaargesit. Ek wil tog die oorspronklike klankbaan, en die keuse van klankbaan, uitsonder. Dit het my sommer liries gemaak. Ek het so-te-sê elke song ge-”Shazam”, wat dit dan outomaties in my Apple Music intrek en aflaai. Wow! Dís mos hoe ‘n klankbaan moet klink. Elke lied het elke toneel soos ‘n handskoen gepas en versterk. En die beste van als is dat al die musiek deur Suid-Afrikaanse kunstenaars geskep is. Wêreldklas en beslis my nuutste gunsteling speellys waarna ek vir die volgende paar maande sal luister.

En nou, die taal: hierdie karakters gebruik vloekwoorde (of kraswoorde) wat ons ma’s sal laat skaamkry en ons pa’s (minstens) sal laat frons, en dít in ‘n “romkom” (of drama met romantiese en komediese elemente). Die film het immers ‘n ouderdomsbeperking van 18, juis vir seks en taal. Maar ek wil jou glad nie afsit nie. Ek wil jou nie eens waarsku nie. Want vloek is lankal nie meer wat dit was nie, en word ook nie meer slegs in ‘n taboe konteks gebruik waar die idee is om die persoon op wie dit gerig word, totaal en al sleg te sê en af te kraak tot in die diepste afgrond in sodat nie eers al die water in die see hul ooit weer sal kan skoon was nie.

Dr. Henk Louw van die Noordwes-Universiteit spekuleer dat baie vloekwoorde (buite die grense van die film) moontlik verband kan hou met ʼn tekort aan algemene woordeskatkennis of bloot gerief. “As ʼn persoon nie vinnig kan dink hoe om iemand ‘stylvol en intellektueel’ te beledig nie, noem hy hom bloot ʼn alliterende dom donner of dom d… boksie”. Hy verwys wel terselfdertyd ook na ʼn aanlynartikel wat argumenteer dat dit juis slimmer mense is wat vloek en noem dan dat “geen taaluiting wat verband hou met intensivering slegs eenduidig gekategoriseer of interpreteer kan word nie.”

Ek kon nie glo hoeveel navorsing al hieroor gedoen is nie. Kyk gerus na die webwerf www.vloek.co.za, wat deur Prof. Gerhard van Huyssteen, ook verbonde aan die Noordwes-Universiteit, geskep is en onderhou word.

Dr. Mariska Nel (ook aan die Noordwes-Universiteit) het weer in haar navorsing op die gebruik van Afrikaanse vloekwoorde op Twitter gefokus, en dus is dit ‘n baie goeie aanduiding van wat ook op straat gebeur. Sy sê: “Afhangende van hoe jy vloek sal dit sielkundig en taalkundig gekategoriseer kan word, maar dit alles help niks met die idee (veral by ouer mense) dat vloek lelik en verkeerd is nie. As mens die frekwensie van die voorkoms van vloekwoorde in Afrikaans op Twitter vergelyk met die frekwensie van die voorkoms van vloekwoorde in ander tale blyk dit dat ons mooi “on par” is met die taalontwikkeling (al is dit dan op sosiale media) wat wêreldwyd plaasvind. Die taalgebruik op sosiale media kan soortvan as aanduidend van die gebruikers Afrikaans beskou word omdat die taal wat op die platforms gebruik word hibried is – jy sal dus liewer op Facebook of Twitter lees hoe die Afrikaans klink wat op straat gebruik word as wat jy ‘n ware refleksie van Afrikaans in ‘n tydskrif of storieboek gaan raaklees.”

Ter afsluiting: die vloektaal wat in die film voorkom help eintlik net om die andersgeid, en dalk meer spesifiek die relevansie van hierdie verhaal te versterk. Want nes die gebruik van kragwoorde/kraswoorde oor die jare en generasies heen verander, en ontwikkel het, netso het verhoudings, en hoe ons dit definieër. 

Kyk gerus Meisies Wat Fluit – en as jy klaar is, kry nóg ‘n bottel wyn, en dan, soos ek, kyk jy dit weer. En onthou: moenie regmaak wat nie (plaas kragwoord van jou keuse hier) gebreek is nie.

Inligting

}

Speeltyd

102 min

i

Teks & Regie

Johan Cronje

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

18 SL

Akteurs

Leandie du Randt, Stiaan Smith, Amalia Uys, Geon Nel, Anré Bouguenon, Pietie Beyers, Hanli Rolfes, Bennie Fourie en Gerald Steyn

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring