Eintlik Nogal Baie

om voor te leef

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

In dié rolprent uit die pen van Jarrod de Jong en Pieter Oosthuizen, word die jong strokiesboek-animeerder, Jay van Niekerk (gespeel deur André Lotter), se lewe tot stilstand geruk met die skielike dood van sy pa. Hy keer terug na George vir die begrafnis, waarna ’n bisarre verloop van sake ’n frats ontmoeting met die vreemde Ally (gespeel deur Marisa Drummond) tot gevolg het. Soos die noodlot dit wil hê, eindig die tweetjies op om die langpad terug Kaap toe saam aan te pak, waar hulle mekaar dan ook heelwat beter leer ken. Vonke spat en kort voor lank bevind Jay hom in die uiteindelike “skoonouers-ontmoet-posisie”. Selfs meer drama volg toe Ally se ekskêrel, (gespeel deur Zak Hendrikz) ontydig daar opdaag om nog meer olie op die vuur te gooi. ’n Uiteindelike ommekeer van gebeure laat die karakters (en die gehoor) besef hoe beide die lewe én die liefde, vir geen mens wag nie.

Eintlik Nogal Baie, met Jacques Brand in die regisseurstoel, het my alreeds vanuit die staanspoor ’n lekker gevoel gegee met ’n vars openingssekwens. Vinnige redigering, en kort, maar kragtige skote het die pas aangegee vir wat ek gevoel het die potensiaal het om die kyker op ’n onverwagse, maar heerlike nuwe vermaaklikheidstog te stuur. Ongelukkig verander dit net so vinnig en word tonele al langer, met ’n dun draaiboek en nie genoegsame karakterontwikkeling om ’n slimmer kyker tevrede te stel nie.

André Lotter as die hoofkarakter het beïndruk, alhoewel die eerste paar tonele tussen hom en Marisa Drummond ’n bietjie ongemaklik en geforseerd gevoel het. Dis eers toe die ys gebreek is en hulle vriendeliker teenoor mekaar raak, wat ek myself as kyker weer kon toelaat om die storie net te geniet. Ek voel tog dat die draaiboek baie hiermee te doen gehad het. Veral dele van Drummond en Hendrikz se teks het nie vir my heeltemal by hulle karakters gepas nie, en alhoewel beide van hulle veronderstel was om ‘n bietjie anders (en selfs komies) te wees, was die woordgebruik en -keuse steeds vir my vreemd. Dis hier waar ek voel dis soms beter as die akteurs sommige van die dialoog met hul eie woorde vervang, sodat die teks meer natuurlik kan vloei.

Heelwat tonele het te lank begin voel, terwyl nie genoeg gedoen is om werklik die verloop van tyd suksesvol aan die kyker oor te bring nie. ’n Sekwens waarin daar gewys word hoe Jay en Ally mekaar al hoe beter leer ken, totdat hy uiteindelik voor die skoonouers se deur te staan gekom het, het my laat voel asof hulle net vir ’n paar dae saam was, waarna dit nie baie realisties sou wees om al die ouers te ontmoet nie. In sommige tonele was die klankredigering nie oortuigend en realisties nie (byvoorbeeld waar Jay na sy selfoon soek wat onder die duvet lui, asook die kuier by Ally se ouers om die vuur waar sommige karakters nie reg geklink het wat die afstandsdimensie tussen mekaar betref het nie). Die beligting in veral sekere van die tonele wat binne-in die minibus en motors afspeel, was ook nie vir my realisties, of organies nie, en dit het gelyk asof te veel onnatuurlike ligte gebruik is, en/of weerkaatsers nie effektief aangewend is nie (byvoorbeeld ’n aandtoneel met maanskyn waar Ally en Jay in die motor sit en oor Kaapstad uitkyk). Ek moet ook net noem dat hoewel die gemiddelde fliekganger nooit regtig bly om die eindkrediete op die skerm te lees nie, het ek drie spel- of tikfoute gewaar wat my bietjie laat skaam kry het.

Daar was tog ook elemente wat baie goed gewerk het: die kinematografie was vanuit die boonste rakke en pragtige natuur- en omgewingstonele tussen George en die Kaap is wonderlik vasgevang met wye en lugskote. Soveel ander plaaslike films vergeet dat ons land en ligging so uniek en beeldskoon is, en wanneer jy dit reg benader kan landskote amper ’n hoofkarakter op sy eie word in ’n rolprent. Ek wonder tog hoekom daar besluit is op so ’n donker styl van kleurgradering, wat soms die hele film soos een lang toneel laat voel het – maar indien dit was om die depressiewe ondertoon van die film verder te versterk, het dit beslis daarin geslaag. Dit het my baie herinner aan die onlangse Batman vs Superman, waar die meeste resensente wêreldwyd ’n probleem gehad het met die donker, koue gevoel van die grys-blou gradering.

Liefdestonele tussen Jay en Ally was uiters smaakvol verfilm en alle emosionele oomblikke (waarvan daar ’n paar is) het gewerk. Dis hier waar regie, kamera, toneelspel, redigering en musiek werklik een geword het.

Wat die klankbaan betref was ek aangenaam verras met die keuse van oorspronklike Afrikaanse, Engelse en instrumentale musiek, wat alles plaaslik vervaardig is. Veral die bekende komponis, Mauritz Lotz, se werk was werklik treffend. Hier en daar het die Gladiator-tipe snitte my laat wonder of dit gepas was vir die spesifieke toneel, en veral in die era waarin ons leef (dalk sou dit beter werk vir ’n Europese storie en in ’n vorige eeu), maar ek voel tog dat dit wonderlik bygedra het tot die oorhoofse gevoel van die spesifieke tonele en dat dit verseker nóg ’n rede was om na die snesies te gryp.

Met Eintlik Nogal Baie bring die vervaardigers tog ’n storie na gehore wat die moeite werd is om te sien. Ek kan nie sê dat ek die einde verwag het nie, en hoewel die storie my met ’n swaar gemoed, eerder as ’n opgewekte een, uit die fliek laat stap het, het dit my laat wonder oor die lewe, en van die kortstondigheid én die verganklikheid daarvan, asook van die universele boodskap dat ons moet veg vir wat ons wil hê. Ek glo die algemene fliekganger wat na ’n nuwe plaaslike storie met ’n goeie dosis komedie, tragedie, romanse en spanning soek, sal Eintlik Nogal Baie terdeë geniet.

Inligting

}

Speeltyd

98 min

i

Teks & Regie

Pieter Oosthuizen, Jarrod de Jong | Jacques Brand

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

 10–12PG V

Akteurs

André Lötter, Marisa Drummond, Zak Hendrikz, Ashmund Martin, Elsabe Daneel, Anton Dekker, Susanne Beyers, Themsi Times, Hein De Vries

Sterre

3/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring