Kampterrein – Karavaanpark mannewales | Bioskoop

Kampterrein

Karavaanpark mannewales
Film

Film

Info

Teks: Morné Lane
Regie: Luhann Jansen
Met: Louw Venter, Juanita de Villiers, Johan Botha, Jürgen Hellberg, Edrien Erasmus, Masilo Josias Moleele, Zenande Mfenyana, Kaz McFadden, Marlee van der Merwe, Reine Swart, Ruan Wessels en Therese Benade

indigenousfilm.co.za

Roelof Bezuidenhout

Roelof Bezuidenhout

Artikel Skrywer

Roelof Bezuidenhout is ‘n voormalige Kwêla redigeerder en regisseur wat tans die Akademiese Bestuurder vir Televisie, Radio en Klank by die Boston Media House-groep is. Hy het sy Honneursgraad in Bedryfskommunikasiekunde aan die Noordwes-Univeristeit behaal, waarna hy as kameraman-regisseur op programme soos AgriTV, TourismBIZ, en Ulimo (SABC 2 en 3) gewerk het.

Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

In Kampterrein word die Fouchés se jaarlikse karavaan-vakansie by die ATKV-Buffelspoort-oord omvergegooi toe hulle staanplek onverwags deur die Khumalo’s beset is. Verskeie onderonsies tussen die twee families het interessante gevolge en veroorsaak dat die oord en die res van die vakansiegangers se lewens ook behoorlik onderstebo gedraai word.

Intussen beplan Oom Gert, die kampbestuurder, om eersdaags af te tree, maar nie voordat die oord met nog ’n ster deur die Suid-Afrikaanse Toerisme Graderingsraad toegeken word nie. Die enigste probleem is dat hierdie ster afhang van ’n verrassingsbesoek deur ’n anonieme inspekteur. Behalwe vir die res van die tipiese karavaanpark vakansiegangers, is daar ook ’n glanspaartjie, ’n nuttelose nutsman, ’n salon wat meer as net die standaard massering doen, en ’n tannie met haar onwettige hond, wat onder meer sorg vir ’n paar komiese oomblikke.

Dis algemene kennis in die vermaaklikheidsbedryf dat komedie een van die moeilikste genres is; uit die aard van die saak vir diegene voor die kameras, maar ook vir dié daar agter. ’n Film begin immers met ’n idee en later ’n teks. En vir min ander genres is tydsberekening só belangrik. Verskeie wêreldbekende akteurs het hierdie sentiment al beaam. Julianne Moore het onder andere gesê: “You know, comedy’s hard. With drama, you have a responsibility to the emotional truth, but with comedy, you have emotional truth and you have technique on top of it.”

Ons Afrikaanse gehore het oor die jare heen so gewoond geraak aan bar, onder-die-belt humor, asof dit die enigste vorm van komedie is wat ons kan laat lag. Terselfdertyd het vervaardigers hierop bly fokus, omdat dit duidelik gewerk het – dalk ook omdat dit ten minste ’n gedeelte van die Afrikanerbevolking verteenwoordig, en ongetwyfeld steeds doen. Maar die tyd het aangebreek vir iets nuuts. Met Kampterrein het die skrywer- en vervaardigerspan, Morné Lane en Marcus Muller, gepoog om ’n familie-komedie na die grootskerm te bring, en tesame met Luhann Jansen in die regisseurstoel, dink ek het hulle grootliks daarin geslaag.

Ek sal nie sê dat elke akteur se rol hom of haar soos ’n handskoen gepas het nie, en die kinderakteurs is ook nog nie naastenby op die vlak van hul Amerikaanse eweknieë nie. Ek het partykeer gewonder wie van hulle dalk vriende of familie van die produksiespan was en wie van hulle werklik opgeleide akteurs is (soos hulle behoort te wees). Of dalk is daar net nie genoeg tyd en aandag aan die repitisies en regie gegee nie. Veral Ruan Wessels as Dawid, Johan Botha as Oom Gert en Masilo Josias Moleele en Zenande Mfenyana in hul karakters as Ernest Khumalo en sy vrou, was vir my die mees oortuigende in hulle onderskeie rolle, terwyl Therese Benade gerus ook meer speeltyd kon kry.

Die idee om swart en wit kulture in ’n fliek, en op so ’n komiese manier, op die grootskerm saam te bring en/of te kontrasteer, moes al lankal gebeur het, en hopelik maak hierdie poging deure oop vir ’n nuwe generasie Suid-Afrikaanse films.

Die musiek het my egter teleurgestel. Die twee Afrikaanse liedjies wat eers nader aan die einde van die fliek gebruik is, is nie die beste keuses vir die tonele, of die mooiste liedjies in die algemeen nie. Daarby klink dit of die res van die film se klankbaan meesal (indien nie eksklusief nie) uit net een instrumentale liedjie bestaan, waarvan daar bloot verskeie gedeeltes daarvan op verskeie plekke gebruik is, met ’n uiters irriterende gevolg. Selfs al is dit dalk die idee dat só wysie die kenwysie van die rolprent moes wees en moet help met die algehele komiese kykervaring, het dit misluk.

Die kinematografie het oor die algemeen nie gepla nie, maar mens het ook nie die idee gekry dat hierdie fliek ’n baie hoë produksiewaarde gehad het nie. Hier en daar het ’n witbalansfout tussen oorkruisskote wel my oog gevang.

Die Amerikaanse akteur Billy Bob Thornton het onder meer gesê: “Comedy is harder than drama, because with comedy you’re expecting a result… you make them laugh. [If] they ain’t laughing then you’re screwed.”  Hoewel Kampterrein steeds nie op die vlak is waar ek graag Suid-Afrikaanse komedies wil sien nie, was daar tog ’n paar komiese oomblikke, en sal ek erken dat ek hier en daar kliphard saam gelag het. Ek dink wel die bedryf moet (en kan) nog baie doen om hierdie genre tot sy volle reg te laat kom. As ’n mens die bedoelde teikengehoor in aanmerking neem (en “kudos” vir die span dat hulle dit wel kon regkry om families, insluitende kinders, te laat skater sonder ’n klomp vloekwoorde in bykans elke sin), het die span in sy doel geslaag.

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami