Eksie Perfeksie

ʼn lawwe komedie wat jou sal laat cringe

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

Eksie Perfeksie is ʼn romantiese komedie waarin André (Pietie Beyers) saam met Dalene (Emma van Heyn) intrek net om te besef dat sy steeds bevriend is met al haar ekskêrels. Die fliek is geskryf en geregisseer deur Corné Koegelenberg (terloops – konsepkrediet aan Bibi Slippers) en vervaardig deur Swartberg Storiehandelaars en Black Gosling.

Die storie handel oor Dalene se patroon en hoe André daarvan probeer sin maak, en die deurlopende tema en vraag is of mens kan vriende bly met jou ekse. Daar is heelparty komiese oomblikke waartydens André van Dalene se ekse ontmoet – elkeen met sy eie geite en gevolge. Bekendes soos Bobby van Jaarsveld en Sean van Noordwyk is onder meer te siene as van haar vorige bemindes. Maar lê die probleem noodwendig net by Dalene? Ek dink die fliek se naam kon ook Eks’ie Perfeknie gewees het, aangesien ons gerus maar eerste die balk in ons eie oog kan raaksien.

Die twee hoofspelers was beide geloofwaarlik en kom, soos die regisseur dit bedoel het, as heel normale mense met alledaagse probleme voor. Ek is net nie so seker oor Bobby en Sean se karakters nie – daai “pecs” is baie ver van normaal vir die gemiddelde man.

Die klankbaan is hoofsaaklik deur Van Heyn, en is heel gepas vir die tonele, terwyl sekere redigeringsekwense ook met vernuf gedoen is. En as jy gedink het die woord Lesotho is net ʼn land, dink weer… al ooit gehoor van ʼn “safe word”? Laat my dink aan Fifty Shades of Grey! Ek het ook ʼn hele paar nuwe troetelnaampies wyser geword.

Met vele badkamerseks-tonele, sal ek in die toekoms my eie handreiniger saamvat voor ek weer ʼn restaurant se toilette gebruik (en dalk selfs ʼn “hazmat” pak dra), en dames, as julle gedink het julle is ʼn 8, dink weer… julle mag dalk ʼn 7 of ʼn 3 wees. En nee, nie uit 10 nie. Daar is toe al die tyd 8 tipe vroue. Watter een is jy?

Volgens Koegelenberg wou hulle “regtig ʼn belaglike komedie maak” en “probeer om ʼn balans te skep tussen ʼn goeie, ou, lekker liefdesverhaal en ʼn lawwe komedie wat jou sal laat cringe”, en met oorgenoeg onder-die-belt-grappies, en geen tekort aan vloek- en kraswoorde nie (hoofsaaklik tussen André se suster en haar nooi), het hulle dit reggekry. Musieksnitte soos Dis kak, maarit naai, wat glo ʼn “treffer” deur Van Pletzen is, gee ook ʼn goeie aanduiding van wat om te wagte te wees.

Eksie Perfeksie is lekker Vrydagaand-vermaak, soos ʼn vriendin dit beskryf het – let net op dat dit wel ʼn ouderdomsbeperking dra van 16 vir seks en taal – maar ná wat ek reeds hierbo genoem het, kom dit glad nie as ʼn skok nie.

So? Kan jy vriende bly met jou ekse? Kyk gerus die fliek en besluit self.

Inligting

}

Speeltyd

90 min

i

Teks & Regie

Corné Koegelenberg

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

16 S T

Akteurs

Pietie Beyers, Emma van Heyn, Bobby van Jaarsveld, Sean van Noordwyk, Maude Sandham en Cindy Swanepoel

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie