Finders Keepers – ’n Vis en ’n Rus maak die lagspiere los | Bioskoop

Finders Keepers

’n Vis en ’n Rus maak die lagspiere los
Film

Film

Info

Teks: Maynard Kraak en Strini Pillai

Regie: Maynard Kraak

Met: Dalin Oliver, Neels van Jaarsveld, Lise Slabber, Grant Swanby, Tyrel Meyer, Stuart Taylor and Matthew Dylan Roberts

westfivefilms.com

Roelof Bezuidenhout

Roelof Bezuidenhout

Artikel Skrywer

Roelof Bezuidenhout is ‘n voormalige Kwêla redigeerder en regisseur wat tans die Akademiese Bestuurder vir Televisie, Radio en Klank by die Boston Media House-groep is. Hy het sy Honneursgraad in Bedryfskommunikasiekunde aan die Noordwes-Univeristeit behaal, waarna hy as kameraman-regisseur op programme soos AgriTV, TourismBIZ, en Ulimo (SABC 2 en 3) gewerk het.

 Lees Meer

Finders Keepers is ’n oorspronklike komedie deur Maynard Kraak en Strini Pillai. Dit vertel die storie van ’n ontkleeklub-skoonmaker (nuweling Dalin Oliver in die rol van Lonnie November) wat op die fonds van ’n leeftyd afkom, en as gevolg daarvan gesoek en verdink word vir moord op die seun van ’n plaaslike bendeleier. Hy word in die proses bevriend met een van die klub se gereelde besoekers (Neels van Jaarsveld as Brian Bekker), wat op sy beurt verlief is op ’n Russiese ontkleedanseres (Lise Slabber as Sonya). Kort voor lank bevind Lonnie, Brian en Sonya hulself net mooi in die middel van ’n groot gemors, met beide die plaaslike én Russiese bendes op hul spoor. Tussendeur word geld op perde gewed, en ’n baie skaars vis en ’n genadelose Griek blyk die spul se enigste uitkoms te wees…

Hierdie is Maynard Kraak se derde film as regisseur (naas Vrou soek Boer en Sonskyn Beperk) en een van ’n regisseur se grootste take (en talente) is om ’n sterk span saam te stel. Dis om dié rede dat bekende regisseurs, soos Steven Spielberg en Martin Scorsese, gereeld wéér met dieselfde mense saam werk. En vir Kraak blyk dit dieselfde te wees. Dit is die tweede keer dat hy vir Neels van Jaarsveld in een van sy hoofrolle gebruik, terwyl bekende name oral in die eindkrediete verskyn: van die kinematograaf en die klankontwerp, regdeur tot die rolverdelingsregisseur.

Dit is dan juis ook hierdie drie afdelings wat nie teleurgestel het nie: die kamerawerk en algehele kinematografie is vanuit die boonste rakke. Die beligting is perfek, die beeld skerp en pragtige tydsverloopskote van Kaapstad en die berg, is maar enkele elemente wat die kyker intrek en laat voel dat die film tegnies gemaklik op die internasionale verhoog kan meeding. Roscoe Verceuil weet beslis wat hy doen en ek hoop om sy naam nog baie te sien.

Tweedens, is die klankontwerp uitmuntend. Spesiale effekte en byklanke, asook die finale meng is eersteklas, en die musiek (oftewel die klankbaan) is uitstekend. Elke lied het die verskeie tonele soos ’n handskoen gepas. Wat veral opvallend was, nes in Kraak se vorige films, is dat die musiek glad nie algemeen klink nie, en ’n mens kry die gevoel daar is regtig moeite daarmee gedoen. Lance Stehr was verantwoordelik vir hierdie afdeling, en musiek van Vusi Nova, Joelle, Slice, Da Les en Fiesta Black kan onder meer gehoor word.

Derdens, is die rolverdeling sterk. ’n Hele paar nuwe akteurs wys gesig, en die rolverdelingsregisseur, Thorsten Wedekind, tesame met Kraak, het ook ’n gawe om vars talent te identifiseer. Dalin Oliver as Lonnie in die hoofrol is skreeusnaaks en bring werklik iets nuuts na die silwerskerm. Hy is só natuurlik en gemaklik in sy rol as die klub se skoonmaker, dat dit amper skrikwekkend is. Dis asof sy rol spesiaal vir hom geskryf is. Netso is Lise Slabber (bekend vir haar rol in Black Sails) baie oortuigend as ’n Russiese ontkleedanseres. Ek wil-wil sê die aksent was in die kol, maar ek praat nie self Russies nie, so ek sal eerder sê dat dit minstens vir die leek natuurlik sal klink. Om die waarheid te sê was ál die karakters verbasend goed met hul verskeie tale en aksente, wat Russies en Brits ingesluit het. En die Griekse “bookie”, Sweet George (gespeel deur Matthew Dylan Roberts), het ook sy rol met gemak vertolk.

Die storie is beslis iets anders en alle afdelings, van stelontwerp tot kostuums, dra by tot die “Hollywood”-gevoel van die film. Hoewel die redigering ook goed is, het die fliek baie stadig gevoel. Met tye het ek gedink daar kort iets om dit woema te gee. Veral omdat dit ’n komedie is, kon ’n vinniger tempo dalk beter werk. Dit tersyde is daar heelwat komiese oomblikke en skerp sêgoed wat só natuurlik gelewer is dat mens dit maklik ook kon mis.

Fliekgangers moet besef dat as ’n 3-D vis eers in ’n fliek begin sing, kan jy maar jouself voorberei dat dele van die fliek aan die absurde grens, en dus is hierdie nie jou gewone komedie nie. Jy moet reg ingestel wees vir wat op jou wag, en vir die beste fliekervaring moet jy glad nie te ernstig daarna kyk nie.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar