Dis Wie Jy Ken

Van alma maters tot Hollywoodkollegas

Nuus

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

“Dit is absoluut Neill Blomkamp en District 9 wat vir my die voet in die deur in Los Angeles en uiteindelik Hollywood gegee het,” gesels Sharlto Copley telefonies vanuit Los Angeles met Bioskoop se Anna-Marie Jansen van Vuuren.

Copley sê toe hy 19-jaar oud was het hy ‘n maatskappy begin waarmee hy ‘n TV-stasie vestig. Vyf jaar later, in 1998, het die consortium Midi TV die uitsaai-lisensie bekom om e-TV te begin. Dus was Copley een van die stigterslede van dié kanaal. “Neill en ek was in dieselfde skool, maar hy was ‘n paar jaar jonger as ek, so ek was besig om aan die voorstel vir die e-TV kanaal te werk, toe een van die onderwysers my van hom vertel het.” Volgens Copley het Blomkamp toe reeds kort animasie rolprente opgetower. “En ek het vir hom my kort prente gewys, hy’t vir my sý flieks gewys, en ons het maats geword. Maar toe trek hy en sy familie Vancouver toe…”

Tog het Copley en Blomkamp steeds kontak gehou, en was Copley een van die eerste mense wat Blomkamp gekontak het toe hy sy kort fliek Alive in Joburg, in Johannesburg wou verfilm het. Dis die kort fliek waarop District 9 – wat uiteindelik vir vier Oscars benoem is – gebasseer is. “En ek het net nooit weer teruggekyk nie,” sê Copley.

Blomkamp het al baie rolprente gemaak sedert District 9, maar hoekom keer hy altyd weer terug Suid-Afrika toe? “Daar’s net so baie dinge wat anders is vir hom hier,” peins Copley. “Die hele politieke omgewing is iets waarin hy baie geïnteresseerd is, soos in District 9. Met Chappie het jy hierdie sosiale kommentaar in die fliek, en die vraag wat by my opgekom het is: as die dag kom, wat mense hierdie artificial intelligence robots gaan maak, gaan daar nog gangsters wees? Gaan daar nog mense wees wat in slums bly, en nie skoon water het nie, en sulke goed.” Luister klankgreep. “En dis net ‘n interessante plek om daardie vrae te vra – in Johannesburg. Want jy het hierdie eerste wêreld en derde wêreld elemente in ons land.”

Hierdie is ‘n uittreksel uit ‘n onderhoud wat die eerste keer vir Monitor, die aktualiteitsprogram op RSG, gedoen is. Die volledige onderhoud kan op dié radio stasie se webblad geluister word.

Word deel van die vriendekring