Krotoa: Historiese heldin waarmee mens kan identifiseer | Bioskoop

Krotoa

Historiese heldin waarmee mens kan identifiseer
Film

Film

Info

Teks: Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid

Regie: Roberta Durrant

Met: Crystal-Donna Roberts, Armand Aucamp, Jacques Bessenger, Brendan Daniels en Ernest St. Clair.

starburstmusic.co.za

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Artikel Skrywer

Anna-Marie Jansen van Vuuren is ‘n dosent by die Departement van Joernalistiek, Film en Televisie by die Universiteit van Johannesburg. Sy is sedert Desember 2006 ‘n vryskut joernalis vir MonitorSpektrum en Naweek-Aktueel, die nuusaktualiteitsprogramme van RSG (SAUK Radio). Sy behaal in 2016 haar PhD-graad in Kreatiewe Skryfwerk – Draaiboekskryf, met spesialisering in geskiedkundige rolprente, by die Universiteit van Pretoria.

 Lees Meer

“Hierdie rolprent is geïnspireer deur ware gebeure.” Die laaste paar dae het hierdie woorde gereeld deur my kop gemaal terwyl ek aan die fliek Krotoa gedink het. Terwyl ek met wit en bruin gehoorlede by die voorskou-vertoning gepraat het, het ek ondervind dat lede van albei groepe onvergenoegd was. Party wit mense het gevoel dat die fliek Jan van Riebeeck te veel as ʼn skurk (“villain”) uitgebeeld het, terwyl ʼn paar van my bruin vriende weer gevoel het dié karakter het te ligtelik daarvan afgekom. Ek het laas met Verraaiers soveel omstredenheid en ongelukkigheid onder gehoorlede oor ʼn plaaslike fliek gesien. Tóé het heelwat mense op verskeie sosiale media platforms geskryf: “Hoe durf hulle ons voorsate só uitbeeld?”

Maar die waarheid maak seer – veral as dit ʼn verhaal ná aan jou is. Iets wat met jou eie erfenis te doen het. Net so seer soos wat dit vir Krotoa moes gemaak het om deur haar eie mense, sowel as haar aangenome mense, verwerp te word. En dís die storie wat die skrywers en regisseur jou deurgaans vertel, veral in daardie hartroerende oomblik wanneer Krotoa (uitmuntend vertolk deur Crystal-Donna Roberts) huilend vir haar oom (Brendan Daniels) skreeu: “Jy het my daar gelos! Heeltemal alleen – en ek was net ʼn kind!”

Die konteks is die laat sewentiende eeu waar die volgroeide Khoi-vrou, Krotoa, in twee geskeur word deur die behoeftes van Jan van Riebeeck (Armand Auckamp) en sy kolonie: (“Ek het ʼn tolk nodig. Nie net iemand wat altwee tale kan praat nie, maar iemand wat beide groepe van binne af ken”); sowel as die verwagtings wat haar Oom Autshomato, oftewel Harry die Strandloper, vir haar het: (“Ons het iemand daar binne nodig wat ons oë en ore kan wees”). Só word Krotoa seker een van die eerste vroue (en beslis nie die laaste nie) in Suid-Afrikaanse geskiedenis wat besef: Jy kan nie alles vir almal probeer wees nie.

In hierdie opsig is Krotoa ʼn karakter waarmee ek as ʼn vrou myself baie mee kon vereenselwig. Ek is versigtig om die benaming “feministiese fliek” te gebruik, want dit kan potensiële kykers dalk afsit, maar daar is beslis ʼn oomblik waar sy haar lot met altwee hande aangryp en beheer oor haar lewe neem. Dit lei tot romanse tussen haar en die chirurg, Pieter van Meerhof (met deernis vertolk deur Jacques Bessenger) en ʼn goeie handelsooreenkoms tussen die plaaslike bevolking en die setlaars.

Maar dan gryp die noodlot in wanneer Wagenaar (Marcel van Heerden) Van Riebeeck as goewerneur vervang en die skadufiguur, Roelof de Man (Deon Lotz), uiteindelik die kans kry om Krotoa en die Goringhaicona-stam “op hul plek te sit”. De Man se eensydige uitbeelding was een van die aspekte van die storie wat my die meeste gepla het. Uit lewenservaring weet ons tog dat die meeste figure redes (hoe onregverdig ookal) vir hulle handelings het. Maar De Man word as ʼn “slegte karakter” uitgebeeld wat ʼn mens verafsku, sonder dat daar ten volle motivering gebied word oor waar sy haat vir die inheemse bevolking vandaan kom. Die skuld hiervoor kan nie voor Lotz se deur gelê word nie, aangesien ʼn akteur afhanklik is van die teks wat aan hom gebied word.

Alhoewel ek dit gewoonlik as ʼn cliché beskou as iemand sê: “Hierdie rolprent is op internasionale standaard” óf “dit lyk nes ʼn oorsese fliek”, het ek myself gevang dat hierdie gedagte telkemale terwyl ek Krotoa gekyk het by my opgekom het. Daar is iets aan die helderheid van die beeld, die keurigheid van die klankontwerp en die manier waarop die skote beplan was – wat net heeltemal op ʼn ander vlak is. Die produksie-ontwerper, kinematograaf en regisseur het ten nouste saamgewerk om skilderagtige tonele te skep. En my gebruik van die woord “skilderagtig” is doelbewus: Een spesifieke toneel waar Van Riebeeck met die plaaslike gemeenskap onderhandel – kompleet met ʼn Nederlandse vlag in die agtergrond – toon ooreenskomste met soortgelyke portrette wat ek al in museums sien hang het, terwyl die mildelike gebruik van blou weer sterk herinner aan die fyn porselein uit die Nederlandse dorp Delft, asook die kunswerke van Johannes Vermeer, wat self ʼn tydgenoot van die sewentiende-eeuse VOC was.

Terwyl die kunstenaarsvoorstellings van historiese figure wat lank reeds dood is in my geestesoog verskyn, spook die kritiek van kennisse oor die geskiedkundige uitbeelding in Krotoa steeds by my. Verskeie akademici het al geskryf oor hoe die geskiedenis in die rolprentwese gebruik word. ’n Beskouing van internasionale vakkundiges se werk is in die boek The Historical Film: History and Memory in Media, onder redaksie van Marcia Landy (2001), ingesluit; terwyl ons eie Afrikaanse resensent Leon van Nierop in sy artikel Die gedaante van die historiese feit op film: ’n Sintese tussen waarheid en verdigsel (2000), die uitbeelding van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in ’n reeks Hollywood-rolprente bespreek. Krotoa is nie die eerste geskiedkundige rolprent wat omstredenheid ontlok nie, en sal beslis ook nie die laaste wees nie. Oor die algemeen het Japanese beslis nie gehou van hoe hulle landgenote in rolprente soos The Last Samurai, Pearl Harbour, en Memoirs of a Geisha uitgebeeld is nie, maar bloot omdat dit in Hollywood gemaak is, was dit vir baie kykers meer verteerbaar.

Die skrywer en navorser, Kaye Ann Williams het wel maande spandeer om die historiese gegewens na te vors en Jan van Riebeeck se joernale met ʼn vergrootglas te fynkam, maar uiteindelik het elkeen van ons ons eie agtergrond, ideologie, en sosiale konteks wat ons beïnvloed. Dus rus die onus op jóú as die kyker en verbruiker van Afrikaanse rolprente, om self te gaan kyk en ʼn oordeel te fel.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar