Die Seemeeu

Almal se vlerke is geknip

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

Die Seemeeu is ‘n Afrikaanse vertaling en verwerking van die oorspronklike 1895 Russiese toneelstuk (The Seagull) deur Anton Chekhov. Alhoewel Chekhov dit eintlik as ‘n komedie geskryf het, het regisseur, Konstantin Stanislavski, se fokus op die konsep van subteks in 1898 glo veroorsaak dat dit eerder as ‘n tragedie beskou is. Oor die laaste honderd jaar is hierdie produksie al telke male opgevoer en verwerk, onder meer vir die verhoog, silwerdoek, as ‘n opera, ballet, en selfs ‘n musiekblyspel.

Die regisseur Christiaan Olwagen (Johnny is nie Dood nie, Kanarie), wat ook alreeds dié stuk vroeër vir die verhoog verwerk het, het dit met sy mees onlangse aanslag in ‘n rolprent omskep. Hierin verplaas hy die storie na Suid-Afrika in die 1990’s. Met klassieke musiek wat grootliks vir die klankbaan sorg, en karakters wat maklik herken word (veral oor hulle Russiese name so gemaklik na Afrikaans vertaal kon word), het Olwagen daarin geslaag om die essensie van die oorspronklike stuk te behou.

Die ensemble rolverdeling vertolk uiteenlopende karakters: die teaterdiva, Irene (Sandra Prinsloo), haar sieklike broer, Piet (Marius Weyers), haar seun, Konstant (Albert Pretorius), die aspirantaktrise, Nina (Rolanda Marais), Masha (Cintaine Schutte), Dr. Eugene (Gerben Kamper), die plaasbestuurder, Elias (Deon Lotz), sy vrou, Paulina (Martelize Kolver), die onderwyser, Simon (Geon Nel) en die bekende skrywer, Boors (Alyzzander Fourie).

Die storie is dramaties, selfs depressief, en hoewel daar komiese oomblikke is, neig dit beslis meer na ‘n tragedie as ‘n komedie. Die Seemeeu speel op ‘n plaas in die Kaap af, waar al hierdie verskillende karakters bymekaar kom; sommige vir vakansie, en ander bloot omdat hulle daar, of in die direkte omgewing, bly. Hoewel daar fisies baie spasie is, word die karakters steeds gedwing om met hulle innerlike monsters te worstel. Daar is nie kans vir ontsnap nie, totdat die plaasbestuurder, wat blyk om die kuiergaste se enigste hoop op ‘n rygeleentheid te wees nie, gereed is om hulle weer terug te neem.

Elke karakter worstel met ‘n magdom probleme – hulle sê mos dat probleme nie diskrimineer nie. Mense is afgunstig op mekaar, twyfel in hulself, is spyt oor hul lewenskeuses, is kwaad, sielsongelukkig, sensitief, dramaties en neuroties. Van die filosofiese dokter wat voel dat hy na ‘n suksesvolle loopbaan steeds nie genoeg vir sy oudag gespaar het nie, tot die selfbehepte teaterdiva wat steeds verwag dat almal die grond waarop sy loop moet aanbid, tot haar seun wat hard probeer om sy ma se goedkeuring en guns te wen. Daar is ook liefdesdriehoeke, ontrouheid, jaloesie, pogings tot selfmoord en meer. ‘n Mens kan eintlik nie help om die hele spul jammer te kry nie, maar terselfdertyd laat dit jou as kyker ook diep nadink oor jou eie lewe, die betekenis daarvan, hoeveel jy al vermag het, waarheen jy oppad is, en of als die moeite werd was.

Met die verloop van die film sien jy hoe die karakters wens om te hê wat ander het, maar dat dit hulle steeds nie gelukkig maak nadat hulle dit (tot ‘n sekere mate) kry nie. Ander herken dit weer nie wanneer dit hulle reguit in die oë staar nie. En so hou die wrede kringloop net aan en aan. Die kamerawerk is puik om hierdie temas te versterk, en dit vloei soos een lang, aaneenhoudende skoot tussen die aksie, drama en die talent. Ek wil regtig niemand uitsonder nie, omdat al die akteurs hulle rolle so puik vertolk. Selfs die kleurpalet het uitstekend gewerk met die kontras tussen die sagte, ligte kleure van die natuur en agtergrond, teenoor die karakters se harde rooie en swart, wat so baie van hul persoonlikhede verklap.

Ek het nog nooit die oorspronklike verhoogstuk, of enige van die ander verwerkings daarvan gesien nie, maar Olwagen het my beide beïndruk en geboei met syne. Teen die einde van die fliek was daar veral twee lyne uit die dialoog wat ‘n sterk indruk gelaat het: “Ons doen dit nie vir hulle nie” en “Dit gaan oor mense, en lewe, en liefde”.

Inligting

}

Speeltyd

127 min

i

Teks & Regie

Saartjie Botha, Christiaan Olwagen | Christiaan Olwagen

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

16 D IAT L S V

Akteurs

Saartjie Botha, Christiaan Olwagen en Anton Chekhov Met: Sandra Prinsloo, Marius Meyers, Albert Pretorius, Rolanda Marais, Deon Lotz, Martelize Kolver, Cintaine Schutte, Gerben Kamper, Geon Nel en Alyzzander Fourie

Sterre

4.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring