Dis Koue Kos, Skat

“Wraak is ’n dis wat liefs koud bedien moet word.”

Resensie

Deur

Gerhard Ehlers

Met: Anna-Mart van der Merwe, Deon Lotz, Frank Opperman, Angelique Gerber en Elsabé Zietsman

 

Clara Marx smul aan ’n stukkie dekadente nagereg wat op die punt van haar vurk balanseer. Sy bring dit nader aan haar bloedrooi lippe terwyl haar oë stadig toeval… wraak is soet. Oorkant die tafel sit Bernard angstig en half verlore. “Clara, bly nog ’n bietjie by my – ek is alleen”, soebat hy. “Toetsiens, Bernard Marks”, antwoord Clara triomfantlik, en verlaat die restaurant met ’n versteekte glimlag en ’n wip in haar stap.

Marita van der Vyver het geen bekendstelling in die Afrikaanse literatuur nodig nie. Met titels soos Griet Skryf ’n Sprokie, Die Blou van Onthou en Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom, is hierdie skrywer, wat al jare lank in Provence in Frankryk woon, se ink nog lank nie aan die opdroog nie. Dis Koue Kos, Skat is ’n briefroman uit Van der Vyver se pen en ook die tweede boek wat vir die Silwerskermfees verwerk is (Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom was die eerste in 2010). Die storie volg vir Clara Marks (Anna-Mart van der Merwe), ’n koskenner en skrywer van ’n populêre Johannesburgse tydskrif. Clara is in die proses om van haar man, Bernard (Deon Lotz), te skei – dit nadat hy haar met ’n werkskollega en veel jonger nooi, Anaïs (Angelique Gerber), verneuk het. Clara is ’n warboel van emosies, vrae en onsekerhede. Sy besluit om sak en pak met haar twee kinders en hulle geliefde pug, Choclit, Kaap toe te trek. Haar goeie vriendin, Minette (Elsabé Zietsman), spoor haar aan om die nuwe, opwindende hoofstuk in haar lewe met vurige passie en moed aan te durf.

Anna-Mart se naam sal altyd sinoniem met talent wees. Kykers sal verras wees om te sien dat Anna-Mart in die rol van Clara nie skroom om byvoorbeeld die F-woord te gebruik, of om die een na die ander sigaret op te steek terwyl sy ‘n glas Merlot afsluk nie. Sy gee gestalte aan Clara, ’n fylbare karakter met seer en smart en ’n hunkering na aanvaarding en om weer beheer oor haar lewe te kry. Daar is skreeusnaakse tonele, en alhoewel sekere bykarakters effens geforseerd voorkom, soos die gay student in Clara se kookklas, is ander spelers, soos Ari (Frank Opperman) verfrissend en gemaklik in hulle karakter se vel. Deon Lotz as Bernard is die karakter wat kykers met ’n passie sal haat (veral vroulike kykers). Lotz het al menigmaal met sy rolle bewys hy kan enige karakter se skoene volstaan en met Bernard Marks is dit geen uitsondering nie. Die kamerawerk is knap, maar dis die redigering wat uitstaan met ’n styl wat vloei en in voeling met die karakters se situasies is. Die kookwenke wat op die skerm verskyn en subtiel sinspeel op wat in die volgende sekwens gaan afspeel, werk goed en is nie te vermoeiend nie.

Dis Koue Kos, Skat herrinner aan flieks soos Bridget Jones’s Diary en die kook-komedie, Julie & Julia. Die kombinasie van Clara se kookvernuf, obsessie met Operamusiek en skommelende emosies (en hormone!), sowel as Anna-Mart en Deon Lotz in die hoofrolle, maak van hierdie film als behalwe ’n koue dis.

Inligting

}

Speeltyd

106 min

i

Teks & Regie

Marita van der Vyver, Etienne Fourie | Etienne Fourie

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

13 L

Akteurs

Anna-Mart van der Merwe, Deon Lotz, Elzabe Zietsman, Frank Opperman, Angelique Gerber, Deanre Reiners, Zonika de Vries

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring