Moffie

Erváár Moffie: van kru-titel tot triomfantlike kreet

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

My ore het gerek. Of altans my oë het gerek, want ek dink nie ʼn mens se ore kan rek nie. Hulle kan wel tuit. En hét my ore getuit soos wat die verskeie f-woord kartetse in die openingsekwens van Moffie rongeslinger word – nes die handgranate wat die jong troepies later in die rolprent moet gooi om lewend uit ʼn skermutseling te kom. Ek moes seker nie verbaas gewees het deur hierdie skoktaktiek van regisseur Oliver Hermanus nie. Hy het tog hierdie metode geslaagd gebruik in sy bekroonde rolprent Skoonheid, en dus moes ek eintlik daarop voorbereid gewees het.

Moffie is gegrond op die memoires van André Carl van der Merwe. Hermanus het moontlik subtiel hierna verwys deur sy hoofkarakter “van der Swart” te doop. Tog is die rolprent volgens Hermanus, wat saam met die vervaardiger Jack Sidey die draaiboek geskryf het, ʼn fiktiewe weergawe van Van der Merwe se verhaal, waaruit hy die breër temas en historiese agtergrond gehaal het.

Ná ʼn stadige familie-ete, waarin ons lukraak aan Nicholas van der Swart (Kai Luke Brummer) en sy gesin voorgestel word, is ons op die treinstasie waar die vele jong troepe met hul weermag balsakke vir diensplig aanmeld. Nes Kanarie, ontmoet Nicholas sy beste vriend, Michael Sachs (Matthew Vey) in die trein-kompartement. Maar dis waar die ooreenkomste met die 2018-rolprent eindig. Ja, Moffie ondersoek dieselfde tydsperiode en breë tema, maar op heeltemal ‘n ander manier. En stylisties kan die twee flieks geensins met mekaar vergelyk word nie. Kanarie is ʼn musiekblyspel, hetsy met sterk dramatiese oomblikke wat pertinente vrae vra. Moffie het ʼn estetiese benadering met ʼn stadige-tempo wat my herinner aan die Franse kunsflieks wat in my hoërskooldae by Cinema Nouveau in Brooklyn gedraai het.

Nicholas worstel om homself te vind – in ʼn giftige weermagomgewing waar “manwees” beteken om nié gay, of selfs enigsins ánders te wees nie. Intussen voer elkeen van die karakters hul eie stryd, maar dit bly nie net by die figuurlike nie. Dit is tog die grensoorlog en ons sien hoe die jong mans loopgrawe grawe, natreën en op die vyand skiet. Só word jy meegsleur in ʼn maalstroom van weermag-ervarings wat herinner aan Darrel Roodt se rolprente uit die tagtigerjare.

Ten spyte van vele komiese tonele, laat Hermanus jou nie eintlik toe om te ontspan nie. Jy as kyker moet saam met die jong mans stoei deur die maande van diensplig, wat nie net deur spanning gekenmerk word nie, maar ook deur die vervelige dae by die weermagbasis. Tog is daar ook ‘n teerheid waarmee hy dit benader, en ek het innige meegevoel vir al die karakters begin koester, selfs diegene wat as bombasties uitgebeeld is. Die weermag het hulle tog gevorm, en hoe anders sou hulle persoonlikhede nie dalk gewees het as hulle nie hul vormingsjare hier deurgebring het nie. Al hierdie vrae het by my opgekom terwyl ek die rolprent gekyk het, sonder dat dit in die dialoog genoem is. Want anders as baie ander rolprente, wil Moffie jou laat vóél, sonder om vir jou voor te sê. Jy lees die troepe se gevoelens in dít wat vriende (en selfs vyande) nié vir mekaar sê nie, en in hul kyke wat boekdele spreek.

Brümmer, wat nou sy heil in Londen gaan soek, herinner my aan ‘n jong Gavin Hood, wat binnekort die wêreld aan sy voete gaan hê. Tog is dit sy platoniese vriend in die rolprent, Sachs, wat by my bly spook. Wat het van hom geword? Almal het die heeltyd vir hom gevra of hy “okay” is – maar hierdie “setup” het nooit ʼn “pay-off” gehad nie. Moet ek daarin lees dat hy uiteindelik nie “okay” was nie? Dat hy homself of ander seergemaak het of selfs homself miskien tot selfdood gewend het? Dit is een van die vele vrae wat die rolprent onbeantwoord laat en wat my telkemale tydens die kyk daarvan laat kopkrap het. Dit is my enigste kritiek op die prent, dat ek nou en dan nie die kloutjie by die oor kon sit nie.

Die karakters se broederskap en kameraderie (wat ek ook in Kanarie ervaar het) is vir my ʼn riem onder die hart. Hoe hierdie jong mans ʼn band kon vorm in geharde omstandighede – en mekaar se menslikheid kon raaksien. Dít is wat my nou nog bybly van die rolprent en dààrvoor verdien die ensemble-rolverdeling die hoogste lof.

“Moffie” kry dit reg om, soos sy kru-titel, in die kyker se gesig te spoeg. Dis ʼn harde woord wat ontwerp is om die ontvanger daarvan te straf maar terselftertyd ook ʼn triomfantlike kreet waarmee die hoofkarakter hierdie brandmerk met trots kan dra en uitbasuin: Ek is ja, ek is.

Inligting

}

Speeltyd

103 min

i

Teks & Regie

Oliver Hermanus, Jack Sidey | Oliver Hermanus

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

18 D L N P S V

Akteurs

Kai Luke Brummer, Ryan de Villiers, Matthew Vey, Hilton Pelser, Stefan Vermaak, Matt Ashwell, Rikus Terblanche en Martin Munro

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring