Kanarie tref elke emosionele noot | Bioskoop

Kanarie

Kanarie tref elke emosionele noot
Film

Film

Info

Teks: Christiaan Olwagen en Charl-Johan Lingenfelder

Regie: Christiaan Olwagen

Met: Schalk Bezuidenhout, Hannes Otto, Germandt Geldenhuys, Gérard Rudolf, Jacques Bessenger, Beer Adriaanse, Ludwig Binge, Johan Botha, Lida Botha, Francois Jacobs, anna-Mart van der Merwe, Dawid Minnaar en De Klerk Oelofse

Lengte: 123 min

Ouderdomsbeperking: 16LNS

kanariefilm.com

Dee Theart

Dee Theart

Artikel Skrywer

Dee Theart is ’n veelsydige vermaaklikheids- en mediaslaaf. Haar kwalifikasies sluit ’n BDram-graad en ’n nagraadse kwalifikasie in Vertaling en Redigering in. Sy is die gesig en stem by Silverstar Casino as MC. Verder is sy is ook passievol oor stemwerk en toneelspel en pak gereeld projekte in hierdie velde aan. 

Lees Meer

Kanarie. Die Suid-Afrikaanse Weermag Kerkkoor en Konsertgroep… of ’n klein voëltjie. Christiaan Olwagen is terug met sy tweede vollengte film en hierdie keer toor hy met Schalk Bezuidenhout in die hoofrol as die letterlike en metaforiese, Kanarie. Die dae van skrikkerige Afrikaanse prente is (dankie tog!) verby en Olwagen bewys dat hy die fakkel vir op-die-man-af stories helder laat brand.

Dis 1985 en Johan Niemand moet nes sy tydgenote sy verpligte Weermagdiens na skool gaan aflê. Hy word gekeur om ’n lid van die Kanaries te word, maar dit beteken definitief nie dat dinge maklik in die Weermag gaan wees nie. Want sien, Johan is “anders” as die meeste ander seuns. Sy meisievriendinne het hom graag op skool met grimering opgetooi, hy hou van popikone (veral Boy George), en hy sien die wêreld deur ander oë. Die samelewing het hom tot dusver forseer om in te pas, maar wat daarvan as hy juis gebore was om uit te staan? Wat as die voëltjie se kou oopgemaak word en hy die keuse het om te vlieg? ’n Mallemeule van selfondersoek en -ontdekking volg en die kyker word ’n voyeur op dié Kanarie se bevraagtekening van sy geloof, patriotisme en seksualiteit.

Kanarie skroom nie om lywige onderwerpe aan te spreek nie en bied iets heeltemal nuuts vir die plaaslike gehoor. Die rolprent gaan sonder twyfel wenkbroue laat lig, maar dit is juis wat nodig is om dialoog te bevorder tussen die verlede en die impak daarvan op die hede. Die draaiboek is losweg geskoei op medeskrywer Charl-Johan Lingenfelder se persoonlike militêre ervaring in die Kanaries en dis duidelik dat hy en Olwagen heelwat sosiale kommentaar het wat hulle as vraagstukke aan die gehoor wil stel.

Die weermag en oorlog word bloot as agtergrond gebruik vir ’n tematiese verhaal oor die onderdrukking wat mense op verskeie vlakke beleef. Onderdrukking deur ’n gekondisioneerde samelewing, maar ook die onderdrukking van ’n gekondisioneerde self. ’n Universele gesprek word veral aan die lig gebring rondom wat dit beteken om gay groot te word in ’n wêreld wat dit as “verkeerd” sien. In hierdie “coming-of-age”-rolprent word Johan die middelpunt waar rondom hierdie en nog “taboe”-onderwerpe wentel.

Die keuse van musiekblyspel as filmgenre is noukeurig en kreatief benader in Kanarie. Die musiek, gesing deur die Kanaries, asook die musiek verweef in kleurvolle tonele om Johan se fassinasie met 80’s popmusiek weer te gee, is meesterlik deur Lingenfelder behartig. Die musiek word as’t ware ’n karakter wat die ligter kontras teenoor die swaarder onderwerpe bied en liefde in sy eenvoudigste vorm uitbeeld.

Olwagen wys met Kanarie (nes met sy eerste vollengte film, Johnny Is Nie Dood Nie) weereens sy slag om karakters met hart en siel aan die kyker te vertoon. Gehore gaan gaande wees oor Bezuidenhout se moeitelose vertolking van sy multi-dimensionele karakter. Sy beeld as grapjas word heeltemal eenkant toe geskuif en hy vertoon haarfyn nuanse as akteur op ’n merkwaardige wyse. Ook Germandt Geldenhuys as die alewige babbelbek, Ludolf, bring deernis na die grootskerm. Hannes Otto as Wolfgang, Johan se liefdesbelangstelling, verdien ook melding vir sy uitmuntende wisselwerking met Bezuidenhout. Kyk ook uit vir puik spel deur Gérard RudolfJacques Bessenger en Anna-Mart van der Merwe.

Die hart van die film is liefde en aanvaarding – selfs vir dit wat jy nie verstaan nie. Ons het vir té lank weggeskram van refleksie en gesprekke rondom politieke en sosiale strukture. Dis tyd om die mure af te breek en ’n meer inklusiewe en verdraagsame samelewing te bewerkstellig. Kanarie is flambojant, vreesloos en grensverskuiwend.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar

Bitnami