Hatchet Hour

Hakbyl, hiënas, en hoendervel

Deurdagte karakters en spanningsvolle storielyn kenmerkend van Hatchet Hour

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Die titel Hatchet Hour en die loklyn “You can’t bury karma”, gee ’n mens dalk ’n idee van waarop jy te wagte kan wees, maar dié fliek se storie het ’n hele paar onverwagse kinkels en draaie wat my na my asem laat snak het. Juis daarom sou ek eintlik die fliek se genre as ’n spanningsriller beskryf, al noem die vervaardigers dit ’n misdaaddrama.

Hatchet Hour handel oor ’n suksesvolle en soms slinkse prokureur, Belle (Erica Wessels), wat tot die uiterstes sal gaan om haar kliënte en haar loopbaan te beskerm. Dít word reeds in die eerste paar tonele van die fliek duidelik, toe sy iemand in haar huis wat sy aansien vir ’n indringer doodskiet en daarna haar beste vriendin en huismaat, Jade (Petronella Tshuma) dwing om haar te help om van die lyk ontslae te raak. Haar plan is om die lyk in die Kruger Wildtuin te los dat hiënas dit daar kan opvreet.

Die fliek is ’n spanningsvolle rit van begin tot einde, en baie daarvan het met die slim draaiboek en keurige regie te doen. Anders as met baie ander Suid-Afrikaanse fliekstories, is daar nie een oortollige karakter nie, elkeen het ’n funksie in die storielyn. Selfs Jade se kêrel, Isaac oftewel Izzy (Adam Croasdell – ’n bekende gesig in Britse sepies en dramareekse), wat ek eers gedink het is net daar om ’n aantreklike bykarakter te wees, vertolk later ’n belangrike rol in die storie. Hatchet Hour is juis die naam van Izzy se “stand-up comedy show”, waarin hy sy woorde as ’n handbyl gebruik om tot by die dieper waarheid van mense te kerf. En een van hierdie waarhede wat hy vir Jade probeer wysmaak, is dat Belle ’n aasdier (nes die hiëna) is, wat op Petronella se goedheid en aanvaarding teer.

Hierdie veelkantige sye van Belle, aan die een kant die sterk prokureur en aan die ander kant die bang dogtertjie wat smag na haar pa (Michael Richard) se aanvaarding, lei tot ’n komplekse rol wat enige ander aktrise dalk agterweë sou gelaat het. Maar Erica Wessels oortuig in haar vertolking, en skep tot simpatie met die karakter, al wil die gehoorlid haar selfs soms met ’n byl bykom. Wessels gaan deesdae net van krag tot krag op die silwerdoek, en Belle is beslis my gunsteling rol waarin ek haar tot nog toe gesien het. My enigste kritiek is dat dit nie van die begin af duidelik is hoekom Belle ’n Amerikaanse aksent het nie, en dit het my lank laat wonder, terwyl ek eerder aan ander aspekte van die fliek wou aandag gee – ondermeer die subtiele gebruik van die kleur rooi, die kundige kamerawerk en die redigering wat maak dat die fliek teen ’n vinnige pas verloop.

Indien niks wat ek tot dusver gesê het jou oortuig het om na Hatchet Hour te gaan kyk nie, wil ek jou aanmoedig om die fliek ’n kans te gee sodat jy na die skrywer Salah Sabiti se dialoog kan luister. Dit is net so skerp soos die metaforiese byl – en is gepas vir elke karakter uit wie se mond dit rol (veral Belle, Jade en Izzy). Naidoo het ook slim keuses gemaak met die plekke waar sy die fliek verfilm het, want van die beknopte stad tot die landelike oop ruimtes vertel ’n storie. Hatchet Hour is beslis ’n rolprent wat ek weer en weer kan aanbeveel.

Inligting

}

Speeltyd

89 min

i

Teks & Regie

Judy Naidoo, Salah Sabiti, Sofia De Fay | Judy Naidoo

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 L

Akteurs

Erica Wessels, Petronella Tshuma, Adam Croasdell

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring