Free State

Aksiebelaaide Avontuur in Afrikaans

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Dit is 1979 en Jeanette Nolte, ’n boeremeisie van Memel in die Vrystaat, het pas haar studies in Regte aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi en is op pad huis toe om by Gideon, haar predikantspa, te gaan bly. Sy gaan terug Memel toe om te wag vir Christoff, haar kêrel wat ’n soldaat in die Grensoorlog is.

Op die stofpad tussen Memel en Newcastle jaag Jeanette byna in Ravi vas, ’n déjà vu-ontmoetingsoomblik wat nou al te dikwels in Afrikaanse films gebruik word. Na hulle ongedeerd van die amper-ongeluk afkom, is daar ’n onmiddellike aantrekkingskrag tussen hierdie modelmooi mense. Maar apartheid en die Kleurwet dreig reeds van die begin af om hulle naïewe en verbode liefde te ontspoor.

Free State is ervare regisseur en draaiboekskrywer Sallas de Jager (Verraaiers, Musiek vir die Agtergond, Stuur Groete aan Mannetjies Roux) se jongste film en is reeds ’n gunsteling by internasionale filmfeeste. Die film het al twee toekennings gewen: De Jager is aangewys as Beste Regisseur by die Luxor African Filmfees in Egipte en Tom Marias het die beeldjie vir Beste Kinematograaf by die Garden State Filmfees in New York gewen. Hierdie toekennings beklemtoon die feit dat die rolprent ’n baie talentvolle groep mense agter die skerms het.

Waldemar Coetsee en sy span beïndruk met hul vindingryke produksieontwerp (dit is verstommend om te sien wat hierdie ‘towenaars’ met ’n relatief klein begroting kon regkry) en Dawie de Jager se pragtige, sensitiewe klankbaan is ’n aanwins. Maar dit is Marais wat deurlopend en sonder moeite die kollig steel met sy meesleurende kinematografie. Hy is bedrewe in hierdie kuns en sy uitbeelding daarvan is die belangrikste bestanddeel in ’n fliek wat oor die algemeen kan doen met ekstra speserye.

Nicola Breytenbach, ’n Suid-Afrikaner wat naam in die buiteland as suksesvolle model gemaak het, is Jeanette en kom ontuis voor in haar rol as ’n plaasmeisie. Sy sukkel om emosie oor te dra en slaag nie daarin om haar spel geloofwaardig te hou nie.

Andrew Govender, ’n model en ’n voormalige Meneer Suid-Afrika, vertolk die rol van Ravi. Ten spyte daarvan dat sy saggeaardheid en sjarme sterk oorkom, red dit hom nie van ’n stokkerige vertolking in ’n rol wat veel eerder deur ’n ervare akteur vertolk moes word nie.

Die ondersteunende spel is goed. Soos gewoonlik is Deon Lotz as Jeanette se pa knap in ’n vertolking wat hy seker nou al in sy slaap kan lewer. Dan is Paul Eilers (Koot) en Johan Baird (Piet) ook goed geolie as vreemde geregsdienaars wat ’n ANC-sindikaat in Newcastle wil oopvlek. Kykers sal ook vir Rolanda Marais as komiese verligting geniet in ’n klein rol as die dorp se swanger skinderbek. Ander akteurs en aktrises wat ook flink spel lewer, is Nalini Subrayen as Aneesha, Hemali Juta-Pillay as Chatura, Ravi se ma, en Mangesh Desai as die sadistiese Animesh.

Die hoogtepunt in terme van spel is Leleti Khumalo (Yesterday, Invictus) in haar beskeie rol as Maria, die Noltes se huishulp en indirek Jeanette se moederfiguur. Dit is jammer ’n mens sien so min van haar, want sy is die juweel in die rolverdeling se kroon.

De Jager beeld die Afrikaanse en Indiese kultuur en godsdiens netjies op die skerm uit. Hy bied ook groter insig oor die uiteenlopende gevolge van apartheid op alle rasse in Suid-Afrika en hoe dié stelsel van haat wantroue en verdeeldheid onder almal aangewakker het.

Die grootste kritiek is dat die rolprent nooit regtig woema kry nie en deurentyd teen dieselfde pas klop. Eers aan die einde, wanneer Pavarotti se emosiebelaaide Nessun Dorma die taamlike stomp einde begelei, bespeur ’n mens ’n pols. Free State is egter tegnies uitstekend en kan met reg as ’n kinematografiese kunswerk beskou word.

Inligting

}

Speeltyd

106 min

i

Teks & Regie

Sallas De Jager

Webtuiste

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

10–12PG L P V

Akteurs

Nicola Breytenbach, Andrew Govender, Leleti Khumalo, Deon Lotz, Mangesh Desai, Paul Eilers

Sterre

3/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring