–
Homecoming
Wemel van nostalgie en Oos-Kaapse landskappe
Resensie
Deur
Anna-Marie Jansen van Vuuren
Homecoming: An African Christmas Story bring reeds met sy titel hulde aan die rolprent wat as sy inspirasie gedien het, naamlik The Homecoming: A Christmas Story (1971). Laasgenoemde rolprent is spesiaal vir die televisie vervaardig en in die VSA vrygestel. Die fliek was so gewild dat dit tot ʼn televisiereeks – The Waltons – gelei het, wat vir ʼn dekade lank uitgesaai is.
Homecoming: An African Christmas Story is in isiXhosa met Engelse onderskrifte. Dit handel oor twee susters Luleka (Zikhona Bali) en Asanda (Talitha Ndima) wat terugkeer huistoe vir Kersfees. “Huis” is die pragtige landskap van die Oos-Kaap, na die plattelandse dorpie waar hul ouers woon. Luleka se man en haar twee kinders gaan natuurlik saam. Daar aangekom, laat hul ma die aap uit die mou (nogals gedurende ʼn tafelgebed) dat hul pa aan demensie ly. Die kinders besluit om hierdie Kersfees ekstra spesiaal te maak, al dreig onlangse twis dikwels om hierdie wens te kelder.
Die rolprent se toneelspel is uit die boonste rakke, en het vir my ʼn kans gegun om akteurs wat ek in sepies en dramareekse gesien het se spel beter te leerken. Dit sluit in Bali wat ek in die SABC 2-reeks Erfsondes leerken het, en Phewa wat die rol van Sifiso in 7de Laan gespeel het. Ek het egter gehoop om meer van Thoko Ntshinga te ervaar. Ntshinga het destyds die rol van Donna in Egoli: Plek van Goud vertolk, en dus het ek destyds haar gesig daagliks op die klein kassie gesien. Ntshinga máák absoluut elke toneel waarin sy verskyn en bring dikwels die tikkie humor wat ʼn toneel nodig het.
Die rolprent se draaiboek is heel gepas vir ʼn Kerfeesfliek, en wemel met oomblikke wat eg is aan hierdie genre. Ek het wel ʼn hele paar keer gedurende die fliek ineengekrimp wanneer dit te prekerig raak. Maar sogenaamde Hallmark-prekies oor die ware betekenis van Kersfees (“om tyd saam met jou gesin te spandeer”) is tog eie aan hierdie genre, dus sal ek dit verskoon. Tog is my grootste kritiek teen die lang, uitgerekte tonele wat nie altyd tot die storie bydra nie. Die openingsekwens is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Ons spandeer die eerste paar tonele met Asanda en haar getroude minnaar, wat my eers laat dink het dat die storie in ʼn romantiese komedie of ʼn sogenaamde mondigwordingsverhaal (“coming of age”) gaan ontaard. As ʼn mens in ag neem dat die fliek net vyf minute minder as twee ure lank is, voel ek dus sterk daaroor dat die fliek korter kon gewees het, en in die tradisioneel 90-minute tydsgleuf kon ingepas het. Tans, voel dit asof die rolprentmakers ʼn telenovela in ʼn rolprentvorm probeer inpas het. Tog moet ek erken dat ek myself wel in die karakters se stories ingeleef het, en saam met hulle hul lief en leed beleef het.
Ek wil ʼn pluimpie gee aan die kinematograaf, Leli Maki (wat ook terloops die regisseur was). Sy wye skote van die Oos-Kaapse landskappe waar die rolprent verfilm is, het my laat dink dat ek binnekort ʼn wegbreek na die streek moet beplan. Met elkeen se mooi komposisie, kon baie van die skote as ʼn skildery (of deesdae dalk eerder ʼn skermsluier, oftewel “screensaver”) werk. Elke toneel is ook op só ʼn manier belig dat dit tot die atmosfeer en die uiteindelike storie bydra.
My laaste pluimpie gaan aan die klankbaan-komponis, Kamogele Motsepe, en diegene wat die klankontwerp gedoen het. Die Kersdeuntjies wat gereeld saggies in die agtergrond gespeel het, het my beslis in ʼn Kersluim geplaas. Dit het ook ʼn storie wat kon swaar raak, dikwels opgekikker. Ons as Afrikaanssprekers het al heelwat van ons eie Kersflieks gehad wat gewys het dat ons nie hoef te droom van ʼn wit Kersfees nie. Ek salueer hierdie rolprentmakers wat met hulle poging ʼn stukkie van ʼn Xhosa-Kersfees reg uit die hartland van die Oos-Kaap na ons gebring het.
Dié rolprent is egter nou al in Oktober 2024 op die silwerdoek uitgereik, en ek hoop van harte dat dit nog in Desember by tradisionele rolprentteaters sal draai – want dis dan wanneer ʼn kyker dalk tussen Kersinkopies by die fliek sal inglip. En indien dié kykers in die fliek se ware teikenmark val, sal hulle dit terdeë geniet.
Inligting
Ouderdomsbeperking
13
Akteurs
Thoko Ntshinga, Zikhona Bali, Talitha Ndima, Timmy Kwebulana en Anelisa Phewa
Sterre
2.5/5
Bruto Inkomste
0