Dominee Tienie

Sterk tema, maar dalk net té prekerig?

Opsomming

Na sestien jaar as predikant van die Moedergemeente word Tienie Benade gekonfronteer met ’n geweldige daling in getalle en ’n moderne gemeenskap wat by die dag verander. Is daar nog ’n plek in hierdie wêreld vir predikante òf die kerk? Hy probeer sy bes om aan te pas en sin te maak van die veranderings maar in die proses vervreem hy sy vrou en kinders. Na ’n insident met ’n sterwende boemelaar bevind Tienie homself by ’n kruispad. Sal hy sy selfvertroue en die liefde van sy gesin kan terug wen en sal hy dapper genoeg wees om sy gemeente in ’n nuwe era in te lei? Gegrond op die toneelstuk deur Dana Snyman.

Resensie

Deur

J.W. Hurter

J.W Hurter meen dat Dominee Tienie sterk aanklank sal vind by kerkgangers, maar dat ander liefs verby moet hou.

Net duskant die mees Noordelike punt van Voortrekker Straat in Pretoria woon Dominee. Tienie Benade (Frank Opperman) in N.G. Wonderboom se pastorie. Hy is ’n man van roetine. Soggens trek hy sy grys sweetpak en wit tekkies aan voor hy gaan draf tot daar waar hy asem kan skep op ’n rusbank in die parkie. Daarna, stoom hy terug huiswaarts om sy vrou, Ester (Henrietta Gryffenberg), met ’n koppie koffie in die bed wakker te maak. Dit is Sondag. Hy maak reg om agter die kansel te staan, maar nie alvorens hy die gemeente by die kerkdeur welkom geheet het nie. Die gemeente se afkondigings word voorgelees waarna die diens geopen word met skriflesing en gebed, gevolg deur lofsang. Dinge verloop egter nie presies soos op elke voorafgaande Sondag nie en die gehoor besef vinnig dat Dominee Tienie een is wat op sy voete moet kan dink, al is sy fut uit.

Na die afloop van ’n reeks onvoorspelbare gebeure word dit duidelik dat hy gefrustreerd is met die huidige stand van sake in die tradisionele N.G. Kerk. Frustrasies wat aangewakker word deur oudmodiese gemeentelede wat óf met die een voet in die graf staan, óf die kollektebord vol hou. Hy besluit egter dat die tyd vir verandering gekom het en neem die reg in eie hande om verandering teweeg te bring.

Met die eerste werklike geleentheid vir ’n kinematiese indrukwekkende skoot, word die gehoor gedwing om tevrede te wees met ’n ongemaklike kerktoring wat nie op die silwerdoek pas nie. Alhoewel die kinematografie beduidend verbeter soos die film draai, trek die gebruik van goedkoop pruike en klankbaansnitte wat oorkom asof dit ter nagedagte ingegooi is, die aandag af.

Gelukkig vir Frank Opperman, word sy rolspel verhef deur die gebruik van akteurs in Kleiner rolle wat oorkom asof hulle ’n redenaarstoespraak voor ’n paneel beoordelaars opsê. Dit is ook hierdie akteurs wat die aandag van Opperman se tiperende postuur en gesiguitdrukkings aftrek. Dit is dan wanneer mens wonder of die Afrikaans filmbedryf, nes Dominee Tienie, ook in ’n roetine vasgevang is? Dit is nou ’n roetine van middelmatige produksies. Daardie wonder word onmiddelik stop gesit wanneer Henrietta Gryffenberg, sonder huiwering, in die kalklig tree en haar karakter so toegewyd vertolk dat ’n mens wens vir ’n film getitel “Mevrou Dominee Tienie”. Dieselfde gebeur in die enkele toneel waarin Deon Lotz ʼn aangrypende vertolking lewer.

Mens kan nie help om te wonder of Dana Snyman (op wie se drama die draaiboek geskoei is) nie dalk bietjie meer as net inspirasie by Kirsten Schell se “The Turquoise Table” gekry het nie, siende dat die uitgangspunte van albei hierdie skrywers ewe eksentriek en eenders is.

Waarin die film wel slaag is om ’n tematiese sienswyse aan te spreek wat steeds meestal onveranderd in die N.G. Kerk gebly het. Dit daag kykers uit om meer ontvanklik te wees en stede daarvan om vas te klou aan die nostalgie van “die goeie ou dae”. Tog steun die rolprent self sterk op die einste nostalgie, in plaas daarvan om die gehoor uit hul gemaksone te druk. Dit is tog slegs wanneer mens met ongemak gekonfronteer word wat introspeksie tot op die diepste vlak plaasvind, en persoonlike groei dan volg. Daardie ongemak is verruil vir “slap-stick” komedie, sodat die gehoor tussen die dramatiese oomblikke kan ontspan.

Nou ja. Die koeël is deur die kerk en Rome brand ‘wyl Nero viool speel. Dominee Tienie trek weer sy grys sweetpak en wit tekkies aan en maak weer sy vrou wakker met met ’n koppie koffie voor hy sy dag begin. Die roetine bly staan. Die film is komies, trots Afrikaans, redelik vermaaklik en met tye eg. Daar is geen twyfel aan die opregtheid waarmee dit aangepak is nie. Maar ek het meer verwag.

Inligting

}

Speeltyd

97 min

i

Teks & Regie

Sallas de Jager

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

10–12PG L

Akteurs

Frank Opperman, Henrietta Gryffenberg, Thapelo Makoena, Carel Nel, Regardt Van Den Bergh, Paul Eilers, Annette Engelbrecht, Luan Jacobs, Izel Bezuidenhout, Deon Lotz

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring