Die Rebellie van Lafras Verwey

’n Sielvolle meesterstuk met revolusionêre eenvoud

Resensie

Deur

Gerhard Ehlers

Die Wonderwerker in 2012 was Katinka Heyns se laaste film. Amper vyf jaar later verskyn haar naam weer op die skerm, maar hierdie keer as kreatiewe vervaardiger met haar seun, Simon Barnard, wat sy buiging as regisseur van sy eerste vollengte rolprent maak. Die teaterweergawe van Die Rebellie van Lafras Verwey is uit die pen van die ontslape meester skrywer, Chris Barnard, en is die eerste keer in 1975 opgevoer. Chris se seun, Simon, tree as medeskrywer van die rolprent se draaiboek op, en was spesifiek vir die modernisering van die teks verantwoordelik.

Die karakter en protagonis, Lafras Verwey, bevind homself al 30 jaar in die staatsdiens. Hy is ’n dromer wat gedurig in sy eie verbeelding verdwyn. Hy smag na ’n wêreld sonder misdaad, korrupsie en ongeregtigheid. Lafras verbeel hom gedurig hoe hy sy baas en poetsbakkers terregstel. Hy besluit om hom as posbode by ’n geheime ondergrondse agentskap aan te sluit om ongemerkte pakkies by spesifieke adresse af te gee. Lafras beskou sy werk as uiters belangrik in die stryd vir langverwagte verandering en vernuwing. Hy maak homself gereed vir die groot rebellie wanneer hy saam met die netwerk gaan toeslaan en als wat sleg is omverwerp.

Dan kom Petra in Lafras se lewe. Petra is ’n hoogswanger, bruin vrou wat op ’n dag vir Lafras om hulp vra wanneer sy geen geld vir vervoer het nie. Dis nie lank voordat daar ’n spesiale vriendskapsband tussen haar en Lafras vorm nie. Lafras deel sy drome en geheime met Petra en begin haar en haar ongebore baba as ’n baken van hoop sien; iets om voor te baklei. Sy gedagtewêreld tree met elke toneel sterker na vore waar hy homself as gesalueerde sien. Soms terwyl hy deur die strate van Pretoria op sy trapfiets ry, hoor hy ’n simfonie wat hy besig is om te derigeer.

Tobie Cronjé wat die oorspronklike rol as jong akteur in die teaterstuk gespeel het, vertel met egte waardering hoe Chris voor sy afsterwe besluit het om Lafras se karakter as ’n ouer man te herskryf en Tobie die geleentheid gebied is om weer die titelrol te speel. Tobie word nie verniet as een van die groot geeste in ons bedryf beskryf nie, en as Lafras beaam en oortref hy selfs hierdie stelling.

Tegnies is Die Rebellie van Lafras Verwey ’n fees vir die sintuie. Atmosfeer is lank terug met soveel insig, vakmanskap en presisie op die grootskerm vasgevang en die klankbaan laat die kyker in ’n beswyming van fantasie en harde realiteit, wat soos twee reuse branders teen mekaar breek. Willie Nel se kamerawerk en beligting kan met enige internasionale produksie vergelyk word en die redigering is ritmies en deeglik deurdink. Simon bewys dat hy die intuitiewe bewussyn as regisseur verstaan en spelers soos Tobie tot hulle volle potensiaal kan lei. Wanneer die eindtitels egter oor die skerm rol, is dit die subteks en versteekte tema wat deur die rolprent verweef is, wat jou kop laat maal. Met die oormaat Afrikaanse rolprente wat deesdae die lig sien, is dit ’n groot verligting om ‘n rolprent te erváár eerder as net te sien.

Die Rebellie van Lafras Verwey is ’n rolprent wat nie skroom om ongemaklike vrae oor ons samelewing, sowel as die wêreld waarin ons onsself bevind, te vra nie. Die rolprent slaag hierin sonder om polities te raak. Ek hoop van harte dat nie net ’n geselekteerde gehoor die amper profetiese woord en daad van Lafras Verwey sal ervaar nie, omdat die boodskap van die film werklik tot ’n universele gehoor spreek. Doen jouself ’n guns, vat ’n kans en gaan beleef Die Rebellie van Lafras Verwey. Wie weet, jy stap dalk as iemand anders by die teater uit… ek weet ek het.

Inligting

}

Speeltyd

110 min

i

Teks & Regie

Chris Barnard, Simon Barnard | Simon Barnard

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

 10–12PG V

Akteurs

Tobie Cronjé, Chantell Phillipus, Neels van Jaarsveld, Albert Pretorius en Cobus Visser

Sterre

4.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring