Ellen, die Ellen Pakkies Storie – Die waarheid tref jou soos ’n vuishou | Bioskoop

Ellen, die Ellen Pakkies Storie

Die waarheid tref jou soos ’n vuishou
Film

Film

Info

Teks: Amy Jephta
Regie: Daryne Joshua
Met: Jill Levenberg, Jarrid Geduld, Elton Landrew, Clint Brink, Kay Smith, Ilse Klink en Russel Savadier

Speeltyd: 123 min

Ouderdomsbeperking: 16 T

Dee Theart

Dee Theart

Artikel Skrywer

Dee Theart is ’n veelsydige vermaaklikheids- en mediaslaaf. Haar kwalifikasies sluit ’n BDram-graad en ’n nagraadse kwalifikasie in Vertaling en Redigering in. Sy is die gesig en stem by Silverstar Casino as MC. Verder is sy is ook passievol oor stemwerk en toneelspel en pak gereeld projekte in hierdie velde aan. Lees Meer

Die Kaapse Vlakte is ’n gedeelte van ons land wat oor die algemeen met oogklappe aan byskou word; so vanaf ’n gemaklike afstand. ’n Mens hoor in die media van die armoede, misdaad, bendegeweld en natuurlik dwelmmisbruik, maar dis asof ons nie wíl sien en nie wíl hoor nie. Dit gaan mos goed hier by ons. Die storie van Ellen Pakkies, ’n bruin vrou van Lavender Hill wat in ’n veelbesproke hofsaak betrokke was, het wêreldwyd opslae gemaak in 2007 en eindelik kan ons nou ’n intieme blik van haar lewe kry.

Ellen (vertolk deur Jill Levenberg) is ’n gewone vrou van Lavender Hill wat ’n eenvoudige bestaan as huishulp maak. Sy is ’n gelowig, ’n goeie eggenoot en liefdevolle ma. Maar dan weens ’n sameloop van omstandighede raak haar jongste seun, Abie (vertolk deur Jarrid Geduld), vasgevang in ’n dwelmnes, so reg onder haar neus. Hoe gebeur so iets? Wat staan ’n ma te doen? En wat is die gevolge? Dis die vrae wat Ellen, die Ellen Pakkies Storie poog om aan die kyker te vra, op die eerlikste manier moontlik. Want hierdie keer is dit nie ’n fiktiewe verhaal nie, dis gebaseer op die werklikheid, die harde werklikheid. En dit kan met jóú ook gebeur.

Die werklikheid tref ’n mens soos ’n vuishou. Die regisseur, Daryne Joshua (wat ook redelik onlangs ’n ander ware verhaal rolprent, Noem my Skollie, se regie behartig het) tref jou met skokbeeld na skokbeeld, so eerlik en ongesensord moontlik vasgevang deur kinematograaf, Zenn van Zyl. Skrywer, Amy Jephta, het die kykNET Silwerskermfees Toekenning vir Beste Teks ontvang en ’n mens verstaan hoekom. Sy is self ’n Kapenaar in murg en been en haar eie diep verstaan en omgee vir die gemeenskappe wat in die rolprent ten toon gestel word, skyn helder deur. Sy draai geen doekies om in die dialoog nie, so as jy skrik vir Kaapse-styl kwetsery, wees gewaarsku, maar weet ook dat dit die natuurlikste is as wat kan kom. Die redigeerder gebruik ook ’n meesterlike tydsverskuiwingstegniek tussen die hede en verlede om die kyker van begin tot einde vasgenael te hou.

Levenberg en Geduld vertolk die stormagtige verhouding tussen Ellen en haar seun, Abie, met oorgawe. Hierdie gesoute akteurs het binne-in hul karakters se velle geklim en as gevolg van hulle onverbeterde geloofwaardigheid, kan ’n mens goed verstaan waarom hulle met die Beste Akteur- en Beste Aktrise-toekennings by die Silwerskermfees weggestap het. ’n Mens kan nie help om empatie vir Ellen te kry en jouself in haar skoene te plaas soos die storie ontvou en meer besonderhede oor haar kinderjare na vore kom nie. Abie se vinnige agteruitgaan van vrolike jong seun tot ’n onherkenbare “monster”, laat ’n mens letterlik koud. Die gevolge van die dwelm, Tik, word deur Geduld in die mees brutale, realistiese wyse uitgebeeld. Sy gesig spreek boekdele van hoe hy agteruitgaan en homself verloor.

Hierdie twee akteurs se geweldadige tonele, sowel as die manipulasie tussen ma en haar dwelmverslaafde seun, word sonder ’n suikerlagie aan die kyker voorgehou. Ek het lanklaas op die plaaslike grootskerm sulke lewenstroue, toegewyde toneelspel gesien. Al die byspelers verdien ook applous, onder leiding van Joshua se wonderlike regie. Die feit dat hulle in die regte Ellen se huis in Dover Court in Lavender Hill verfilm het, asook in die Pollsmoor tronk, dra tot die afgehele kykerservaring by.

’n Mens kan nie met ’n Poker-gesig uit ’n vertoning van Ellen, die Ellen Pakkies Storie stap nie. Dis emosiebelaaid en laat jou besef daar is fout met die Suid-Afrikaanse samelewing. Nee, nie net met ons s’n nie, met die hele wêreld s’n. Die beskuldigde is eintlik die slagoffer. Iewers gaan iets moet verander. Die rolprent bied ’n noodkreet vir hulp. As iemand maar net wil luister.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar

Bitnami