Meerkat Maantuig

Magiese ontsnapping van die alledaagse

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Jou wêreld is so groot soos jou verbeelding.

Daar is ’n vloek teen die naam “Gideon de la Rey”. Elkeen in die familie met daardie naam skop die emmer in ’n fratsongeluk op ’n relatiewe jong ouderdom. En nou is die 13-jarige Gideonette volgende aan die beurt, na haar pa se skielike en tragiese sterfte. Maar is daar ʼn kans dat die vloek heeltemal op sy kop gekeer kan word, as Gideonette haar vrese reguit in die oë staar en ’n tikkie verbeelding gebruik?

Meerkat Maantuig, losweg gegrond op Riana Scheepers se tienernovella, Blinde Sambok, gebruik magiese realisme om die gehoor mee te sleur op Gideonette se ontdekkingsreis na buite én na binne. Die kyker word ’n metgesel op hierdie 90-minute reis en kry ook die geleentheid om selfondersoek in te stel. Wat is daardie vrese wat jou terughou om jou te lewe te geniet? En hoe kan jy met wilskrag vorentoe beur en die struikelblokke oorkom?

Alhoewel kinders en tieners seker die hoofteikengehoor is, is ek doodseker dat elke grootmens ook iets uit hierdie rolprent sal neem, veral as gevolg van die onderliggende donkerder temas. Dit is verseker nie net nóg ’n Afrikaanse jeugfliek nie! Draaiboekskrywer en regisseur, Hanneke Schutte, skep ’n kunstige towerverhaal uit Scheepers se storie (wat terloops self grepe uit Scheepers se werklike jongmeisielewe bevat). Die internasionale erkenning en speelkans wat Meerkat Maantuig alreeds verower het, spreek ook boekdele oor die kreatiewe besluite wat Schutte met dié fliek gemaak het.

Schutte gaan slim te werk met haar jonger spelers om dié storie te vertel. Anchen du Plessis as Gideonette, wat ook in 2017 in Vaselinetjie te sien was, pas soos ’n handskoen by haar karakter. Sy speel die onderliggende naïwiteit, sowel as die vreesbevange oomblikke, skynbaar moeiteloos. Themba Ntuli as Bhubesi, word die groot dryfveë van die aksie op die skerm. Die karakter van Bhubesi is doof en hy gebruik slegs sy gesig en klein geluidjies om ’n band met Gideonette te vorm. Ntuli vertolk sy uitdagende rol oortuigend en gaan sonder twyfel harte laat smelt.

Alhoewel dit eerder Bhubesi behoort te wees wat homself oor sy toekoms bekommer, is dit Gideonette wat met hierdie vrese worstel. Maar stadig en seker wen Bhubesi haar vertroue en leer hy haar om haar greep op die leisels van haar lewe te verstewig. Hierdie twee karakters se verhouding speel gemaklik en oortuigend op die grootskerm af en dis net die hand van ’n uitmuntende regisseur wat sulke wisselwerkings kan regkry.

Ook die ouer akteurs slaan die asems weg met hulle vertolkings. Hanlé Barnard (as Gideonette se ma, Mathilda) en Drikus Volschenk (as die pa, Gideon) gee beide driedimensionele vertolkings van hulle ietwat kranksinnige karakters. Dis veral Barnard se ongelooflike emosionele spel met haar oë wat kykers sal bybly. Dan is dit net ’n plesier om Pierre van Pletzen en Rika Sennett as die oupa en ouma te sien. Terwyl Gideonette se pa en ma in die vloek vasstaar, neem die grootouers Gideonette onder hulle vlerk. Hierdie byderwetse, amper-hippie oupa en ouma kyk met ander oë na die wêreld en weet dat die natuur en die koddige Bhubesi genoeg is om Gideonette te genees.

Die twee beste aspekte van Meerkat Maantuig is die wêreldklas kinematografie en die meesleurende oorspronklike klankbaan. Dis voor die hand liggend waarom Willie Nel met die Silwerskermfees-toekenning vir Beste Kinematografie weggestap het. Elke skoot vang die emosionele essensie perfek vas. Die kamera dokumenteer as’t ware die wipplankrit tussen die fisiese donker en lig in Gideonette se verbeelding. Die jonge Clare Vandeleur toor met musiek in hierdie rolprent. Elke snit pas soos ’n tweede vel aan die gegewe toneel en word ’n belangrike byspeler in hierdie magiese reis. Ook die produksie- en kostuumontwerp is uitsonderlik aangepak. Al hierdie elemente saam dra daartoe by dat die rolprent in alle opsigte uitstaan.

Meerkat Maantuig gee ’n estetiese blik op die emosionele grootwordproses. Elke kyker sal ’n tikkie van sy eie vrese in Gideonette se lewe raaksien en dalk, net dalk, kan hierdie rolprent die begin van vele genesingsreise word.

Inligting

}

Speeltyd

95 min

i

Teks & Regie

Hanneke Schutte

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

 10–12PG H

Akteurs

Anchen du Plessis, Rika Sennett, Pierre Van Pletzen, Themba Ntuli, Hanlé Barnard, Drikus Volschenk

Sterre

4.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring