Die Stropers

‘n Kunsfilm wat jou van alle emosie stroop

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

Eenvoudig, eerlik, moeilik, diep en roerend. Ek moes Die Stropers minstens drie maal kyk voor ek hierdie rensensie kon aanpak. Elke slag met nuwe notas. My finale uitspraak? Die Stropers is ‘n kunsfilm – in elke sin van die woord.

Volgens verskeie internetbronne word ‘n kunsfilm onder meer as die volgende beskryf: anders as die tipiese Hollywood fliek, vertel kunsfilms dikwels meer kreatiewe of ongewone (selfs kontroversiële of hartseer) stories, het dikwels ‘n hartseer einde, is soms moeilik om te verstaan (omdat dit oor mense se gevoelens, gedagtes of drome mag handel), is tipies ‘n meer ernstige en onafhanklike film wat gemik is op ‘n nismark, eerder as die massas.

Die Stropers is ‘n storie wat opsetlik stadig ontvou en die kyker genoeg tyd gee om sy/haar eie opinie te vorm oor wat besig is om te gebeur, en wat die betekenis daarvan is/kan wees – al die pad tot die heel laaste skoot.

Dit volg die lewe van Janno (puik gespeel deur Brent Vermeulen), ‘n saggeaarde, adolesente seun wat deur ‘n baie godsdienstige, Afrikaanse plaasgesin aangeneem en grootgemaak word. Hy het ook drie veel jonger, aangenome sussies, en is dus, naas sy pa, die enigste manlike figuur in die huishouding en word geleer (en voor gebid) om soos wat algemeen van ‘n tipiese boerseun verwag word, ‘n regte man (met alles wat daarmee gepaard gaan) te wees en te word. Hiermee saam het hy vanselfsprekend ook die verwagting dat hy eendag die plaas sal erf…

Maar sy lewe tuimel emosioneel ineen wanneer sy ma, Marie (vertolk deur Juliana Venter) onverwags nog ‘n seun van dieselfde ouderdom by die plaashuis aanbring. Pieter (netso oortuigend vertolk deur Alex van Dyk) is ‘n dwelmverslaafde straatkind en seun van ‘n prostituut wat nou onder meer aan onttrekingsimptome lei. Hulle wêrelde kon nie meer uiteenlopend gewees het nie, en nou dreig die koms van die nuweling om Janno s’n totaal en al omver te gooi. Pieter is, ten spyte van sy agtergrond, skynbaar baie meer selfversekerd as Janno, en vir die res van die fliek sien ons hoe die twee in ‘n tipe magspel gewikkel word, waar elkeen op hul eie manier op die ander se swakpunte speel in ‘n poging om as die beter man gesien en aanvaar te word. Die gevolg hiervan is dat Janno geforseer word om sy lewe tot dusver in oënskou te neem, sy innerlike duiwels in die gesig te staar (onder andere sy homoseksuele gevoelens), en sy plek op die plaas (en die wêreld) te heroorweeg, want die kanse is goed dat hy kort voor lank as die regmatige erfgenaam van die plaas en die hele familie-nalatenskap onttroon kan word.

Op ‘n tegniese vlak is daar niks wat gepla het nie. Die musiek (deur die Franse duo, Evgueni & Sacha Galperine) was uniek, amper onheilspellend, maar met ‘n slim, neutrale aanslag, sodat die kyker self moet besluit wat om daarvan te maak. Niks word vir jou voorgesê of gevoer nie. Die kamerawerk (deur Poolse kinematograaf, Michal Englert) was puik, met interessante hoeke en veral pragtige, wye skote van die uitgestrekte, oop,en plat landskap waarvoor die Vrystaat so bekend is. Dit gee mens spasie om als behoorlik in te neem en te verwerk.

Ek is beïndruk met die hele rolverdeling, maar veral met Vermeulen en Van Dyk wat onderskeidelik Janno en Pieter geword het. Selfs die jonger kinders was (anders as wat so dikwels die geval is met Suid-Afrikaanse films) baie geloofwaardig. Hier en daar was ma, Marie, se register egter ‘n bietjie onnatuurlik en oordrewe, maar die teks mag dalk te blaam wees.

Op ‘n ander vlak voel ek die rol van Janno se oupa (Danny Keogh), hoewel hy net in ‘n paar kort tonele te sien was, het tog die kwessie rondom plaasbesetting en herverdeling van grond uitgelig. In die film het hy Janno met Pieter verwar (of het hy?), maar die essensie daarvan was dat hy, soos die stoere en hardkoppige, maar trotse boer wat hy is, dit duidelik wou maak dat ‘n buitestaander nóóit sy grond sou kry nie – of altans nie as hy iets daaraan kan doen nie. Grond is veral vir die afgelope twee dekades al ‘n warm besprekingspunt, maar soos daar altyd twee kante van ‘n saak is, is dit vir die Afrikaner boer ‘n baie teer punt omdat dit nie net nog ‘n werk is nie, maar ‘n leefwyse. Van die grond, vir die grond, en terug na die grond. Dit het geslagte (en baie bloed en sweet) gevat om op te bou en daar is niks erger as die gedagte dat dit byna oornag afgeneem en/of oorgevat kan word deur iemand wat nie bloed is nie (in elke sin van die woord).

My enigste kritiek is, glo dit of nie, met die Engelse onderskrifte. Hoewel mens verstaan dat taal nie altyd 100% letterlik vertaal kan word nie, het die betekenis van sekere woorde en frases tog heeltemal verander met verkeerde vertalings. En hoewel dit dalk nie só belangrik is nie (veral nie vir die algemene kyker nie), voel ek dis irriterend en onprofessioneel. “Ek het my kinders verloor” teenoor “I’m losing my children”, “Elke dag vra ek myself” teenoor “Every night I ask myself” en “Net vir ‘n paar weke” teenoor “for a few days”.

Die Stropers is ‘n film met verskeie lae, en afhangend van hoe diep jy daarna wil kyk, kan hierdie ui afgepeul word tot jy van alle emosie getap is. Skrywer-regisseur, Etienne Kallos, het voorwaar ‘n meesterstuk opgetower wat alreeds verskeie internasionale toekennings en ‘n staande toejuiging in 2018 by die Cannes Filmfees ontvang het.

Alhoewel dit ‘n kunsfilm is, gaan ek nie enige waarskuwings gee nie, behalwe om te sê dat dit soms goed is om dit buite jou gemaksone te waag – jy mag dalk net iets wysraak.

Inligting

}

Speeltyd

107 min

i

Teks & Regie

Etienne Kallos

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 D L P V

Akteurs

Brent Vermeulen, Alex Van Dyk, Juliana Venter, Morne Visser

Sterre

5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring