Kalushi: The Story of Solomon Mahlangu | Bioskoop

Kalushi: The Story of Solomon Mahlangu

’n Storie van die struggle op die silwerdoek
Film

Film

Info

Teks: Mandla Dube & Leon Otto
Regie: Mandla Dube
Met: Thabo Rametsi, Pearl Thusi, Thabo Malema, Jafta Mamabolo, Louw Venter, Lawrence Joffe, Gcina Mhlope, Marcel van Heerden, Clive Scott en Fumani Shilubana

pambilimedia.com

Roelof Bezuidenhout

Roelof Bezuidenhout

Artikel Skrywer

Roelof Bezuidenhout is ‘n voormalige Kwêla redigeerder en regisseur wat tans die Akademiese Bestuurder vir Televisie, Radio en Klank by die Boston Media House-groep is. Foto: Nightowl Media 

Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

Veral Pretorianers sal bekend wees met ’n pad wat vernoem is na Solomon Mahlangu (daar is ook ’n standbeeld en ’n posseël), maar soos met soveel ander padname, weet nie baie van ons bevolking wie hierdie mens was nie. Kalushi vertel die ware verhaal van Solomon ‘Kalushi’ Mahlangu, ’n 19-jarige seun van Mamelodi. Die rolprent handel oor die gebeure wat tot sy afsterwe in 1979 gelei het, nadat hy skuldig bevind is aan die moord op twee mense, tot dood veroordeel is en gehang is deur die destydse Apartheidsregering, ten spyte daarvan dat hy onskuldig was.

Die film volg Mahlangu (uitstekend vertolk deur Thabo Rametsi) se lewe rondom dieselfde tyd as die 1976 Soweto opstande. Dit wys hoe sy lewe so te sê oornag verander het van smous in die strate van Mamelodi en op die treine van Pretoria, tot Vryheidsvegter, ná ‘n tragiese insident. Ironies genoeg was hy nooit eens deel van die gebeure van 16 Junie 1976 nie, maar het kort hierna opgeëindig in ’n vlugtelingskamp in Mosambiek, waarna hy gered is en na ’n ANC opleidingskamp in Angola geneem is. Uiteindelik het hy deur Swaziland teruggekeer na Suid-Afrika, waar ’n skietery uitgebreek het en twee mense noodlottig getref is. Mahlangu het nie self die sneller getrek nie, maar is deur die destydse regering verhoor en tot dood veroordeel onder die “law of common purpose”, waar hy bloot deur assosiasie met die eintlike moordenaar óók skuldig bevind is.

Die vervaardiger, regisseur en mede-skrywer, Mandla Dube (wat ook op films soos Tsotsi en The Italian Job gewerk het), het homself goed van sy taak gekwyt om nie ’n dokumentêr of selfs ’n dokkie-drama na die silwerskerm te bring nie, maar ’n menslike drama wat die kyker deur al dieselfde emosies as dié van die hoofkarakter neem.

Die kinematografie en redigering is beide puik, en veral ’n toneel waar die gebeure van 16 Junie vermeng word met ’n toneel met Mahlangu en sy meisie Brenda in ’n informele nedersetting, is indrukwekkend en vars.

Die musiek is goed gekies vir ’n internasionale gehoor, en het ’n Hollywood-gevoel, terwyl dit redelik in die agtergrond wegraak, en glad nie die tonele oordonder nie. Hier en daar (soos in die weermagstonele in Mosambiek) het dit ’n bietjie “cheesy” gevoel, en op ander plekke dink ek kon ’n meer plaaslike/tradisionele klankbaan dalk selfs nóg meer gevoel aan die storie verleen het.

Die ware sterre van die film is egter die akteurs, en ek sê sterre, omdat die rolverdeling algeheel uitstekend is. In soveel Afrikaanse films voel ek dat van die kleiner rolle partykeer afsteek by die hoofrolle, asof die kykers nie van beter weet nie, en ook nie meer verwag nie. Maar nie in Kalushi nie. Inteendeel, sommige van die kleiner rolle, soos dié van Thembalethu Ntuli as die karakter Coca Cola, sorg vir heerlike komiese vermaak. Dít terwyl meeste van die hoofkarakters redelik bekend is en sommige van hulle al ook in internasionale produksies te siene was. Een voorbeeld is Pearl Thusi wat die rol van Brenda, Mahlangu se meisie vertolk (al is hierdie persoon fiktief in die film), wat ook in die gewilde Amerikaanse reeks Quantico te siene.

Op ’n meer tegniese noot (en alhoewel ek verstaan hoekom die regisseur gevoel het hy moet hierdie fiktiewe karakter in die storie plaas – om die hoofkarakter se romantiese sy ook by gehore te beklemtoon en ’n selfs meer simpatieke gevoel teenoor hom te bewerkstellig), is ek nie oortuig dat dit gewerk het nie, of meer belangrik, nie regtig nodig was nie. Ek dink die bekendstelling van die res van sy werklike familielede (sy broer, en veral sy ma, gespeel deur die briljante Dr Gcina Mhlophe) het reeds in die taak geslaag, en die karakterisering van Brenda was nie regtig goed genoeg om nog verder te help nie. Dis juis in die toneel waar Mhlophe (as Martha Mahlangu) die finale hofuitspraak aanhoor, en dan buite die hofsaal inmekaarsak, waar die trane seer sekerlik sal vloei. Nog ’n hoendervleistoneel is Mahlangu se laaste toespraak in die hof voordat die finale uitspraak gelewer word – dit herinner aan, en vergelyk baie goed met enige ander van die bekende toespraaktonele op die silwerdoek.

Dis nie verbasend dat die film reeds toekennings begin inpalm het nie (onder meer by die BRICS Filmfees, waar Thabo Rametsi die toekenning vir Beste Akteur ontvang het, terwyl die film ook ’n Rapid Lion toekenning ontvang het by die 2016 Rapid Lion Internasionale Filmfees hier in Suid-Afrika), en ek wil voorspel dat nog meer op die horison wink. Na ek hierdie jaar se Oscarwenner Moonlight gesien het, glo ek Kalushi kan enige dag kop-aan-kop meeding op dieselfde vlak.

Kalushi is ’n hartseer film oor ’n negatiewe tyd in ons land se geskiedenis, maar met ’n positiewe boodskap: veg vir dit waarin jy glo. Ek dink nie ek sal ooit weer die Solomon Mahlangu afrit in Pretoria kan vat sonder om anders oor die naam te dink en voel nie. En ek vermoed, tot ’n sekere mate, was dit die idee.

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami